'Sies Fenny (as jy prejudice sien is dit jou eie)

  • 2

So het ek haar leer ken. Groot vrou. Baie groot vrou. Destyds toe sy nog kon, het sy die middag afgevat en afgewaggel straat af om te kom groet. Of boek reg te maak. Kos en klere. Baie groot klere wat spesiaal bestel moes word. Sy het altyd diskreet beduie as sy onderklere nodig had want haar grootte kry jy nie in Pep Stores of Edgars nie. Ou Ian, die rooigesig Ingelsman met die groot baard het later 'n spesiale reeks samples altyd uitgepak uit een van sy reisigerstasse (bestaan die ou klerereisigers nog?). Dan was dit 'n diskoers om te kies en te wonder watse onderklere 'Sies Fenny van sal hou.

Nie dat die reeks baie wyd of gevarieerd was nie, dis net hier en daar die blompatroon of die kleur van die bloomer wat verskil het maar ek vermoed as jy heeltyd wit bloomers dra is 'n beige bloomer met strikkies waar die heupe of stêre moet wees genoeg variasie. Skoene was nooit 'n werklike probleem nie want sy het maar by die ou basiese dinge gehou: rubbersole en leer, altyd leer. Met die klein voet wat altoos lyk asof hy bo-oor die skoen wil peul.

Trotse ou Isi'Xhosa vrou wat vir jare chef was by die plaaslike Inn. Tot sy net nie meer kon staande bly nie. Ek vermoed die feit dat sy vir ekstra inkomste seskanne wyn by die glas verkoop het van die Inn se perseel af na-ure het ook gehelp dat sy maar haar eie heil loop soek het annerkant die snelweg. Ek wou haar al vra hoe sy aan haar van gekom het maar dit sal nie deur nie. Want mens moet respekte he vir ouer mense: Maarman.

Ek onthou dat die mense dikwels navraag gedoen het oor wie die sondag of Woensdag aand chef was. Baie het omgedraai as hulle gehoor het 'Sies Fenny het nie die dag gekook nie. Want dis nog ou skool se manier van kos maak soos wat sy dit gedoen het.

Nietemin, sy is weg by die Inn en ek het so in die loop gehoor sy bedryf nou haar taverne van die huis af. Verkoop steeds seskanne by die glas en as jy die Sondag uit dop raak kan jy, as jy haar ken dalk 'n warm Black Lable kry. Weliswaar nie teen kantienprys nie, maar wie wat dors het vra die prys van waters wat lawe?

'Sies Fenny loop nie meer rond nie. Ek kry haar annerdag toe ek loop groet en vra na haar welstand op 'n aanmekaargeslaande bankie sit, neffens die deur wat een of ander ryke nie meer wou hê nie en nou basies dien om 'n gat in 'n muur toe te maak, silwer geduco. Sy lig haar groot arm en sy wuif kaalbek vir my en beduie na die nuwe bakkie en ek lag dit weg want mens spog nie voor mense voor wie jy mens geword het nie. Sy beduie dat sy nie meer baie kan stap nie en ek sien hoekom. Ek vat 'n sluk van die warm Black Lable en dit proe soos heuning. Ek vra haar wanneer gaan sy eendag weer Oos-Kaap toe na die familie en sy sug dat sy nie meer kans sien vir die lang rit nie en dat die taxi's in elk geval nie haar wil karwei nie want, en sy beduie oop arms. "Ek het darem nog vir Rokkies (susterskind) om my geselskap te hou en my te help met die bad en wassery."

Ek gee vir haar my pakkie Marlboro Menthols aan en sy druk hom iewers hier in haar skoot en ek vra hom nie terug nie, want ek weet sy rook nie. Ek wonder egter of sy darem R5 vir 'n entjie gaan kry as iemand kom koop maar ek't 'n vermoede haar klante gaan nie terugkom en kla nie al rook niemand die Vicks goed hier rond nie. Ek beduie vir haar dat ek graag weer eendag haar kos sal wil proe en sy beduie ek moet Sondag kom want sy gaan braai. Sy maak pap en 'n tjoppie teen R25 per bord. Dit weet ek al lankal. Want daar's baie honger mae hier rond en sy ken van pap maak.

oester

  • 2

Kommentaar

  • Oester

    Jy skryf al jare hier.  Jou bydraes bly altyd puik.  Tussen jou en Sandvelder verskaf julle vir ons humor vanuit die gewone mens op straat wat verfrissend is vergeleke met die meer erngstige, of selfs sinistere politieke en godsdienstige onderwerpe hier op SêNet.

    Dankie daarvoor

  • (bloos) dankie jaco. hierdie is maar net die stille outjies se stories, ek beduie dit maar net voor hulle onder die kluite lê. Ek wens dikwels dat almal die kans kan kry om hierdie mense in lewende lywe te kon ontmoet. Elkeen is in eie reg 'n legende.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top