Soms kry ek seer

  • 2

Prof Jaap Steyn se jongste publikasie heet: Ons gaan 'n taal maak en die subtitel verduidelik waaroor dit gaan: Afrikaans sedert die Patriot-jare. Die teks self beslaan 524 bladsye. Soos met sy ander publikasies hoop 'n mens dit sal die geesdrif vir ons taal aanwakker. 'n Onderhoud met Steyn, geskryf deur Charles Smith, word afgesluit met die vraag of Steyn al ooit 'n taalbul genoem is: “Nee. Maar ek is eerder ’n taalbul as ’n taaltollie. ’n Taaltollie is ’n ou wat as’t ware gekastreer is en niks doen nie. Gekastreer is deur Engels, ja. Of deur sy eie vrese.”

Miskien is dit die regte geleentheid om na 'n paar uitdrukking te kyk waar vertalings uit Engels ons taal benadeel. Vanselfsprekend is swak Afrikaans beter as niks, maar groter bewustheid kan dinge verbeter. Vanmiddag meld RSG in hulle verkeersnuus van 'n vragmotor wat sy vrag verloor het. Eintlik het die vrag afgeval.

Op die voorblad van die Saterdag-koerant lui die opskrif: W-Kaap se polisie 'op die agtervoet'. 'Op die verdediging' is vir my veel beter. 'n Ander opskrif beweer: 'Sy soort kry jy nie meer'. Dit is so dat die ontkenning in Afrikaans soms probleme oplewer, maar die dubbele ontkenning is 'n belangrike en mooi kenmerk van ons taal en meestal behoort ons die tweede 'nie' te gebruik.

Dan 'seer gekry'. As dit so is kry selfs 'n modderskerm van 'n motor seer as die eienaar nie reg in- of uittrek uit sy garage nie. 'n Motor het nie 'n senuweestelsel nie en moet nie vermenslik word nie. By ongelukke is daar 'n sterk neiging om te praat van mense wat 'seer gekry het'. 'n Mens wil dit nie regtig ontken nie, maar die punt is dat iemand wat 'n arm of ander liggaamsdeel gebreek het beseer is – dis waaroor dit eintlik gaan.

George Bekker

  • 2

Kommentaar

  • George, 

    Soos jy voel ek ook dat swak Afrikaans beter is as geen Afrikaans. En dankie tog dat Afrikaans se verskeie skakeringe vandag geakkommodeer word deur bv die SABC en KykNet, en tereg ook so. Daarom verbly dit my dat ook ons bruin taalgenote nou hul regmatige blootstelling by dié instansies kry. So verbreed ons mos die Afrikaanse taalgehoor en sprekers.

     Wat my egter ook laat "seerkry" is as mense wat van beter behoort te weet onsinnighede kwytraak soos bv Kobus Wiese wat aanhoudend op Supersport sê dat Span A 'n oorwinning "afgetrek" het oor Span B. Hy herhaal dit week na week. Oorwinning "behaal" of sommer net Span A het "gewen" teen Span B is seker nie grênd genoeg nie.

     Koerant-subs het natuurlik die probleem van spasie by die opskrifte (of koppe soos hulle dit noem). Daarom miskien die gebruik van "agtervoet" ipv "verdediging" en die uitlaat van die tweede "nie".

     Terloops ek sien dat, volgens die 2011 sensus, daar in SA 6.8 miljoen Afrikaans eerste-taalsprekers is teenoor die 4.8 miljoen Engels eerste-taalsprekers. Slegs Zoeloe (11.5m) en Xhosa (8.1m) word meer as Afrikaans by die huis gepraat.

  • George Bekker

    Dirk, dankie vir jou bydrae. Die getal mense wat Afrikaans as eerste taal praat is betekenisvol. As 'n mens die getal tweedetaal en derdetaal sprekers hierby voeg is dit heelwat miljoene. Onlangs het ek 'n skatting gesien – dit mag 20 miljoen wees, maar ek is nou nie seker nie. Dink nou skielik aan die Patrioters wat begin het om die plesier en lekker van Afrikaans praat te beklemtoon. Was onlangs weer by die Taalmonument en het onthou van al die negatiewe kommentare wat oor die jare gemaak is. As 'n mens egter die simboliek agter die monument verstaan is die besoek 'n belewenis.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top