Paaie-kenades

  • 1

Aangesien my plek van brood-en-botter verdien ‘n entjie van my kuier-en-slaapplek is, spandeer ek noodgedwonge ‘n uur of wat in die voorstedelike verkeer, elke dag. Om verdere relevansie aan hierdie storie te verleen, is dit belangrik om te weet dat ek glad nie ‘n aggressiewe bestuurder is nie, inteendeel, waar ek voorheen ‘n haastige klong was, is ek nou ‘n rustige outjie. Ek hou daarvan om ordelik te bestuur en om padreëls te gehoorsaam. Ek hou daarvan om bedagsaam te wees en my mede-padgebruikers vriendelik te behandel.

Daar is egter twee dinge wat my bloeddruk so laat toeneem dat my ore toeslaan en ek nie eens smorens RSG se nuus behoorlik kan waardeer of saans op pad huis toe, my gunsteling, Jan Blohm kan hoor sing nie. Laasgenoemde is opsigself reeds gronde vir ’n stywe onsteltenis.

Êrens moet daar tog ‘n ongeskrewe ooreenkoms bestaan wat bepaal dat die algemene verkeersreëls nie op motorfietse en die viertrek-hoogry-kom-ons-kampvoertuie van toepassing sal wees nie. Heel moontlik word hierdie ooreenkoms aangegaan wanneer die leerlingbestuurders eksamen vir motorfietse aflê en wanneer die strik van die 4x4 se enjinkap verwyder word. Want daarvandaan is geen verkeershandboek vir hierdie ouens meer heilig nie.

Verskoon my vergrype na veralgemening, maar aangesien my ervaring subjektief is, het ek geen ander keuse as om die eenderse kam vir almal nader te hark nie.

Amper elke oggend, veral nou terwyl die winterweer in die Kaap sy kant bring, is ek in ’n woordestryd met die groot karre op my stert gewikkel. Dié wat oor die wit lyne kruis en dwars sny sonder agting vir enige reël.

Vanoggend weer, sien ek hom aankom; ’n groot dubbelkajuit daktent-draende bergklimmer met seker ’n stuk of sewe “spotlights” aan. Dit lyk of die maan omgeswaai en hier agter in my baan kom rus het; of miskien is die haasjagseisoen oop. Wie weet, maar ieder geval die affêre sit die heel ent af in Durbanweg op my modderskerm; die ding se enjinwalms lyk soos die warmbaddens in Langstraat.

Ek het sommer lus en trap die briek... maar dan ry die ou seker bo-oor die sedantjie!

’n Ent voor die aansluiting by die Nasionale Pad raak die bane meer en nou moet elke bestuurder sy baan kies, wel, dit geld natuurlik net vir sekere bestuurders. Die grofgeskud se bestuurder druk eenvoudig die ryding se neus oor twee wit lyne en kom sit hier voor my in die pad soos ’n lamppaal wat voor ’n voetganger inspring!

My gedagtes dwarrel en my gemoed raas, my palms raak sweterig en ek wil-wil die naasteliefdegebod vir ’n kort rukkie ignoreer. Toe sien ek die hý... is nogal eintlik ’n sý.

Nou-ja, hoe gil ’n man op ’n vrou wat duidelik die monstertrok bemeester het en dit as aanvalswapen mag gebruik én voor jou in die pad is?

Die gedagtes van die oggend se ervarings het gelukkig saam met die Kaapse mis verdamp; tot dit natuurlik huistoegaan tyd was.

Die motorfietsryers wat smiddae dieselfde pad as ek huis toe neem, is sonder uitsondering en met versteurende reëlmaat altyd voor my tuis. Eenvoudig net omdat hulle nie agter in die ry van die verkeer hoef te wag nie. Nee, hulle kan sonder aarsel binne die geel sperstreep of selfs oor sypaadjies ry. Hulle kan oor dubbel sperstrepe en om draaie verby gaan waar ‘n “spietkop” ‘n motoris met duisende sal beboet. (Behalwe natuurlik soggens, smiddae en saans, wanneer daar nie ’n blou lig in sig is nie.)

Hulle kan voor motors indraai en uitswenk vir ander, net waar en wanneer dit pas. Hulle kan 0-100 versnel en voor die res van die verkeer uitjaag en dieselfde spoed in ‘n 60-sone handhaaf. Hulle kan die verkeerkameras ontwyk. Hulle kan en hulle het my nou so pas, goed gatvol gemaak.

Getrou aan ons Calviniste se voorskriftelike aard van verdraagsaamheid, probeer ek my absolute menslike bes om perspektief te behou. Ek bedink en beredeneer hierdie stryd wat ek met die ander padgebruikers voer van elke denkbare hoek. Miskien lê die probleem by my.

Moontlik wil ek ook heimlik ’n monsterlorrie met ’n daktenk en gasbottels en grawe hê om mee kantoor toe te ry. Of miskien om enige plek op ’n sypaadjie te parkeer; of om te weet die kleinkarretjiemense gaan nie met my sukkel nie!

Of, is ek net jaloers omdat ek nie ‘n ysterperd tussen my bene kan vasklem en met soveel krag wegspring, dat daar rekmerke op my nekvel vorm nie. Miskien wil ek ook die bewerasie onder my sitvlak en die leer op my bors voel; of moontlik is dit iets van die relatiewe vryheid om slegs aan twee bande op die teer te dink.
Moontlik weet ek nie regtig nie.

Uiteraard sal al my pogings om tog ‘n positiewe waarde aan my gedagtes te koppel, op niks uitloop nie. Die frustrasie van die blatante wetsoortreding sonder respek vir ander padgebruikers, oorskadu op hierdie oomblik die bewustelike se soeke na billikheid.

Ek vra myself egter tog: het ons as gemeenskap, ongeag van geloof of ras of haarkleur of taal of kultuur of drink of nie drink nie of selfs politieke oortuiging, so baie van ons karakter en integriteit verloor dat die mees basiese sin vir orde nie meer die nodige bindkrag het nie?

  • 1

Kommentaar

  • Praat jy nou wat tanne het. Ek ken die Kolonie se mense nie. Nie eende van my dam nie. Ek het vir twintig jare in Pietoria gewoon. In 'n nuwe Oostelike voorstad. Toe kom die ekonomiese bloeitydperk en die demokrasie. Toe verander die gebied oornag. Ek moes een oggend by 'n vulstasie uit die pad spring toe mammie in die trokkie met een moerse spoed wegtrek. Dit is nadat sy die kindertjies in hul sweetpakkies een een vasgegespe het en sy haarself agter die stuur ingehys het. Ek is ook op 'n slag deur 'n dame met opgeklitste hare tot 'n dun sousie gevloek. Ek kon nie hoor nie maar ek het die lippe gelees. Die mense in die Kaap in gebruik die woord lekker en dit kom na  "Djou ma .....". Ek het menige keer vir my vrou genoem dat ons uit die dorp moet padgee want ek wil nie as vroueslaner gebrandmerk word nie. Ons het toe geskuif. Hier in die Kwaaizoeloe Natal is dit weer iets anders. Ek los dit maar daar.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top