Oulike program op KykNet

  • 3

Ek sien nou die aand ’n uiters interessante program, eerste van ’n reeks genaamd Megaboere. Die boer was ’n ene mnr Karsten van die firma / plaas Kartsenboerdery en die programleier / onderhoudvoerder was prof Piet Croucamp.

Natuurlik, met daardie prof in die omgewing moet politiek ingesleep word en dit was toe ook so; hier op ’n stadium herinner Piet die boer dat hy gesê het dinge het sedert ’94 verbeter. Jy kon behoorlik sien hoe Piet se stralekrans met ’n hele paar lumen opskuif toe die boer vertel hoeveel beter dinge sedert '94 vir hom geword het.

Die ware rede vir die spesifieke boer se prestasie is egter nie die sogenaamde demokrasie per se nie maar die feit dat allerhande boikotte en sperverdrae opgehef is. Sy mark het dus vergroot. Vir die meeste gewone boere was hierdie hupstoot nie beskore nie inteendeel, dit het ’n tydperk van drastiese agteruitgang ingelei. Behalwe die hopelose toestand wat betref sekuriteit en veiligheid kan min boere met ’n volle ywer boer want hy is nie seker of hy die volgende dag nog sy plaas gaan hê nie.

Ook beduidend is die superboer se stelling dat sy grootste kompetisie nie die buiteland is nie maar plaaslike boere; as sy buurman byvoorbeeld minder aan opheffing en hulp aan die gemeenskap spandeer is dié se insetkostes laer en gevolglik sy pryse ook. Hierdie feit is natuurlik ’n verdere remskoen vir die gewone boer; sou die owerheid hom wetlik verplig om al hierdie opheffing te doen en gemeenskapshulp te verleen raak sy insetkostes onhoudbaar en hy kan glad nie met die groter firmas/boerderye kompeteer nie. Hy boer dus uit en nog ’n klomp werkers is werkloos en die gemeenskap raak net meer hulpbehoewend. Wat ’n gemors.

Jan Rap

  • 3

Kommentaar

  • Beste Leser van Jan Rap se briewe,

    Kerneels Breytenbach, een van Afrikaans se beste woordsmede, skryf onlangs (16 Maart) in 'n resensie hier op LitNet oor Danie Botha se boek, Die helder dae, die volgende: "En tog kan mens maar begin soek na ’n geseur oor die negatiewe dinge van die lewe; jy sal dit nie kry nie." Wat 'n skitterende voorbeeld waar Afrikaans alle gekla, geneul en negatiwiteit saamvat in een gevoelswoord.

    Jan Rap noem sy skrywe hierbo "'n Oulike program op KykNet" en met die lees van sy opskrif toe dink ek, hier kom iets positiefs. Ek het ook die program gesien en dit het 'n sterk positiewe aanslag gehad, met 'n realstiese uitkyk op die uitdagings waarmee boere daagliks te doen het.

    Wel die hoop het beskaam. Lanklaas in my lewe het ek iemand iets so positief soos hierdie program, sien inkleur met sy eie negatiwiteit soos wat Jan Rap hier gedoen het. Ek hoef nie voorbeelde te gee nie, die woorde in die skrywe skreeu dit uit: "...drastiese agteruitgang...sogenaamde demokrasie...politiek ingesleep...hopelose toestand...verdere remskoen...ens, ens..." Dít terwyl hierdie program gefokus het op een van dié suksesverhale in SA landbou!

    Met apologie aan Kerneels Breytenbach. In elke skrywe van Jan Rap sal jy 'n geseur oor die lewe kry.

    Dirk Rigter

  • Jan ek het toevallig ook na die program begin kyk totdat groot Piet sy verkyning gemaak het. Natuurlik sal die knaap politiek insleep. Soos op verskeie vlakke van die ekonomie waar die manne sukses behaal sal alles met die termyn voor 94 vergelyk word. Asof hier vet mooi nokkol voor 94 gebeur het. Die Afrikaanse kanaal word nou soos 'n bende. Al die maatjies wat uit een mond praat word nou saamgegooi en praat mekaar na. Dit is eintlik pateties.

  • Beste leser van Dirk Rigter se kommentaar

    Dirk Rigter dink ontkenning is dieselfde as positief wees maar hierdie siening van hom geld slegs waar dit hom en ander 'liberales' pas (ek sit 'liberales' in aanhalingstekens want hulle is aartsverkramptes, stroomafdrywers). Jy kan die vorige bedeling (in effek die Afrikanerregring) verguis; slegsê dat die see hulle nie kan afwas nie en dis in die haak, dis nie negatief nie.

    Maar moenie laat Dirk jou vang iets sê teen die bedeling wat hy tot stand help bring het nie; dis negatief, hy wil dit nie hoor nie ten spyte van die feit dat dit die waarheid is soos gesien kan word aan die gedurige geweld, vernielsug en wrede moorde.

    Dirk is soos baie van ons predikante, hulle draai kop weg wat die gemors betref want hulle wil nou nie 'alarmisties' wees nie. Dieselfde met Dirk (en RSG nou laat ek daaraan dink); hy wil nie hoor dat Rome brand nie want dit is nie poooositief nie.

    Jan Rap

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top