Piet en die dief (L P)

  • 0

Ek het beduie van Piet. Rietskraal en baie onoplettend. As dit hom pas. Lieg vir die Blou Dam en baie meer lief vir vir sy dop. Piet se regte naam is beslis nie ter sprake nie. Om logiese redes ...

Hierdie het weereens, regtig gebeur en dis op rekord:

Piet het doerie tyd nog die supermark bestuur. Voor dit uitgekoop is deur een van ons bekende kettinggroepe. Toe was dit nog nie blink vloere en duur produkte en duurder advertensies wat weerlose verdwaaldes oortuig om te koop op die hoek onbewustelik ten duurste nie.

So vang hulle 'n winkeldief. Omdat dit 'n daaglikse gedoente is raak enigeen maar gatvol en Piet besluit dis nou tyd om die hele besigheid so ver as moontlik van die owerhede weg te hou. Tyd om self aanklaer en sommer poliesman en die hele lot te speel. Piet beduie vir sy manne om die winkeldief saam te sleep agtertoe. Ver agtertoe. Deur die stoor, verby "Receiving" helemaal agtertoe waar niemand gaan hoor as daar krete geuiter word nie en as iemand wel gaan hoor dit as normale byklanke geoordeel sal word. Piet beduie sy manne om die winkeldief sommer aan die traliehok vas te boei sodat hy later die bliksem se gal kan werk.

Jy weet mos egter hoe dit gaan as dit Vrydag en boonop einde van die maand is: dit is besig, man en dis lone en dis opkas en jy moet maak lat jy by die golfklub kom want die vure brand al van vroegmiddag af hoog en jy kry al die reuk van skroeiende vleisies en die dop wink. Piet het gesluit en is vort. Saterdag is dit 'n maandeind Saterdag en jy weet hoe dit is as jy nog winddronk moet winkel oopmaak en eers hier teen drie uur die middag begin reguit dink. Want laasnag was rof en sesuur die Saterdag is dit basies Vrydagaand net op vol sterkte. Want nou is daar 'n dametjie wat ontklee en mammie is besig met die klogoete en jy is in 'n dringende vergadering.

Hulle beduie vir my dat Maer Piet Maandagoggend homself hier teen 10 uur se koers vir die eerste keer in meer as 'n maand nugter skrik: Een van die personeel kom rasend en beduie dat daar 'n nare klank van agter kom. Nie van die stoor se kant af nie, verder agtertoe.

Winkeldief hang toe nog net so aan sy boeie soos hy Vrydag vergeet is. Met die verskil: die natuur het intussen geroep en aanhou roep. En toe niemand die noodkrete hoor nie het winkeldief bloot laat loop en homself, wel, jy kan jou indink ...

Dit het lank gevat om winkeldief af te spuit. Piet het basies die man se klere laat uitbrand want skoon kry sou nie werk nie. Mens kry nie drie dae ou stront uit klerasie nie. En al kry jy dit uit raak jy gewoon nooit van die klank ontslae nie.

Winkeldief het uiteindelik vir Piet baie geld gekos want Piet het hom laat uitrus van kop tot tone, kouse en skoene tot 'n nuwe tanneborsel de lot. Hulle sê Piet het die arme man selfs 'n trollie aangebied om te shop tot hy letterlik neerslaan.

Hulle sê Piet het die man beduie dat hy, as hy uitstap met die trollie sommer die trollie ook kan vat. Net ingeval hy vervoer nodig het.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top