Gister soos gewoonlik ry ek en my vrou dieselfde roete om haar by die werk te gaan aflaai. Haar werkplek is in een van die dorpe in die omgewing. Daar is tans groot opgraderings aan die strate aan die gang. Ons moet oor die hoofstraat ry om by haar werkplek uit te kom. Die verkeersligte is alewig buite werking. Soos dit behoort te gaan met 'n verkeerslig wat nie werk nie, word dit dan 'n vierrigting stop. Die taxi-manne het 'n staanplek/wagplek praktiseer in die hoofstraat. Geen pyn nie, hulle het nie 'n invloed op die vloei van verkeer nie.
Ons sit derde van die "stopstraat" af. My oog vang 'n man in 'n taxi wat met 'n moerse spoed wegtrek en nie stop nie. Die volgende oomblik hoor ek net die slag en die taxi hop en draai en rol tot op sy kant. Ons ry toe oor die hoofstraat en stop aan die ander kant. Van die konstruksiewerkers pluk die taxi-bestuurder uit en tree hom toe aan. Die bestuurder van die Opel Corsa is 'n jarige dame wat haar te buite geskrik het.
By die kruising is daar 'n Medi-kliniek. Die ER 24-manne is nog nie daar nie. Ek gaan toe soontoe en vra vir een van die uniformdames of dit moontlik is dat een van die dokters net na die dame kan gaan kyk. Die taxi-bestuurder makeer op daardie stadium nog niks. Die dame deel my toe mee dat nie een dokter die perseel mag verlaat om iemand op die straat te behandel nie. Ek vererg my toe bloediglik vir die verpleegsuster en sê toe vir haar ek hoop dat ek nie eendag by daardie selfde hoek in 'n ongeluk is waar ek lê en bloei nie, want hulle sal seker vet mooi nokkol vir my kom doen en wag tot ek doodbloei.
Is dit nie mediese personeel se beroep of taak om 'n lewe te red nie of is ons nou ook al so "fucked up" dat wette die red van 'n lewe bepaal? Ek het gehoor dat die tipe stront in die VSA bestaan en die medici daar bang is om iemand op die straat te behandel want hulle is bang vir regsaksies.
Ek slaan net my hande in ongeloof saam. Help my reg as ek verkeerd is.
Reusedwerg

