Skim in die bos

  • 0

Skim in die bos

My dogter is tans in Die Krugerwildtuin. Gisteraand stuur sy hierdie foto van ‘n baba albino-blouapie wat sy gedurende die dag afgeneem het.

Om ‘n albino-dier te wees beteken ‘n kort lewe. Hulle is baie sigbaar vir roofvyande. Veral snags wanneer die luiperd op hul jag maak. Albino’s se organe produseer geen pigment wat ‘n kleurstof in die weefsels van lewende organismes is.

Sneeuvlokkie hierbo, sit ook heel moontlik met ‘n bleek vel en die son is sy grootste vyand. Albinisme is een van die natuur se nare grille met rampspoedige gevolge. Albino-diere word gewoonlik deur ander diere van hul soort verwerp, omrede hul opvallendheid die aandag op die trop onnodig vestig.

Die rooi of pienk oë lyk so omdat die bloed in die vate van die iris sigbaar is, terwyl die pigment in die iris van ander diere normaalweg die bloedvate wegsteek.

Albino’s kry ook moeilik maats. Kleur speel ‘n beduidende rol in die seksuele aantrekkingskrag van die diereryk, en sal die mannetjie sy helder kleure gebruik om wyfies die hof te maak. Vir Sneeuvlokkie sou dit beter en veiliger wees om in ‘n reservaat of dieretuin (of as troeteldier) groot gemaak te word.

Gelukkig is die wyfies van blouape baie moederlik en sal selfs kleintjies van ander troppe aanneem. Dalk is dit Sneeuvlokkie se enigste kans op oorlewing?

Trienie Mahne

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top