Ruil sondebewus vir Godbewus

  • 3

Die Christengeloof is anders as ander gelowe. Wat is anders? Die feit dat God ons eerste liefgehad het.

Ware geloof gaan nie daaroor om God se guns te wen of Sy aandag te trek nie. Of om dinge te doen wat kwansuis sy kwaaiheid of arm draai nie. God se goedheid lê verborge in die feit dat God juis daarin slaag om ‘n vyandiggesinde wêreld met Homself te versoen.

Geen mens is goed nie. Gered of ongered. Gelowig of ongelowig. Ons almal struikel oor dieselfde dinge. Daarom kan geen godsdienstige ywer my sondeloos voor God laat staan nie. Inteendeel, ons word in sonde gebore en dit ontbreek ons aan die heerlikheid van God.

Daarom is dit God se volmaakte plan, nog voor my geboorte of voordat ek Hom kon leer ken. Dit is die versoening wat Hy bewerkstellig het, deur die dood van Sy Seun, Jesus Christus. Want vreugde en vrede is die elemente wat teenwoordig is wanneer God in my lewe heers.

Geen ander geloof se godheid het sy lewe vir sy volgelinge gegee nie. Geen ander leier het sy bloed laat vloei om sy vriende van ewige verderf te red nie. Basies kom dit daarop neer dat Jesus in ons plek die straf van ons oortredinge alreeds gedra het. Al wat ons verder hier op aarde moet doen is om sondeloos te lewe, sodat dit vir onsself en ander die lewe makliker maak. Sondeloosheid is dus tot voordeel van die self. Waardes en norme daar gestel deur ‘n regering, is tot voordeel van die mens. Wette en voorskrifte in die Woord van God is tot voordeel van die mens. Vir hier, vir nou, hier op aarde.

Daar is niks wat die voorskrifte van die hemel sal verander nie. Dinge is klaar bepaal en vasgelê deur God. Gebeure en dinge van die toekoms (wat die ewigheid betref) is alreeds neergepen in die boek Openbaring. God is ‘n god van orde. Laat net toe dat jou konsep van die liefde in lyn met Gods verwysingsraamwerk kom, en nie die manier waarop jy grootgeword het nie.

Gee Jesus se kruis dan toestemming tot sonde? Nee stellig nie – ek herhaal, om jouself te bewaar van hartseer en ontberinge, is dit beter om nie op aarde verkeerd te lewe nie. Want die straf van daardie sonde sal jy hier op aarde dra.

Verklaar ek dan dat mense moord mag pleeg, seksuele wandade kan pleeg, en nog die ewige lewe sal smaak?

Dit werk so: wanneer ek intiem met God begin verkeer, verander die wêreld om my. Want innerlike daaglikse wandel met God en transformasie van die hart weerhou my van verkeerde. Sodra ek besef dat ek simbolies die bruid van Jesus Christus uitmaak (man en vrou ingesluit) wil ek nie meer my trourok (simbool) besmeer met modder nie. Wil ek nie meer in die varkhok van wêreldse verkeerde rondploeg nie. Want liefde rig my. (1 Joh 4:7)

Dan verander my uitkyk. Ek het ‘n nuwe Meester. Dis soos die getroude lewe. Liefde verander alles. Ek wil my man/vrou nie meer teleurstel nie. Ek wil ‘n aangename huis vir hom/haar bou. Ek wil vir hom/haar die rooi tapyt uitgooi. Daarom sondig ek nie meer. Selfs die begeerte daartoe sal verdwyn.

Maar, dat ek klaar met my man getroud is, is ‘n feit. Dat Jesus Christus klaar vir ons sonde betaal het, is ‘n feit. Daarom kan ek, ongeag enige tekortkominge, nog steeds my ken optel wanneer ek voor God staan. Want ek is herstel voor Hom in glorie.

God hou nie van ‘n skuldige, bitter bruid nie. Hy verkies dat Sy bruid (ek en jy) onskuldig voor Hom staan. Opreg in waarde en sondeloos. Daarom dra ons die titel van: bruid van Christus, kind van God, vriend van God, witgewaste, duurgekoop, vrygemaak en gered. Want Jesus het ons lief.

Verruil dus jou sondebewustheid vir ‘n Godbewustheid. Dit sal jou lewe drasties na die positiewe swaai, en jou dankbare verhouding met God verdiep.

So sal jy die oordele vryspring wat oor hierdie aarde kom: As jou Vader God is, vir ewig saam met Hom, as jou vader satan is, vir ewig saam met hom. Eenvoudig.

Gryp na hierdie vrymakende waarheid: God is opsoek na die krag van ‘n liefdesverhouding met jou. Dis al.

Die keuse is in jou hand.

  • 3

Kommentaar

  • Trienie, dankie vir jou brief. Wil net een sin aanhaal uit John W de Gruchy se boek Lead into mystery: "... the God disclosed in Jesus is the God who suffers with us, and it is only this God who can really help us whether in life or death."

  • Trienie

     
    Hoe kan jy sê geen mens is goed nie? Dis wat my superkwaad maak van hierdie in "sonde ontvang en gebore"retoriek van die Christengodsdiens.Dis net 'n manier van beheer uitoefen en om mense gedurig te laat voel hulle is niks werd nie.Ek ken baie wonderlike mense wat baie goed is en niemand nodig het om vir hul doodgewone menslike tekortkominge (sondes volgens godsdiens) te sterf nie.
     
    Gelukkig het ek nie sondebewustheid wat ek vir iets denkbeeldigs hoef te verruil nie en my lewe is reeds baie positief.
     
    Groete
     
    Perdebytjie
  • CorneliusHenn

    Liewe Perdebytjie, tog pla iets soos apartheidskuld wat gedurig aan wonderlike mense (en hul kinders) geverf word en wie baie goed is, jou ook glad nie - net Godsdiens is 'n kwessie ... aan onse sondelose Triene Mahne is geen salf te smeer - sy leef skynbaar reeds hier op Aarde soos 'n engel in die Hemel! ... katolieke Boeregroete, Cornelius Henn

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top