In September 2011 was ek een middag so aangeraak deur die vriendelike “aanbieding” en die manne-wales van ’n meisie op ’n sypaadjie in Voortrekkerweg, Parow, dat ek selfs ’n skryfding daaroor moes doen. Gedagtig aan die tattoo op haar arm, sal ons haar maar Skoenlappertjie noem. Die krieweling wat die destydse middag se gebeure in my gemoed veroorsaak het, was verseker eg en beslis onverwerk.
In weerwil van my eie probeerslae om deur hierdie geestesselfversorgingstegniek, die kwesbaarheid van my binneste te bowe te kom, of selfs stil te maak, wil die gedagtes hieraan my nie los nie.
Ek probeer nie gereeld merk of die straatmeisie, of dan sekswerker in meer bekende taal, “aan diens” is nie, maar dit was nogal opvallend dat ek haar nie op die bekende paaie waarlangs my werksdag my neem, die afgelope maande gesien het nie. Soms, wanneer ek daar by “haar hoek” verbygery het, dan het ek gewonder hoe dit met haar gaan.
“Miskien het sy die beroep gelos” of “Miskien is sy terug na mense wat werklik vir haar omgee” of ... en dan draai ’n Minibus Taxi voor my in en my aandag word teerpad-toe teruggeruk. Of, miskien wou ek die hartseerlewe van ’n ander, soos baie, oor-romantiseer. As daar so iets sou bestaan. Ek weet nie.
Die anderdagmiddag is ek op pad na my motor toe by ’n parkeerterrein so ’n ent weg van die gewone besige straatbordeel in Voortrekkerweg, Parow, toe ek ’n “bekende” gesiggie op ’n afstand herken. Al hangende halflyf binne-in ’n wit Toyota bakkie staan Skoenlappertjie met ’n “oom” en gesels. Iemand wat haar oupa kon wees. My bene het instinktief stadiger begin stap en terwyl ek skaamteloos die gesprek oor die pad in die terrein bekyk, moes sy seker iets onraadagtig vermoed het. Sy die gesprek net daar kort geknip. Sy het eenvoudig omgedraai en van die bakkie en die insittende kontantgeleentheid af weggestap. Terug in dieselfde rigting as my motor.
Die verslete sweetpak was duidelik ’n paar maal te groot; mens kon die skraal liggaampie amper los binne die sakkekleed sien rondbeweeg. Sy het ongemaklik gestap. Dit lyk of die regter beentjie saamgesleep moet word en in die kort tydjie tussen toe en nou, maar ook die nabye afstand tussen my en haar op die dag, was dit ’n hartseer waarheid dat sy byna niks van haar jeug oorgehou het nie. Soos sy tussen die karre deur verdwyn, lyk haar gestalte net soos nog een van die ou tannies wat so dikwels voor my by die Poskantoor in Parow instap. Die knop in my keel laat my sluk aan die droë trane wat weer in my gemoed drup.
“Mag ons Vader jou oppas.”
My vroutjie sê ons moet die saak met die maatskaplike werker gaan bespreek. Maar, hoe bespreek ’n mens iemand wat jy nie ken nie; iemand wat jy net op ’n afstand ’n klompie kere bekyk het; iemand met wie jy nog nie ’n gesprek gaan opsoek het nie, net omdat jy nie genoeg moed het nie! Hoe vrugteloos en naïef doelloos is die empatie wat mens voel sonder werklike optrede, of selfs die vooruitsig van ’n helpende hand?
Gister namiddag, soos gewoonlik, druk ek die kar se neus Noord uit die Weste en hier halfpad tussen die treinspoor en Voortrekkerweg staan daar , soos gewoonlik, ’n klompie dames van kleur; smaakvol besig om hul ware en dienste op elke hoek aan te bied – die wintersdae eis sy tol in meer as net die eiendomsbedryf, dus as die son skyn, moet die werkers padtoe!
Opvallend egter, is die twee bleeksiele wat ook haastig na die besiger straathoek toe aanstap.
Jonge kinders. Korter rokkies, laer “toppies”, sonbril, selfoon en sigaret ... die volgende geslag “Skoenlappers” is reg vir besigheid.
Hennie Fritz


Kommentaar
Ai-toggie. So hartseer.