Dit voel soos ’n bietjie dag gelede dat ek as seun hierdie woorde gehoor het. En dit, omdat Oupa nie kon hoor nie!
Ons was nie die eerste gesin in die land wat ’n TV gekry het nie. Voor ons in 1978 die nuwe euwel van die Weste in die sitkamer toegelaat het, het ek soms by die bure ’n program of wat gaan kyk. Gewoonlik vroegaand en beslis na badtyd en ete. Ons was darem nie so erg soos mater Ivan se huishouding nie. Oom Piet het vasberade vasgeskop om die gemors-ding uit sy huis te hou. Ivan was al bykans klaar met skool, middel tagtigs, toe Oom Piet eers ingestem het. Ons ander maters het gedink dat die Arnold-gesin ’n reuse onreg aangedoen word, omdat hulle nie ’n TV mag besit nie, min wetend egter, dat dit juis die behoud van ’n gesin se warm saamweeslewe bewaar het. Hy was ’n slim man, dié Oom Piet Arnold.
Terwyl hierdie seun soms alleen die vyf vertrek woonstel in Bellville “opgepas” het, was daar genoeg lekker TV-kyktyd.
Angelique. Sy was die ontbranding vir my vroeë puberteitsontwikkeling. Daar diep in die Middeleeue, in die kastele van die Franse aristokrate, moes Angelique haar buustelyf stroptrek vir oorlewing. Mensig, ek sien dit sowaar nounet weer hier voor my geestesoog! Terwyl my onderlip die kwyl keer, wonder ek soms wat van haar geword het ...
Die droë afrikaansvertaalde humor en boewerige staatsmanskap van Arsene Lupin, het my rooi-oog tot laataand voor die TV gehou. Springbok Radio se “Squad Cars” moes Vrydagaande vir die Tier Brigade plek maak. Speurders in swartpakke met swart en goud outydse karretjies. Gewoonlik Peugeots. Die bankrower boewe het altyd Model-T Fordjies gery en met skreeuende bande, teen 11 myl per uur, deur die nou strate van ou Parys (in Frankryk) gejaag. Elke episode is, sonder uitsondering, met ’n toesluitsukses afgesluit. Ai, die Franse het darem lekker stories gemaak. Dit is seker hier waar die Hollywood-mense hul truuks geleer het.
Na Oupa by die ysterwarewinkel in Parow ophou werk het, het hy die gewoonte ontwikkel om vier-uur smiddae die TV aan te sit. Dan kon hy kalm sepies en enige-iets anders op die TV kyk. Daar was niemand tuis om te kla dat die ding te hard is nie. Teen ses-uur, wanneer die kombuis begin werskaf en die res van ons inkom, dan moes die klank opgestel word. Teen die tyd wat die skottelgoed gewas word, kon die bure hulle klank stilmaak en na ons s’n luister!
Pa het meestal gesit en vloekbrom so onder sy stem en Moeder, wel, sy het die geraas tot op ’n punt uitgehou en dan gegil ...“sit sagter!” Teen half-tien het Oupa opgestaan en kamer toe beweeg. Ongeag van wat op die TV was. In die middel van “JR” en “Bobby” se soveelste geveg op Dallas of die Eersteminister se kabinetsaankondiging of ’n onderhoud met Gerrie Coetzee voor ’n titelgeveg of ...wat ookal – Oupa se slaaptyd was tien-uur en voor dit, moes daar eers gewas word, stiltetyd gehou word en ’n klompie strekoefeninge gedoen word. O ja, amper vergeet ek: die laaste slukkie koue koffie moes af en die tandemanne Steradent toe.
Almal het altyd gespot en gesê dat die TV Oupa se lewe beheer, maar hulle was verkeerd; hy het geglo elke ding het sy tyd en so was dit dan ook met hierdie grootste enkele lewensvermaak wat hy in sy laaste jare gehad het.
Met die verloop van tyd het Oupa se TV-kyk na sy kamer toe geskuif. Daar waar die klank meestal niemand kon pla nie; waar hy kon kyk wat hy wil. Ook daar, waar hy sou gaan lê en nie weer sonder hulp kon opstaan nie.
“Sit sagter of sit die ding af!” hoor ek my stem êrens in verlede week gil. Ons jongste seun, Hendri, lê op die bank en kla dat die klank harder gaan wanneer die advertensies aankom. Kla dat hy nie die TV-mense kan hoor praat wanneer die skottelgoedwas geraas maak nie. En nou, wanneer hy die kans kry om rustig alleen in ons vyfvertrek-huis TV te kyk, dan lê hy rooi-oog tot laataand voor die ding. Sy Angelique is nou Angelina; Arsene het vir James Bond plekgemaak en die hedendaagse Tier Brigade, vang nou moordenaars in New York!
Ek het my TV-kyklus eintlik plek-plek verloor. Behalwe, as dit ’n goedvoel-verhaal of dalks ’n ou-ontmoet-vir-meisie-en-vind-die- liefde-van-sy-lewe-fliek is.
Ander tye wil ek minder onthou en sal ek soos Johannes (Ralph) Kerkorrel sê:
“sit dit af,
sit dit af,
sit dit af,
sit dit af,
sit dit af,
sit dit af,
want dis ’n helse straf.”
Hennie Fritz

