Hasie in die holte
sit en slaap
arme hasie is jy bang
kyk net hoe jou ore hang...
hasie hup hasie hup hasie hup hup huuuup ...
Elke dag hier teen die draai van die middag-uur
sal jy hulle uit hul gate sien verskyn.
Geen verbyganger weet waar hulle bly
of waar hulle eet of waar hulle bad nie;
geen verbyganger gee hoegenaamd om nie.
Hulle verskyn net daar
en hier op straat.
Op randstene en kort wit betonmure
uit bastions van arm huise en voorstede
hop hulle tussen die hoermeester,
die kliënt en die daad.
In sobere dele van die dorp
in middelklasbuurte waar min skort,
met niksvermoedende bure
en groen gras en parkies en velde,
maak hul kinders se broodjies gereed;
maar tog,
iemand het hul steeds aan die “ore” beet.
Vandag se holte is met lap, leer en wol gevoer
maar môre s’n, net van karton en teer.
Genade sy bly dit ’n holte om uit te hop,
wanneer die kliënt sou roep.
“Vader wanneer gaan die mans
wat U geskep het,
die gesag die leiers,
die sterke die mens,
behoorlik betaal vir die gelag ...?”
Sodat hy dit aan sy lyf kan voel
die verlies om ’n voorwerp te wees;
’n voorwerp waarvoor sy hongere maters
die strate, die koerante, die internet invaar.
’n Voorwerp,
wat sy kaders soos kos versamel
en huur en bestuur na goeddunke.
’n Voorwerp skaam vir die lig,
die kerk en sy god;
waar gordyne verswelg,
die onrus van ’n vrou se lot.
“Vader help ons mans
uit die put van wellus vry,
vergewe die verslaafdes wat moeiteloos stry
en laat die ellende van ons tyd
goddeloos neer reën, op dié sonder spyt.”

