Ek weetie watter vraestel dit was nie. Dit kon Filosofie 201 gewees het maar ek’t 'n spesmaas dit was Internasionale politiek 201. As ek reg onthou. Destyds op Tuks kampus. Ek onthou ons het in die hoer geskrywe en nou wonder ek of die nuwelinge die gebou nog steeds so noem. Min geboue staan so mooi wydsbeen oor 'n pad.
Dit was 'n lang vraestel en ons het later as gewoonlik klaargemaak. Of in tyd, maar laat genoeg om in die deursnee student se drinktyd in te meng. Naby genoeg aan die heuningpotte en blyplek in Sunnyside om nie nodig te het om te ry nie maar net te ver om te stap as jy moeg geskrywe is aan filosofiese antwoorde op vrae wat niemand nog ooit kon antwoord nie.
Die laaste bus is destyds kort voor elf verby maar jy staan by die bushalte in die hoop dat daar iets in die logistiek se pad gekom het. Dat die bus tog net laat sal wees. Maar dit was toe en toe het busse nog soort van op tyd geloop. Meesal, presies soos vandag. Want as jy wil hê die bus moet laat wees sal die ganse amptenary mos sorg dat daardie een enkele bus op tyd moet loop.
So stop hierdie goudkleurige Mazda 323. Destyds het jy nie iemand wat in 'n 323 rondgery het gewantrou nie, want almal ry mos met die goed, man! Die man leuen oor en hy knip die deur oop en ek sien die oop gesig en die collar. Of halsband as jy wil, want hy is tog gebind aan sy god en geloof. Hy beduie dat dit laat is en hy is op pad annerkant die stad se kant toe en hy sien die boeksak is swaar en kan waarheen want hy moet in elk geval daar verby. Ek beduie Sunnyside en dis die eerste keer wat ek gevoel het asof ek 'n Hollywood-taxi bestyg. Hy vra hoe so laat en ek beduie filosofie 201 en hy beduie dat hy ook daardeur is en ons praat Sartre en Nietsche en toe ek weer kyk toe vat hy die rathefboom mis en die hand is op my been.
Hy vra groot askuus want die rathefboom op 'n 323 was mos maar altyd 'n losse ding. Ek beduie nee, ek weet want ek’t 'n tante wat dieselle model ry. Die goed is maar kak gebou. Sy kla gedurig oor dieselle ding. Ek voel nie naastenby skuldig om in 'n godsman se gesig oop en bloot te lieg nie.
Met die tweede misvat van die rathefboom het ek besef dat hierdie godsman nie per ongeluk onhandig is nie. Die man het planne waarvan ek nog geen idee het nie maar baie gou uitgevind het, want hy het weer gou om verskoning gevra en toe beduie dat dit een of ander slip was. Want sy hand was baie nader aan 'n hefboom wat niks met hom uit te waai het nie en baie ver van die kar se ratte af. Hy het begin beduie oor alleenheid en die onbaatsugtigheid van sy werk en toe hy my vra of ek honger is want hy wil vir my 'n burger koop. Ons kan gesels want die aand is nog jonk. En hy het iemand nodig om mee te gesels.
Destyds het Savers die beste hamburgers verkoop op aarde. Hy het sy Mazda 323 oop en bloot parkeer en beduie dat ek vir hom 'n footlong kan saambring. Ek’t hom gevra of ek maar 'n pakkie John Rolfe kan koop want my skywe is op en hy het nog 'n groene uitgehaal en beduie dis reg, hy rook ook so af en toe, veral hierdie tyd vannie nag.
Ek het hom sy footlong aangegee en hy het beduie dat ek die kleingeld kan hou (wat nie te onaardig was doerie tyd nie al was dit net kleingeld) en ek't hom beduie dat ek net gou met Elvis moet bladskud, eks nou terug.
Ek het hom nooit weer gesien nie en ek is steeds spyt daaroor want nou en hier sou ek bitter graag met aangesig met hom te doene wou kry, want ek is doodseker eks bloot net gelukkig om met 'n halwe liter Coke en 'n hamburger te kon wegstap.
Dit was loshande die swakste burger wat ek ooit in my lewe geëet het en selfs die Coke wat altyd getrou belowe om dieselle nasmaak te los het daardie laataand wrang gesmaak. Dit was nie Savers se skuld nie want net die volgende aand het ek en Mac dieselle burger geëet en dit was uit die boeke.
oester


Kommentaar
Ook nie 'n wonder al die ateïste waarsku so teen die kerk nie!