Renault 5

  • 1

Ek het baie respek vir die Franse. Franse brode was wonderlik voor Tim Noakes, mens kan die bietjie Frans wat jy op Tuks en met jou omswerwinge geleer het altoos in 'n jonge dametjie se oor fluister en sy behoort, dis die norm, te val soos Napoleon se troepe geval het op pad terug van Rusland af. Moet dit egter nie probeer nie, want dit werk nie, glo my ...

Citroen is natuurlik een van die mees klassieke ikone ooit. Daai goed wat opgelig het en gesak het. Lelike bleddie ryding maar die goed is soos 'n Nissan-enjin: Jy kry die ding net nie klaargery nie. Of so het hulle gesê destyds. Ek sien nie veel van hulle meer in die rondte nie so die gesegde was dalk nie helemal korrek nie. Die ander Fransman was natuurlik nog een van ons plaaslike ikone: Renault 5. Ek het nooit een besit nie en ek is beslis nie spyt nie. Ekonomies, maklik om te hanteer, klein en kompak en goedkoop. Naas die getroue Volla, een van die bekende motors op enige kampus destyds.

Piet, een van my getroue maters het so ene gery. Lelike bruin kleur. Nie kapoen-tipe bruin nie, lelike bruin. Die soort bruin wat, jy weet, soos daai goed lyk. Dalk is dit hoekom hy die ding so goedkoop tweedehands en met min kilo’s op die klok opgetel het. Piet het nie ons passie vir boeke gedeel nie. Hy was appy by Yskor. Nie lank voor dit verkoop is vir 'n appel en ei aan daai magnate uit Indië, of is dit nou Ingeland, nie. Ons het hom dikwels gespot dat sy Renault mooi inpas by sy appy status maar Piet was slim filosofies daaroor: "Teen die tyd wat julle 10 jaar gewerk het met al julle geleerdheid het ek al my huis amper klaar betaal." Dalk was hy reg want ek sien sy naam gereeld opduik oor die eters en hy is dalk inderdaad nou reeds besig om af te betaal aan 'n huis iewers langs een van die eksklusiewe kusoorde wat ek nooit sal kan bekostig nie.

Piet het die dag opgedaag kort voor een van die eksamens. "Gaan ons Maders toe?"
"Eish ou maat, ons skryf binnekort ..."
"Ek het gepay ..."
"... net gou stort en hare kam, ok?"

So is ons vier of ses in die Renault 5 ingepak en Piet roer want hy het, sonder ons medewete reeds 'n paar stukkies sawwe vleisies aan't wagte daar. "Net vir 'n paar potte poel ..."
"As jy haastig is moet jy jou Hazards aansit en jou ligte bly flikker, bra, dan is ons soos 'n noodvoertuig oppad hospitaal toe."

Ek is nie seker wie die wyse raad gegee het nie maar Piet het daad by woord gevoeg en ons is haastig oppad Maders hospitaal toe. Rooi robotte slegs stadiger en toeter blasend oor die robot. Motors respekvol aan’t pad oopmaak vir die noodgeval.

Ek weet tot vandag toe nie presies waar dit gebeur het nie maar Piet is rasend deur 'n robot en om 'n draai en toe ons weer kyk is almal se glase leeg en almal, glase en al, onderstebo. Hoe dit gebeur het, het die poliesmanne en verkeer aan ons verduidelik toe daar geen sin uit 'n spul dronk soos spoke studente kon kom nie: Met die oorgaan oor die robot, het iemand van die kant af die Renault skrams getref en asof hy ontwerp is om om te keer het die Renault gerol. Dis 'n ou laai die van die Renault 5 om sommer vir niks om te slaan, so het die spietkop ons meegedeel asof ons werklik ernstig was om dit te hoor. Ek moet bysê dat net 'n paar bottels sagte waters skade gely het. Niemand het 'n skrapie opgedoen nie. Nie een enkele glas wat in 'n hand was is gebreek nie.

Of dit waar is weet ek nie want ek was nooit weer in ene nie en Piet het syne sommer net daar verkoop aan die insleepdiens om die kostes te dek.

Wat ek wel vermoed is dat Renault 5's op skepe gebruik word. As ankers.

oester

NS: Drink en bestuur is nie aan te beveel nie en is beslis teen die land en my persoonlike wette. Dit is nie cool nie, en al het ons dit destyds gedoen is dit potensieel dodelik, meesal vir onskuldiges.

  • 1

Kommentaar

  • Is dit nie die karretjies wat jy persent gekry het as jy 'n stel Tupperware gekoop het nie? Het 'n Renault 9 besit. Ek wil nie verder oor die Maders uitwei nie. Wat in die Maders gebeur bly in die Maders. Ek praat nie eers van die Hellenic, Braukeller, Zillertal of die Assembly Hotel nie. Ek beroep my op my swygreg.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top