Resensente al hoe meer onbekwaam

  • 0

Dit het die afgelope paar maande duidelik geword dat die gehalte van resensies in die pers - Rapport, Beeld, Die Burger, Volksblad - net al hoe meer bedenklik raak. Dit lyk of enige Jan Rap en sy maat maar deesdae resensies oor nuwe boeke kan skryf, of hulle nou in staat is daartoe of nie. Dis opmerklik dat al hoe meer resensies geskryf word deur subredakteurs by tabloid-koerante. 'n Mens sal graag wil weet of hulle enige literêre skoling het.

Vat as voorbeeld Jaco Nel se "resensie" van Charlie Human se Bokveld Binnekort in Beeld van 16 September. Ek kan nie glo soiets word gepubliseer nie. Daar is net geen standaarde meer nie. Nel skryf in sy openingsparagraaf neerhalend van "die boekie" en al waaroor hy verder skryf, is die teikenmark. Bokveld Binnekort is allesbehalwe "'n boekie".

Ek het toevallig die boek laasweek gelees, en die feit dat Nel niks sê oor die skrywer se interessante narratiewe tegnieke nie, dat hy niks sê oor die skrywer se vars taalgebruik nie en dat hy niks sê oor die struktuur nie, laat 'n mens wonder hoekom hy hoegenaamd as 'n resensent van literêre tekste gebruik word. Hierdie boek is 'n groot onreg aangedoen wat dit nie verdien nie. En dit weens 'n onbeholpe keuse van 'n "resensent".

Of is dit 'n geval van dat redakteurs hulle drinkebroers sommer vra om resensies te doen? En as dit nie onbekwame "resensente" is wat hul opinies op boekeblaaie uitbasuin en hul name in die proses gat maak nie, is dit opmerklik hoe baie maatjies mekaar se werke deesdae resenseer, soos Koos Kombuis wat sy vriend Kleinboer se nuwe boek geresenseer het.

Dit lyk of niemand omgee nie. Niemand maak hulle stemme dik daaroor nie. En die onregverdigheid en bloedskandelikheid en vervlakking gaan maar net voort.

Gysbrecht Edelhart

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top