Die afgelope week en ’n bietjie langer selfs, het my dag se werk vreeslik ingemeng met my tyd vir skryfgoeters se bedinkery. En in alle geval, is ons so geneig om oor die swaardra dinge te skryf, dat ek toe reken dat hierdie staaltjie uit my eerste studentejaar, êrens iemand sal laat glimlag …
Ons plaaslike ACSV-tak het die eerste vakansiekamp vir die jaar in Kleinmond gereël. Omdat die ACSV hul kampterrein tot ons beskikking stel en uiteraard ook om geld te spaar, het ons graag die terrein besoek. Alhoewel ons kamers moes deel. Die stapelbeddens wat aan baie van ons bekend is, het gehelp dat ons noodgewonge 6 manne saam in ’n kamertjie moes in.
Niemand wou egter ’n kamer met Louis* deel nie. Die man het blykbaar en by oorlewering, ’n erge snork op hom gehad. Die res van ons manne moes agter-af lootjies trek om te bepaal wie vir Louis as kamermaat kry. Toe besluit ons, dat aangesien die twee kamers langs mekaar is en ons weliswaar met min moeite kamers kon ruil, ons ander 11 ouens slaapplek van aand na aand sou uitruil. So sonder om dit aanvanklik te besef, was ons ook eintlik sensitief vir Louis se gevoelens.
Na die aand se program is ons kamers toe, waar die eerste groep se manne saam met Louis die Vrydagnag deurgeworstel het.
By ontbyt die volgende oggend was die manne gedaan. Natuurlik ook net dié van hulle wat nie gaan slaap het, ná Louis opgestaan het nie! Die res van die ouens wou nie eens stort of hare kam nie. Hul bloedbelope oë was ’n aanklag van onraad en ’n voltrekte vonnis wat jy, uiteraard, nie op ’n kerk-kamp verwag nie!
Die res van ons sê-vra toe: "Manne, wat het met julle gebeur ...?"
Al wat die een perd kon uitkry was, "Louis snork so hard en aanhoudend, ek het net regop gaan sit en gekyk hoe hy slaap. Toe ek weer sien ... toe skyn die son."
Die volgende aand was dit ons groep se beurt om die kamer van raserny te betree. Die Sondagoggend, lyk die ongevalle net so erg – hare woes en oë bloedbelope. Ons manne was voos, na die meeste van ons soos vars ontwaakte uile, oop-oog, die nag omgekyk het.
Skuins voor die son agter Kleinmond se berge gaan rus daardie aand, het ek en ’n ander kamermaat, sy bynaam was Shorty, ’n plan beraam. Shorty was 'n bonkige knopperige rugbyspeler en toutrekker en 'n man onder die manne met ’n harde baard, hier tussen ons klompie sagte eerstejaars. Vroegaand reeds het ons die ander kamermaats bymekaargemaak en sonder om veel detail te gee, die meeste oorreed om saam met ons weer die nag in Louis se kamer te slaap.
Die volgende oggend by ontbyt, het ons kamer se manne die helderste van oë en ’n vars huppel in elkeen se stap. ’n "Goeie môre"- deel ons luid en met almal wat wil hoor, maar … veral met Louis.
Die res van die kampers en veral die kamer langsaan se manne kon dit nie glo nie! Almal wou net weet: "Man, wat het gebeur; hoe het julle geslaap gekry; hoekom het Louis nie gesnork nie?"
Uiteindelik het ek maar die geheim na ’n salige nagrus met die kamp gedeel. "Ons het soos die nag vantevore gestort en die tandemanne gewas, maar dié slag het ons onse handdoeke strategies om ons middels gedraai en kalm die pad na ons bo-en-onderbedjies toe geneem. Toe ek en Shorty by Louis se bed kom, hy het onder geslaap, het ons gestop ... sy slaapsak vir hom mooitjies tot onder sy kuil toegemaak en hom op sy wang “nag” gesoen.
Net daarna het ons in onse beddens geklim en die handdoeke verleidelik onder die beddegoed laat gly tot op die vloer (onwetend vir die ander het ons wel ’n slaapbroek onder die handdoek aangehad ).
Net daarna het Louis regop gaan sit ... en gekyk tot ons almal slaap.
Dwarsdeur die nag, vertel hy later, het hy met elke ritsel, hoes, wind of iemand se omdraai, regop gaan gesit om sake te bekyk!
Hennie Fritz
*Louis- nie sy regte naam nie. (Eintlik, het ek sy regte naam vergeet!)


Kommentaar
Vertel bietjie van arme Flippie en juffrou Kamfer toe...