Piet het mos destyds 'n lelike ding oorgekom. Was iemand op pad boontoe toe hy, so vertel die mense, in daardie motorongeluk was. Lank innie hospitaal en nooit weer dieselfde uitgekom nie. Die brein het skade opgedoen. Ryk familie doer iewers in Noordwes, of die ou Wes-Transvaal. Skaam vir die klong wat net nooit meer dieselle was nie maar tog, op die oog af normaal was. En is.
Piet het op een of ander manier hier te lande gekom. Maer soos 'n riet. Grandpa maer. Groot boskasie verskoning vir 'n baard wat hy een keer per jaar skeer. En as hy geskeer het kan jy hom net op een manier uitken: sy ou afgeleefde grasmasjien en sy lang toonnaels. Pikswart.
Ek onthou tot vandag toe nog my geliefde moeder se wyse raad oor voete en toonnaels en steeds volg ek dit, want jy kan nog sonder 'n bad klaarkom maar as jou voete vuil is gaan jy nie goed lyk nie. "En jy moet altyd goed lyk want netnou moet jy in 'n ambulans gelaai word en dan ryk jy na ou lieste, en dan moet ons ons skaam ..." Voete en hanne moet altyd skoon wees en dis hoekom ons Ra Mavenster met blink nuwe skoene begraaf het want waaragtig sy hanne was altyd skoon en sy skoene het altyd geblink al het hy in die stront gewerk of konkreet gemeng.
Nietemin, Piet suiker daagliks hier om met sy ou aanmekaargelapte petrol geraasmasjien of grasmasjien met sy ewe gelapte weedeater bo-op. Flink stappend en broek so sesduim bokant die enkels. Ou, nuwe mode moses plakkies aan die voete. Sodat jy nie die toonnaels kan miskyk nie.
Mens vra nie mense na sulke goed nie maar ek wonder dikwels hoe die beddegoed moet lyk want netnou was Piet hier en more stap hy hier in en die voete lyk maar altoos dieselle. So asof hy nie 'n saak het met die ambulans nie, en net nou die dag het ek hom beduie dat die Grandpas nog sy dood gaan kos en toe raak hy baie filosofies oor die deugde van daai oupa op die verpakking en toe los ek dit maar daar, want ek het hulle al gesien kom en gaan en heelparty se grafte uitgebou en nuwes gebou en hartseer gestaan en wag sodat ons kan klaar maak.
Ek vra hom oor daai ander man se vrou by wie hy soms kuier en toe beduie hy vir my dat dit niks met my uit te waai het nie en toe vra hy my vir 'n pakkie BB-tabak en toe ek vra of dit vir die ander man se vrou is toe beduie hy my ek is vol kak. Hy beduie my dat hy probeer goed doen maar ek't 'n idee hy probeer meer doen as goed doen.
Eendag, binnekort, so lyk dit vir my, sal ons hom moet bere met nuwe skoene, want mens kannie iemand laat sak met vuil toonnaels nie.
Dit sal tog nie betaamlik wees nie? Mens moet op jou beste lyk as jy onder die grond in gesak word. Netnou dink die mense anders van jou.
oester


Kommentaar
Oester,
Ons het so paar jaar gelede 'n dame hier op kantoor gehad wat op jong ouderdom boontoe is. Sy het Grandpa's gesnuif en neuskanker opgedoen.