Sonder definisie bestaan dit nie

  • 2

Dit het ivoortoring-administrateurs verskeie dekades geneem om tot die slotsom te kom dat die klassifikasie van burgers in verskillende “ras”-kategorieë illegitiem en prakties onrealiseerbaar is. Vir enige wanpraktyk om te werk, vir enige leuen om geglo te word, het mens mense nodig wat dit ondersteun en onderskraag.

Die grootste probleem (uitdaging?) waarvoor registrateurs, swart bemagtigingsambassadeurs en kampuskokkedore te staan kom, is die wyse waarop sosio-ekonomiese integrasie en genetiese transfusie al hoe sneller lei tot ’n potjiekos van nie-rassigheid en ’n absolute onvermoë om die grense en wesenlike verskille tussen die “verskillende rasse” duidelik af te baken. Indien mens die Bevolkingsregistrasiewet van 1950 van die tafel af vee, bly daar geen riglyn oor (behalwe vrese en onsekerhede) waarop “ras”-aktiviste hul illusie kan baseer nie.

“Ras” was, is en sal ’n droom bly, opgetower deur een of ander superioriteitsbehepte. Al word ultra-onwetenskaplikheid, ondefinieerbaarheid en Ariese suiwerheidsgedrewenheid as ’n onrealistiese onwerklikheid deur alle werklike nie-rassiges verwerp met die minagting wat dit verdien, hang dit egter nog soos ’n betonblok om die nekke en op die skouers van almal wat hul geloof daarop vestig. Sogenaamde gelowiges, agnostici en ateïste hou nie van hierdie stelling nie, maar “ras” word tot ’n god verhef as mens daarin glo.

Die idee dat “ras” bestaan en al die komplikasies wat die aanbidding daarvan voortbring, is ’n massiewe struikelblok vir sosio-ekonomiese vooruitgang, versoening en nasiebou. Indien die konsep egter nie wetenskaplik gedefinieer kan word nie, bestaan daar geen rede meer waarom dit toegelaat (moet) word om verdere verdeling te veroorsaak nie.

Jacobus Faasen

  • 2

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Hoor, hoor, Jacobus Faasen!!! ... dra nou jou boodskap na die mag van die dag - die Helen Zilles' en Jakob Zumas' - en oortuig hulle om as die mag van die dag hul verantwoordelikheid eerste na te kom en van hul BBBEE en RA hatigheid en wraak op onskuldige burgers soos BLANKE/WIT Afrikaners en hul kinders, ontslae te raak ...

  • Is dit belangrik, ek meen nou of dit (ras) bestaan of nie?  Gestel nou ewe skielik is daar wel 'n wetenskaplike definisie as gevolg van die verhandeling van een of ander doktorale student aan, sê die UWK.  Gaan dit jou lewensuitkyk enigsins verander?  Jy gaan mos nog steeds jy wees, die wind gaan nog waai, die son skyn en alles.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top