Reaksie op Jaco se kommentaar

  • 4

Dagsê Jaco

Ek verwys na jou kommentaar onderaan my brief wat ‘n reaksie op jou onderrigtaalstorie was (2 deser). Jy lewer dikwels kommentaar oor wat ek te sê het (dankie daarvoor want dit is juis hoekom ek my mening lug sodat ander my of verkeerd kan bewys of saamstem met wat ek sê) maar dit blyk duidelik dat jy nie mooi lees nie: Jy weet te vertel dat ek nooit sê waarvoor ons vir Dan 'goddankbaar' moet wees nie.

Hoe kan jy so sê? Elke keer as ek dit sê is wanneer ek uitgewys het dat daar 'n heksejag op Afrikaans en die Afrikaner is en dat daar dan nog Afrikaners is wat meedoen hieraan vir Browniepunte. Dan Roodt spreek hom duidelik uit teen hierdie praktyk en daarvoor is ek dankbaar.

Verder, hierdie gekruipery van die Afrikaner stel ons, alhoewel Ons Nie Almal So Is Nie, in 'n baie slegte lig, maak ons swak voorkom en dus veragtelik in die oë van veral die swartes. Goddank daar is nog ouens soos Dan Roodt wie se aksies darem wys dat Ons Nie Almal So Is Nie.

So, ek het al pertinent, EN tussen die lyne, gesê waarvoor ek dankbaar is maar jy het dit nog nooit opgetel nie. As jy dus weer lees en kommentaar wil lewer (waaroor ek bly sal wees) lees dan tog die stuk weer oor en maak seker jy verstaan.

Jy gaan gal af oor die boek van Dan in Engels geskryf is. Hoe werk jou kop? As hy stry vir Afrikaans is jy kwaad en as hy in Engels skryf is jy nog kwater; dit maak mos nie sin nie. Buitendien, die boek is juis grootliks vir die Engelse en Engelssprekendes geskryf. Wat help dit nou Dan preek vir die bekeerdes?

Jy vra ook konstant wat DOEN Dan Roodt nou eintlik. Dit het ek ook al talle kere geantwoord. Eerstens, die blote feit dat die stroomafdrywers en die wat gods water so oor gods akker laat dawer hom om elke hoek en draai ondermyn en verguis dui daarop dat hy nie sit en niks doen nie; hulle kan mos nie sommer net vir die lekker so die moer in vir hom wees nie of hoe? Hy skud dus hulle hokkies en ontbloot hulle as flapdrolmeelopers en versamelaars van Browniepunte.

Dit is maar onder andere, want hy is gedurig aan die DOEN; hy skryf boeke, hy bedryf 'n webwerf, hy maak planne en voorstelle, hy's besig. Vergelyk hom nou byvoorbeeld met mense soos Piet Croukamp, Max du Preez, Antjie Krog, Magdaleen Kruger, Anton van Niekerk, Amanda Gouws en Jonathan Jansen om nou maar net 'n paar te noem. Jy vra wat doen Dan Roodt vir die Afrikaner en die Afrikaanse taal maar wat doen hierdie laasgenoemdes vir die Afrikaner en die Afrikaanse taal? Net mooi four call my maat (jammer vir die Engels). Om die waarheid te sê, minder as niks want, ten spyte van die feit dat die aarde rond is, ondermyn hulle die Afrikaner en Afrikaans om elke hoek en draai.

Jy sê jy vind dit jammer dat ek my volksgenote as verwerplik aansien? Weer 'n verkeerde vertolking; ek sê mos gedurig Ons Is Nie Almal So Nie; ek kla net oor die volksgenote wat die volk ondermyn.

Groetnis

Jan Rap

  • 4

Kommentaar

  • François Verster

    Beste JR   Ek lees selde blogs en vonk-briewe, want daar is te veel ouens wat bloot gal braak, maar ek het al van jou stukke gelees en saamgestem. Een ding wat jy dalk kan oorweeg is wat 'n aggressiewe houding enigeen in die sak sal bring - hier verwys ek na Dr. Roodt. Ek het baie empatie met sy, en jou, bekommernisse oor die situasie in SA vandag – en swets baie in my eie gemoed (en elders) veral as mens die media so betrag, maar dink hieroor: as iemand aggressief is jeens jou, hoe gaan jy reageer? Persoonlik beantwoord ek maklik aggressie met aggressie - nou minder so, maar in my jonger dae het my Hugenotebloed maklik oorgekook. Nou voel ek strategie is beter as passie, as jy WIL wen; nie net skermutselings nie, maar minstens ‘n veldslag: ons hoef geensins agteroor te buig nie, en ek het in 'n mate eenstemmigheid met jou oor mense wie jy genoem het - ek dink sommige van hulle soek aandag of wil graag glo hulle is verhewe bo die gepeupel – dis amper ‘n kompulsie by sulke mense om dwars te trek. Sommige draai ook na die wind. Dalk is dit maar omdat hulle ook te emosioneel reageer. En dit bring ons terug by die aggressie-ding: jy sal NOOIT iemand oortuig deur hom/haar aan te val nie - inteendeel; jy sit net 'n vete voort of begin 'n nuwe een. So is die aggressiewe houding nie dalk onbeheersde frustrasie nie? Jy vang vlieë met heuning, nie met asyn nie. Ek wil rugby as metafoor gebruik - as jy soos Dwayne Vermeulen 'n ou wettig plettervat (al sê die ref ook wat), is jy nie vuil nie, maar dwing jy respek af. As jy iemand egter om die nek gryp soos ons ook baiemaal sien, is jy vuil én dom, want jy staan eventueel strafskoppe af. En jy is nie dapperder as Wayne nie - en verloor net, ook so jou span. So om te sê die swartes respekteer jou nie as jy jou kant skoon hou, gaan nie by my af nie. Diegene onder hulle wat saak maak sal jou respekteer as jy ferm en ordentlik is en as jy ander behandel soos jy self behandel wil wees. Reg oor die aardbol is dit so en hier ook.   Verder, wat baat dit ons om mekaar sleg te sê terwyl ons juis moet saamstaan?  Laastens: Tydens die Anglo-Boereoorlog het ons die respek van die wêreld gehad omdat ons oorwegend eerbaar geveg het, teenoor die vieslike taktiek van die vyand – verwysend veral na Verskroeide Aarde. Toe het die Afrikaner nie agteroorgebuig nie, maar die goeie stryd gestry. Mag ons so aanhou sodat ons nageslagte ons ook sal eer. En mag ons bowenal nie kop verloor en blindweg instorm nie.

  • Jan

    Hoe werk jou kop?  Jy is die een wat gal afgaan wanneer Afrikaners in Engels skryf.  Waar ek sarkasties uitgewys het selfs Roodt volg nie jou (en selfs sy eie) vereistes in verband hiermee nie, dan het jy die vermetelheid om die saak om te draai om te se ek gaan gal af omrede hy in Engels geskryf het.  Om die waarheid te sê hy het vir my vir die eerste keer soos enige ander Afrikaner wat tog Engels as deel van sy lewe laat uitmaak, opgetree!

    Hoe werk jou kop, en selfs jou logika (eintlik geen logika nie), wanneer jy beweer, die feit dat omtrent almal wat teen Roodt is, is bewys dat hy iets vir die Afrikaner DOEN!  Is dit 'n feit omrede so baie teen Zuma is, bewys is dat hy iets vir S.A. beteken? (jou onlogika!). Die feit dat hy boeke vir persoonlike inkomste skryf; dat hy 'n web vir persoonlike inkomste bedryf, is GEEN bewys dat hy enigiets dienooreenkomstig  vir die Afrikaner GEDOEN het nie.

    Hoe werk jou kop, en selfs jou logika wanneer jy sê ek moet tussen jou lyne lees wat Roodt DOEN.  Jy sê hy maak planne as bewys dat hy iets vir die Afrikaner DOEN.  Watse planne?

    Hoe werk jou kop?  Jy noem 'n hele reeks Afrikaners om met Roodt te vergelyk, oa Max du Preez en Piet Croucamp.  Maat.  Hierdie Afrikaners, al stem ek persoonlik meerendeels nie met hulle saam nie, is Afrikaners wat 'n eerlike beskouing oor die Afrikaners se optredes uiter.  Dit is hulle persoonlike menings, sonder om enige poging aan te wend om 'n volgeling korps vir hulself te probeer opbou.  Roodt inteendeel, bevraagteken ek sy eerlikheid, veral wanneer hy volkstaat PRAAT, en sy DOEN is om tussen die Engelse  te woon.  Hy probeer onbeskaamd  homself als Afrikaner-kultus-figuur uit te beeld en poog om volgelinge te werf.  Onder die geskatte 3300 in die laaste verkiesing wat vir Nasionale Front gestem het, was sy ondersteuners net 'n gedeeltetjie onder die 30 Afrikaner gekkegrens organisasies wat vir dieselfde party gestem het, so sy aanhang is selfs minder as genoemde syfer, wat van hom 'n onbenullige faktor in Afrikanerpolitiek uitmaak, selfs  'n onbenullige faktor onder die ander Afrikaner gekkegrens organisasies.

    Jy sluit af met: " ek kla net oor die volksgenote wat die volk ondermyn".  Hoe ondermyn? 

    Jou probleem is, al wat jy op hierdie werf DOEN is om net te KLA, en in die proses jou naam bollie te maak.  Probeer gerus 'n ander meer positiewe benadering.  Dit kan moontlik die bitter gal uit jou lewe neem

  • Jan Rap (en Jaco), 

    As 'n mens nog enigsins hoop gehad het oor Dan Roodt se moontlike bydrae tot die Afrikanersaak het die nimlike Dok Dan self enige twyfel uit die weg geruim met sy selfverdoemende skrywe van 10 Mei 2014 op Praag se webwerf. Ek gee net drie aanhalings direk hieruit.

     Na aanleiding van die landswye verkiesingsuitslag: "...Met slegs 5 138 stemme wat op Front Nasionaal met sy boodskap van kulturele selfbeskikking en die uiteindelike herstel van Afrikanersoewereiniteit verenig is, moet ek erken dat “ware Afrikaners” (Roodt se soort)  vandag in ‘n volslae en moontlik uitsterwende minderheid verkeer..." en  "...Ons is deur ons eie mense ontheem. Omdat hulle reeds die Afrikanertradisie en -kultuur in sy totaliteit verwerp het, beskou hulle ons (Roodt en kie) as vreemdelinge in Suid-Afrika."

     Na aanleiding van die Gauteng verkiesings-uitslag skryf Roodt: "...Dit gee my ‘n gevoel van: Ek is geweeg, en te lig bevind. Ten minste deur Afrikaners, wat Mmusi Maimane bo my verkies."

     Daai laaste aanhaling spreek boekdele! Afrikaners verkies Maimane bo Roodt, so sê Roodt homself. Jaco, jy is reg. Roodt het onbenullig geraak in die Afrikanerpolitiek. Hy (Roodt) sê self so.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top