As ek altyd polities reg was, dan sou hierdie skrywe seker nooit die lig gesien nie. Dis juis omdat ek altyd in die sop land dat ek nou hieroor kan skryf. Ek bevind my gans te veel aan die polities verkeerde kant.
Ek lees nou die dag dat die term “Polities reg” teenoor “Polities verkeerd” op sigself eintlik verkeerd is. Dis natuurlik net nog ‘n opinie, maar ek stem nogal daarmee saam. Die term word vergelyk met die wanindruk van die hoofstroommedia dat dit moontlik is om ‘n drol aan sy skoon kant op te tel.
Nou kyk nou net daar. Daar doen ek dit weer!
Die wêreld van “Polities reg” is myns insiens eintlik maar baie vaal en eentonig. Dis ‘n wêreld waar niemand swart, wit, geel, pienk of pers is nie. Almal is grys. In hierdie wêreld is niemand dom nie. Almal is hoogs intelligent. Niemand is vet nie. Of lelik nie. Niemand sê ooit iets aanstootlik nie. Niemand stink nie. Niemand is skelm nie. Daar is niemand gay of straight nie. Niemand staan eintlik uit nie, want almal is polities net reg. Altyd reg, soos Toyota.
En net daar word humor afgesny.
Humor word geprikkel wanneer jy iets kry wat jy nie gladnie verwag nie. Daardie onverwagse woorde of prentjie wat voor jou afspeel. Selfs net ‘n situasie waaraan jy dink, of iets in jou verbeelding, kan jou laat skaterlag.
Maar daar is nie plek vir humor in die wêreld van “Polities reg” nie.
Ek hou daarvan om bietjie awe-regs te wees. Om ‘n klip in ‘n bos te gooi en te kyk wat daar gaan uitpeul. Om so bietjie die dun nerwe te skaaf. Reaksie uit te lok.
Nie dat ek ‘n moeilikheidmaker is nie. Ek het nie bose intensies nie. Ek kan net nie ‘n saai bestaan voer nie. So verskoon my as ek partymaal jou skok. Dis dalk net wat jy nodig het. Dalk ruk dit jou bakkies in ‘n smile in. Of jou dinges in ‘n krul.
Solank jy net vir jouself kan begin dink, man! En ook vir jouself kan begin lag.
Wie gee nou ‘n flenter om vir “Polities reg” of “Polities verkeerd” as jy ‘n lied in jou hart het, en ‘n smile op jou dial?
Sandvelder


Kommentaar
Beste Sandvelder, ek geniet elke brief wat jy skryf. Ek voel presies soos jy oor die politieke korrektheid. Dankie tog, ek is nie alleen nie. Ek wil net die volgende onder jou aandag bring. Hier op die Net is daar 'n klompie wat erger as die ou dae se sedebewakers is. Ek noem hulle die "moraliteitspolisie". Bewaar jou siel as hulle nie jou humor aanvaarbaar vind nie. Hulle gaan jou braai. Waak daarteen om net 'n sweempie van "anti polities korrekte" kommentaar te lewer of oor te skryf, hulle gaan op jou neersak soos hondsdol vlermuise. Gelukkig vat ek dit nie persoonlik nie, die lewe is vir my 'n lied. Ek vermy diesulkes in elk gaval soos die pes. Hulle is vervelig, eentonig, stadig van begrip en humorloos. Sterkte.