Pappa – ek soek my eie toilet

  • 2

Ek luister na RSG wat gesels oor die familie wat besluit het om ’n maand in ’n shack tussen die armes te gaan woon. Dit laat my terugdink aan die naweek ...

Ek en manlief in die berge. Besig om langs asemrowende watervalletjies vir ons ’n shack te bou. Ons hamer en boor self. Net ’n klein balkhuis vir wegbreektye. Die grond skenk sy eie bloekoms en dennehout, jy moet net saag-kreatief raak. Nooit gedink dis die kromste en hardste boumateriaal om mee te werk nie. Die waterpas werk oortyd en is daar geen elektrisiteit. ’n Donkie moet nog gebou word vir warm water.

“Pappa,” herinner ek manlief terwyl ons balke aandra en die gewig daarvan lood op my skouer word.  “Ek soek net my eie toilet ...”

Ek is nie kwasterig nie. Ken swaarkry, het as plaasmeisie grootgeword. Onthou hoe pa vir ons op die nuwe plaas onder die grootste maroelaboom ’n shack opgerig het. Van sinkplate. Onthou hoe hy V-vormige latte uitgesoek het, die bas versigtig gestroop, sodat hy kon water aanwys daarmee. Dae lank was die doef-doef van die stamperboor in my ore, net om te sien hoe hy agterna die latte wegsmyt en verruil vir drade. Dan sou ek voor die klavier gaan sit en tokkel. Dié het op ’n ereplek gestaan in die shack, in die hoek langs die venster langs pa se trekklavier. Die slange het van klavierspel gehou. Vanuit die hoek van my oog sou ek die flits gewaar.    

Ek ken van bad in koue water. As plaaskind alleen die stofpaadjie na die ‘longdrop’ geloop waar die botterspinnekoppe wat so groot is soos my hand, hul webbe oorspan. Sonder skoene skooltoe gegaan. Wintertye was vrekkoud! Op pad busstop toe was dit nie snaaks om op ’n half gevriesde slang wat in die voetpad lê af te kom nie. Hulle het ook gewag op die die eerste hitte-straal. My broer kon hul maklik doodgooi want hul kon nie vinnig wegseil nie.

Maar hier, by die shack, is dit vandag vir my moeilik om lank op my hurke te sit. My bene nie meer so fiks en buigsaam. ’n Stewige emmertjie werk beter. Maar dis nie lekker om met die grafie tot onder in die kloof af te klim om begrafnis te gaan hou nie.

“Pappa,” sal ek kortasem versoek wanneer terug by die shack. “Ek soek net my eie toilet asseblief, ek moes 3 keer stop om te rus.”

Ons bad in ’n swart ovaal plastiek-skottel. Die grootste wat ek kon koop. Dan kook jy fonteinwater op die vuur en meng dit saam koues. Hierdie bergwater is borrelend skoon en kan jy lekker skuimbad, sonder om te worry of jy soos Seuna se visse gaan vrek wat in dorpswater probeer oorleef.

Dié landgoed het in die setlaars se tyd aan die Makgoba-stam behoort. Een van die laaste en moeilikste om te oorkom so 140 jaar gelede, want die klowe en berge was wegkruipplek. Later is grondeise opgelê, maar gedeeltes teruggegee. Glo onbegaanbaar vir boerdery. Gelukkig het die boere weer plan gemaak en hul ossewaens 4x4-tekkies opgesit. Maar die Drakensberg sal ons oorwin! Daarom die voorreg dat die waters hierbo nog drinkbaar is, niemand het langs die pad hul vuil wasgoed daarin gewas of beeste in laat vrek nie.

Saterdagaande sit die familie tot laataand om die vuur. Dan gesels swaer oor Johanna Brand en Siener van Rensburg se boeke. Hy meer fundamentalisties, ek meer liberalisties. Hy sien die gebeure wat kom in Openbaring so, en ek weer so-so. Debatteer lekker. Dis nou oor die bybel. Die ander vergaap hul grootoog - stry ons of baklei ons? Ek en swaer koester egter sekere dinge saam en respekteer mekaar. Want soms sal die verwondering oor Gods dinge blink oë bring, net om daarna saggies te lag vir die diep openbaring wat skielik daar is ...

Hy glo dat ons nie verniet op hierdie onbegaanbare “land van die silwer mis” beland het nie. Hy meen dat die Skrif omtrent: as julle sien hierdie dinge gebeur, moet julle na die berge vlug en wee die wat in daardie dae swanger is ...  naby is. Ek trek oog op. Hy glo dit is nie verniet dat die Here die plaas in die familie laat beland het. Want dis selfonderhoudend, dis nou as jy moet afgesny word van die beskawing. ’n Onaardig plek om ’n bergpiek uit te klim, waar min of geen mense voorheen was, alhoewel ’n Eden. Wie weet, dalk ontdek ek eendag dat swaer tog reg was ...?

Die shack is amper klaar. Ek staan met my knieë op die balk met my volle gewig, sodat manlief kan saag en saag en saag. Kop onderstebo (eintlik verveeld) loer ek na die ruimtes om my. Interessant – so  onderstebo kry dinge nuwe betekenis: die Bloukuif-loerie se rooi onder sy vlerke raak onbeskryflik mooi. Ek staar na die mis op die berg en onthou die woorde van die skrywer: “where the Wolkberg Massif rises into the clouds which gave it its name”. Ek weet al hoe om die digtheid van die mis te lees. As die derde groot boom vanaf die shack begin sigbaar word, trek dit binnekort oop. Word die boom egter wit, word jou leefruimte ook kleiner. So gaan dit maar in Magoebaskloof. Ek kan nie wag dat die vashouery moet klaar kry nie. Daar is geen tyd vir ontdekkingsreise want slaapplek kom eerste.

Maar dié naweek kon ek nie meer wag. Ek moet af na die bruisende waterval onder die shack. Moet gaan kyk wat daar onder aangaan. Dis diep en vreesaanjaend steil, maar ek is seker iewers kán jy af. Trappies moet nog gebou word en iemand moet ondersoek gaan instel. Toe koop ek ’n geel-skree ski-tou en ’n paar handskoene. Gly jy, kan jy darem daaraan hang.  

Ek begin afklim. Maak die tou vas van boom tot rots. Klim stadig en versigtig af. Verkies om nie na benede te kyk, verseker sal jy jou dood val. En manlief is mos naby. Soos ek afsak hoor ek hom bo my boor en saag. Hy is besig om ’n moderne toilet in die shack te installeer. Ek ruik reën en blaarmis.  

“Ek wil net kyk wat hier onder aangaan ...” roep ek na hom. Gelukkig het ek ’n speaker ingesluk. Nogal handig met groot gehore. Manlief daarinteen, het ’n sagte fluweel-stem. Op ons troue het hy vir my gesing “You by my side, that’s how I see us ...” terwyl ek die kerk met my wit trourok as maagd ingesweef het.  

“Is reg vroutjie,” skree hy terug. Hy weet ek is verantwoordelik. Of is ek? Adrenalien bruis deur my are. Die afklim is pynlik stadig. Vasbindplekke verder van mekaar as wat ek gedink het. Soms draai ek die tou 2 keer om my arm. Dan is daar net ’n wortel om die tou deur te hak. Die 30m af ondertoe voel soos 3km. Onder maak die tou dit net. Ek blaas asem uit. Die kabbelende watervalletjies slaan my asem weg. Die woud is oortrek met varings, wilde piesang en reuse plante. Ek voel soos Tazanna in hemelland. Regoor die riviertjie, soos ’n brug, lê ’n massiewe ontwortelde boom. Erg gereën voorheen? Waar loop die water as dit afspoel? Ek frons. Is die shack ooit hoog genoeg gebou? Ek druk my vinger in die boom se holtes. Dis uitgehol soos ’n lang blombak en oortrek met mos en rankplante wat soos spookvingers afgroei na die water. Langs die walle na boontoe is swart klipbanke met donker gleufholtes. Ek staan in ’n paradys, op ’n plek in ons land waar jy nie hoef te vrees vir aanvallers en tyd stilstaan.

’n Klip knars. Bosvark? Ek trek asem in. Moet terug. Terwyl ek myself met die tou na boontoe optrek,  begin die eerste spier rebelleer. Sjoe, is ek so onfiks? Staande rus ek rukkies. Begin effens onrustig raak. Met ’n klip of stok kap ek holtes in die grond om trapplek te maak. Ek weier om af te kyk. Die boonste lys is so naby, maar tog so ver? Skielik besluit my beenspiere tot hiertoe en nie verder ...

“Help, help!” roep ek benoud na manlief, hoop nie hy dink ek grap nie. Langs hom hoor ek die geluid van die kragopwekker. Gaan hy my hoor? Ek draai my speakers se volume vol oop. “Dirk!” gil ek. Hy weet as ek hom op sy naam noem is ek kwaad of ernstig. “Jy sal my moet kom help. En baie gou ook!”

Dirk skrik. Gooi tools neer. Reg bokant my sien ek net die blonde kuif van sy kop wat verbystorm. Natuurlik weet hy nie waar ek die krans af is nie! “Nee, terug, hierdie kant toe. Kyk waar is die geel tou!”

Agterna kon Dirk nie ophou grinnik. “My vrou, wat het jou besiel?” Ondeund loer hy na my terwyl ek my beenspiere vryf. “In elk geval vat jy nie ’n krans reguit af nie,” spot hy. “Jy klim met S-draaie.”  Ek antwoord nie. Dan sou die tou te kort gewees het. Ek word rooi. Hierdie bal moet ek so gou moontlik terugspeel.

“... in elk geval pappa,” sê ek onthuts. “is my toilet al klaar? Onthou, ek bly nie hier as ek nie my eie toilet het nie!”

Trienie Mahne

  • 2

Kommentaar

  • Dankie Trienie, vir  "n  lekker onderhoudende  en mooi geskrewe  Trienie-verhaal! Dalk is 'n shack in die Wolkberge net wat ons stedelinge nodig het om weer mens te word! Lucas 
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top