Reaksie op Kobus Faasen se 'Boer' en 'isiBhulu'

  • 3

Beste Kobus

Soos jy praat, klink dit vir my asof 'isiBhulu' die Xhosawoord vir Afrikaans is. As dit so is, waaroor die bohaai? Of, staan daar in die Xhosa verklarende woord "isiBhulu: Die taal van die apartheidsonderdrukker"? Indien dit die geval is, wat is hulle woord dan vir Afrikaans want jy sê tog dat, volgens jou, nie almal wat Afrikaans praat 'apartheidsondrukkers' was nie?

Wat ookal die geval is, dit lyk my na 'n manipulasie- en vertolkingskwessie by jou of, andersins, soos Jaco ook laat blyk het, 'n Xhosawoordeboekprobleem. Indien laasgenoemde, siende dat jy Xhosa en/of die Xhosawoordeboekmakers ken, kan jy hulle reghelp.

Ek het egter so spesmaas die probleem lê by jou; bydrae na bydrae van jou af op hierdie werf handel oor 'n onreg wat jou aangedoen is. Hierdie ding spook by jou en (sommige van) jou mense, dit versuur julle lewens. Hier gaan binnekort weer 'n Jakes Gerwel-bespreking of iets wees (RSG se Praatsaamprogram) en ek sal jou 'n briefie gee; die bruines gaan 'n aggressiewe houding inslaan want hulle voel verontreg, hulle word geskuld. Die wittes weer gaan verskonend en op die agtervoet wees; hulle is ingeprent dat hulle skuldig is.

Laat ek julle, en die wittes hierbo genoem, gerusstel: Die Boere het nooit enigiemand onderdruk nie en is in die opsig by niemand in die skuld nie. Indien jy wel goed kan vind wat volgens jou aandui dat die Boere wel onderdrukkers was staan hulle agter in die ry wat dit betref, veral vèr agter die Engelse. Jou verse wat dus so gereeld die Boere uitkryt moet dus eerder die Engelse teiken.

Ek gee toe, petty apartheid was kwetsend. Dit is egter nie iets waaraan net die Boere skuldig was en/of is nie; hierdie goed wéét ek kom voor in Amerika, Australië, Nieu-Seeland, die VK en Duitsland en, uit die aard van die saak, dan oral in die wêreld, selfs Eldoradopark. 'n Bruin vroulike kollega, sy en haar ma bly in Eldoradopark, vertel my nou die dag hoe haar ma die swart huishulp uitgetrap het oor dié haar wasgoed saam met hulle s'n gewas het. Volgens my kollega se beskrywing was die uittrapsessie erg rassisties.

Nou, ten slotte. Jou bydraes, en wat ek van bruin kollegas ondervind, raak dikwels die kwessie oor wie s'n Afrikaans nou eintlik is. Daar gaan baie van julle bruines se energie in. Ek sou nou dink, as julle werklik ernstig oor die saak was, julle Afrikaans meer sou koester. Met ander woorde, julle sal nie toelaat dat Afrikaans so met Engels besmet word soos wat daar in die Kaap gebeur nie. Ook dat, waar bruines hulself in hooggeplaaste posisies bevind, soos by Kovsies, Maties en UWK byvoorbeeld, Afrikaans sal gedy. Dit werk toe nie so nie. Om die waarheid te sê, dis net mooi andersom.

Jan Rap

  • 3

Kommentaar

  • Mon frère Jacques

     

    Indien u nog onder die pseudoniem Jan Rap wil voortwoeker oor identiteit, vergewe my asseblief. Ek beskou dit as lafhartig en kan ongelukkig nie met pseudo-kwasi's redeneer oor wie en wat hulle is nie. Diegene wat met trots hul naam en van aan hul beginsels kan koppel, sal verstaan wat ek bedoel.

     

    Groete

     

    Kobus Faasen

  • Dag swaer
    Ek was altyd onder die indruk Kobus Faasen is jou skuilnaam, ek dog jy's Sam Bartlett of dalk Brandon Samsodien of iemand. Dit het my egter nie verhoed om met jou te praat nie want wat jy ookal sê maak aan my geen verskil - aan NIEMAND om die waarheid te sê - of jou naam Sam, Brandon, Leroy of Tim is nie, die inhoud bly dieselfde. Mozart se musiek bly syne, of sy naam nou Gottlieb, Gottlob of Amadeus is.

    Jy's egter welkom om my naam, van en sommer foto ook by Naomi te kry (as jy dit nie reeds het nie) soos ek dit vir George Claassen ook laat kry, het. Hy het 'n soortgelyke probleem gehad; wou nie my vrae beantwoord nie omdat hy nou kwansuis nie van skuilname hou nie.

    In George Claassen se geval het dit geen verskil gemaak nie; hy antwoord steeds nie en ek het so 'n vermoede dit gaan in jou geval ook nie help nie want my naam gaan niks verander aan wat ek reeds vir jou gesê het nie. So, wees maar bly; die feit dat ek 'n skuilnaam het skyn 'n reddingsboei vir jou en George te wees.

    Groetnis
    Jan Rap

  • Janneman

     

    Dis meer 'n "Boere"-boei as 'n reddingsboei. En dis uitsluitlik uwe G'wete/g'wete waarvolgens gelykheid en naasteliefde aan ander toegedeel worre, of nie.

     

    Voorspoed

     

    Jacobus 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top