Wie was Piet-Kitaar? Of eerder - Piet Gerber van Polokwane. Die kitaarmeester. Niemand vreeslik bekend of belangrik. Beslis nie aan Beeld of LitNet nie. Ek is nie eers seker hoe oud hy was. Skat so 68.
Ek het Piet nie persoonlik geken nie. Slegs kerksvriend. Saam musiek gemaak. Dit spreek klaar van ‘n unieke band. Met huisvriende of bloedfamilie sluit mens ‘n ewige band, maar tussen musiekante en sangers wat saamkom in hul kunsvorm ontstaan daar ‘n samevoeging vanuit niks. Musiek skraap mense bymekaar. Die vreemdeling word ‘n ou kennis soos akkoorde begin saamsweef, kreatiwiteit deur begaafdheid uitgestort word en musieknote op blad stem kry. Dit bekoor die gehoor. En wanneer vingers op snare stol of die sanger sy laaste asem aan die laaste rym gee, word stilwording ‘n ryp atmosfeer. Die gehoor mag al lankal by die huis wees maar is dit di? tyd wat die kitaarspeler se satisfaksie of vervulling eers inskop. Dan sal adrenalien bly pomp, slaap wegkoets omrede die vol gemoed steeds raas.
Gisteraand nog het ek vir Piet-Kitaar tekens gegooi. Musikante kommunikeer met vingertaal bo-oor die lawaai van snare wat ingestem word of mikrofone wat getoets word of die drommer wat sy ‘runner’ in jou ore oefen. Piet het ‘n gehoorapparaat gedra. Die oorverdowende baskitaar wat hy bespeel het oor die jare heen se lae oktawe het sy merk gelos. Die wêreld sou hom nie meer kon gebruik, maar die kerk het hom waardeer. Piet kon enige instrument bespeel en as dit sy groep se beurt was, was hy ook die Sangleier. Hy het ‘n stem gehad soos Jim Reeves. Rustig, vol met lae bas.
Ek onthou sy storie. My vertel hoe hy afgemat, dronk en natgesweet na ‘n helse deurnag op die dansbaan, by sy huis instrompel. Neerplons op die bed net om orent te beur as die naar hom oorweldig of drugs nie hul kant bring. Sy kragte uitgesuig. Hy het nooit gepraat oor dit wat verkeerd geloop het in sy eerste huwelik. Piet het egter ‘n probleem gehad. Hy het aan die oorkant van ‘n raserige pinkster kerk gewoon. Wanneer hy wou rus, het hulle losgetrek met drom en snaarinstrument. Dit het hom geïrriteer, want sy babalas het gepyn en kop gedoef-doef.
Donderdag-aande was daar geoefen by die kerk. Dan was hy nugter. Sy lyf sou nostalgies die melodie se ritme voel. Wysies wat herhaal word het vir hom bekend geraak. Die woorde van lofprysing teenoor ‘n onbekende God het vorm begin aanneem. Dit het hom vrek nuuskierig gemaak. Sy are het sy skeppingsdoel begin klop en pomp op die maat van die musiek. Soms sou hy onbewustelik van die liede neurie in sy slaap: “Amazing Grace, how sweet the sound, that saved ‘n wreck like me ...”
Toe begin hy wonder hoe dit sal voel om in die kerk musiek te maak ...
As ons vir mekaar een vinger gooi, (dis nou Piet en ek) dan speel ons in die F-sleutel. Twee vingers beteken “B-flat Major”. En so voort. Musikante het baie nonsens, en moet jy hare op jou tande hê om hulle happy te hou. Voorwaar ‘n uitsonderlike emosionele kreatiewe spul met uiteenlopende geite. Kunssinnig saamgeweef met ‘n fyn aanvoeling vir atmosfere en probleme. In plaas van om dit in musiekklanke uit te druk verkies hulle soms die groen monster. Ontvlam maklik teenoor mekaar, of voel bedreigd? As jy vinnig geduld en wysheid wil aanleer, loop ‘n jaar saam ‘n musiek, klank en sangspan.
Piet-Kitaar het tot bekering gekom. Die rook en drank gelos, of hulle vir hom. Sy longe het egter die letsels gedra en sou hy soms onbedaarlik onder die preek begin hoes. Alhoewel hy heel voor in die kerk gesit het, omdat hy so beter kon hoor, het hy geweier om op te staan onder sy hoesbuie. Dan het die gemeente maar namens hom afgesluk of asem ingetrek.
Daar is heelwat ‘Piette’ in die kerk. Daarom het Piet, Piet-Kitaar geword. Snaaks, met Piet-Kitaar het ek geen drama gehad. Miskien het sy witkop wysheid gedra. Jou mees begaafde musikant gee nie soveel probleme. Die groen monster sit nie op hul skouer. Want hull het dit net. Hoef niemand te beïndruk. Speel enige lied of akkoord sonder musiekblad en kan sonder vingtertaal regkom. Is die ander vêr vooruit. Piet was so.
Hierdie tipe musikant, wat slegs 10% uitmaak van alle musiekspelers, bly nie lank in ‘n groep of een kerk nie. Wil altyd wegbreek na meer uitdagende weivelde. Wil eintlik die kitaar alleen slaan. Ek ken hulle harte. Raak gou verveeld in ‘n vaste groep en haat roetine. Is altyd laat en moenie hulle glo om vir ‘n byeenkoms op te daag.
Piet, het jy geweet die lewe is net ‘n briesie, ‘n grashalmpie?
Gisteraand na oefening, terwyl die ander afstap om ‘n draai te gaan loop, swaai Piet na my. Hy wil vir my iets speel. Ek sien die opgewonde blink in sy oë. Hy het ‘n liedjie gedig en wil weet of dit vir die kerk aanvaarbaar sal wees. Ek knik.
Ek herken dadelik “Loslappie” se wysie. Sommer al by die ‘intro’. Bid jou aan - Loslappie in die kerk!
Vanuit die kant van my oog sien ek hoe Piet se lang lyf tempo vang en sy krom vingers aan die snare gom. Oë bottoe. Skielik gryp die ritme my lyf en onbewustelik streel my vingers oor die klawerbord. Alles kom saam en hoor ek hoe die dromspeler ook begin saamspeel. Piet sing:
Ek wil huistoe gaan, na Jesus toe
Laat die wiele rol...
Die kitaarmeester is huistoe. Ongelooflik! Sondagaand sommer in sy slaap die ewigheid ingestap. Geen pyn of hartseer. Die woordskepper van “Ek wil huistoe gaan, na Jesus toe...“ op die wysie van Loslappie gee sy droom polsslag-vlerke. In my verbeelding sien ek sy kitaar-lyf opkrul in ‘n diepslaap, vir die laaste keer. Onbewus daarvan dat sy plekkie op die verhoog leeg is. Ek pik ‘n traan:
Dis reg Piet, ek vra nie vrae. Stuur solank groete aan my ouers...
Trienie


Kommentaar
Hello Trienie
Die een of twee vingers moet natuurlik op of af wys, tensy julle vooraf afgespreek het om niks te speel wat 'n kruis in het.
Hallo Trienie
Toe ek hierdie Piet-Kitaar storie lees, hoor ek amper 'n tannie 'n besonderse storie vertel. Sy klink amper oortuigend.
Party goete moet uit, sodat ek haar nie amper hoor nie, sodat ek haar duidelik hoor storie vertel. Sny, Sussie, sny! Sny asof jy donners duur vir lugtyd moet betaal waartydens jy hierdie besondere mooi storie vertel. Doen eerstens weg met onnodige vrae vra aan die begin. Tannies wat goed skinner weet mos wie en wat is die mense waaroor hulle stories vertel. Gebruik sodanige kennis as vertrekpunt en as grondslag vir die skryftegniek.
"Piet-Wiel", nes al die seuns wat saam met hom gestort het op op koskool, het die naakte waarheid geken oor wie was Piet-Wiel en waarom die bynaam "Wiel" vir hom gegee is. Hulle het ook geweet waarom hulle om 't dood nie ooit regstreeks met 'n vuil woord na Piet in goeie geselskap sou verwys nie.
Uit wat ek in jou storie lees, besef ek dat jy eintlik vir Piet-Kitaar net so goed ken as wat ek en my mede-kosgangers vir "Piet-Wiel" geken het, maar jou kennis nie ten goede van storievertel aanwend nie.
Maak die Loslappie-verwysing relevant. Bring die betekenis (miskien ook die inhoud van die liedjie in die storie in, want dit klink interessant en is nie algemene kennis nie, tensy ek net besonder onkundig is.)
Dese kom van 'n man wat nie kerk toe nie, en wat nie met Jesus behep is nie, maar wel met empatie, menslikheid en besonder goeie skryfwerk, of te wel - storievertel . Jy is byna daar, Trienie. Druk deur!
Mmmm Mr Chris
Jou kruis laat my wonder of jy tog iets van musiek af weet. Hoop so. Ten minste mag ons iets vind om oor saam te stem?
Dit ís nogal 'n oulike stuk en ek stem saam dat die vraag aan die begin lastig is. Vir my net so lastig in baie van haar skrywes, is die feit dat sy nie altyd die dubbel negatief gebruik nie. Die stukke lees dan nie lekker nie. 'n Hele paar SêNetters is skuldig hieraan.
Iets anders is dat sy dikwels skryf "saam" ipv "saam met". As ek sê ek gaan saam Marie fliek toe, is dit 'n ongemaklike, onvolledige sin. Die regte manier om dit te sê is: Ek gaan saam met Marie fliek toe. Die Engelse with het nie presies dieselfde betekenis as die Afrikaanse saam nie. Dit is na my mening nader aan die Afrikaanse met.
Ek wens Jan Rap wil meer op die mense hier se taalgebruik let en hulle reghelp, eerder as om briewe te rig aan die SABC, wat hulle in elke geval nooit lees nie.
Henk Seymore
Jinne - baie dankie die uitstekende raad. Ek gaan dit myne maak.
... punt is Henk; Trienie Mahne het min saak met enige sentiment buiten om harte vir haar "liewe Trienie pot" te probeer roof ... steel sy joune en hou jy van haar, dan hou jy ook van Jesus ... 'n mens noem dit eintlik "relationship selling" ... die regse Bybelbelt in Amerika met hul charismatiese shows, volg dieselfde styl ...
Tiens
Ek dink dit is 'n goeie voorstel. Kan Jan Rap ons nie help nie? (Sorry die vraag) Soos Tiens dit gedoen het. Baie van ons is juis hier op SêNet om ons skryfvernuf te verbreed. Dalk gee webvoet toestemming daartoe en kan dit die Afrikaanse standaard hier opgradeer. Skryf en leer!