Opstandig, in hoop

  • 1

Baie mense op baie plekke het baie dinge te sê oor baie dinge waarvan hulle baie min weet.

Vanmore in die drukgang van die voorstedelike verkeerskonfyt, oppad na die verdienste van ons daaglikse brood en botter en ham, kon my ore nie help om te hoor nie en my gedagtes nie help om aan die insetsel op die draadloos oor plaasaanvalle in die Vrystaat, te dink nie.

Terwyl die treffende hoorbeeld en onderhoude ’n prentjie van hartseer, angs, woede en deursetting behoorlik inkleur, het daar ’n stukkie opstandigheid hier diep, êrens uit my onderbewustheid, losgebreek. ’n Opstandigheid wat die empatie wat die omroeper / verslaggewer vir plaasaanvalle het, wil wegwens en met empatie vir alle slagoffers van geweldsmisdaad wil vervang.

’n Opstandigheid wat ’n keel en stembande wil groei en op die naaste seepkis wil gaan klim om hoorbaar aan die wêreld te verkondig: “Ek wil nie meer van ander se seerkry hoor nie; ek wil nie meer in ander se verlies en hartseer deel nie; ek wil my eie pyn en saamdra-lyding gesond, vergewe en vergete kry!”

‘n Dekade en ‘n bietjie gelede, toe die treë van die nuwe Suid-Afrika nog vars spore in die nat gedoude lewensvoetpad van ons burgers getrap het, toe het ek en ‘n klompie ou kennisse die bitter van wat sal volg ervaar. Dit is statistiek wat vandag nie meer onthou of bekend gemaak word nie. Die dossier wat een skrikwekkende Vrydagmiddag geopen is en onverwerk, uiteraard onafgehandeld en indien nie verlore nie, nooit die gestapelde tafel van ’n staatsaanklaer gesien het nie.

Dit is juis dít, wat die vonk in die opstandigheidskruitvat veroorsaak het.

Terwyl ek in die vorige en gestorwe deel van my bestaan die twyfelagtige voorreg gehad het om groot gedeeltes, spreekwoordelik, glad geplaveide paaie van die lewe te bewandel, het ek en ’n kollega een Vrydagmiddag ’n sak vol geld by die bank gaan haal om vir sy boukontrakteur te gee. Soos oudergewoonte, was die tweeweeklikse takie sommer ’n gou-gou in-en-uit by die bank, voor ons die pad na die boumeester se kantoor-huis toe gevat het.

Fortnight.” Vrydag is ’n wrede instelling in die Kaap.

Met die stilhou voor die huis, staan daar hoeka ’n versameling sub-kontrakteurs se bouersbakkies die straat-af. Net voor ek by die oop staalhek instap, lui my selfoon.Ek maak my gesels buite die huis klaar en stap in, sonder om die staalhek agter my toe te trek...

Tot op hierdie dag toe, kan ek nie onthou waar hulle vandaan gekom het nie. “Where’s the money?”.... en die pistool se koue loop onder my ken terwyl die bliksem my bakkie sleutel en goue Cross-pen uit my sak haal, het vinniger gebeur as my herinnering daaraan. Ook die instinktiewe afkyk; opgediep uit die woorde van een of ander omroeper wat eendag iets gesê het van... “moenie vir hom kyk nie” en ook die amperse verlies aan beheer oor my blaas.

Toegesluit in ’n slaapkamer wat gedien het as ’n kantoor, kon ek net luister hoe die ander mede-gevangenes ontsnappingsplanne maak en aksies beraam. Ek wou daai dag nie ’n held gewees het nie; is nou nog nie.

Die verlies van die geld, bakkie sleutels en pen was genoteer op die Polisie se klagstaat. Gelukkig kon my horlosie die aanslag oorleef. Dit sit aan my regterarm en die rowers het almal se linkerarms bevoel.

Die verlies aan ’n stuk van my manwees op daardie dag en in die deurdrenkte jare daarna, was egter beslis in die boek van die lewe aangeteken, maar hopelik ook, deur die bloed van genade uitgewis.

Op die deurdrumpel van ons ekonomiese hartland, sit talle gemeenskappe wat in die wurggreep van misdaad vasgeklem is. Mense wat dit elke oomblik van elke dag en nag ervaar; nie net met sporadies inbrake nie. Mense wat nie op plase woon nie, maar midde-in die uitvaagsels van hul gemeenskappe.

En, terwyl ons Calvyne wetend of onwetend dit miskyk en uitreikspanne met tandeborsels en lappe Thailand, Irak, Mosambiek en waar ook al stuur, is hierdie krakende smeltpot besig, om vinniger as wat ons dink, die voortbestaan van ‘n generasie in te sluk. Tot die dag wanneer ons in die warmte van ons veilige woonbuurte die realiteit van misdaad ervaar en ons dan ons hande saamslaan en vra: hoekom dan ons, Here?

Die verslaggewer van Bloemfontein wat die radio-hoorbeeld help vorm het moes, na sy oor ’n plaasaanval en -moord berig het, haarself vir berading aanmeld. Enersyds beklemtoon dit die gepaste getuienis vir die bestaansreg van ’n sensitiewe en kwesbare geaardheid, maar ook die dringende aanklag teen dié van ons, wat glad nie of amper te laat, hulp gaan soek het.

Baie mense op baie plekke het baie dinge te sê oor baie dinge waarvan hulle baie min weet; dit sluit hierdie swakkeling in. Alhoewel, te midde van aanvalle op plase, kleinhoewes, huise, hutte en strate, moet ons aanhou vra vir hoop, voltyds glo in hoop en al struikelend bly opstaan, om te lewe in hoop ...

Enigste hoop
Hennie Fritz

Moeders huil, wyl Vaders dros -
‘n gemeenskap is in gemors.

Booswigsweë is nie moeilik om te vind –
dit lyk my die wêreld is finaal verblind.
Want wat die mens versuim om te sien
is die geknoei van sy samelewing siek –
kinders roof en kuier die net
hul tuiste bloot ‘n skuilplek, weg van die verdriet;
van 'n vreedsame oorlog-geteisterde gebied.

Tussen die stilte van vreugdes in ‘n kinderlike lied
lyk dit wat eens reg was, nou so verkeerd.

Te midde van die chaos van hierdie wêreld
van pyn, wanhoop en haat en verraad,
en die stryende soeke na selfsug, wins en belang
is daar een ding wat ek weet,
wat ek glo met my hele hart;
dat terwyl ek my oë sluit om te bid,
kom wys my God die pad.

  • 1

Kommentaar

  • Dankie vir jou brief. Ek het nog nie persoonlik 'n aanval ervaar nie, en wil ook nie. Ek het egter al sowat vier familielede en ses vriende, almal in plaasaanvalle, verloor. Die eerste vraag wat by 'n mense opkom, hoekom word dit toegelaat en waarom die persoon. Ek kan dit nie antwoord nie. Ek wil ook nie in 'n geloofsbekgeveg betrokke raak nie. Dit het my jare gevat om te berus en vrede te maak. Ek is ook baie keer opstandig en vra wat gaan in die land aan, dit kan mos nie so aanhou nie. Ek vra myself baie keer hoekom bid ek as ek nie vertrou en hoop nie, dan is dit mos verniet. Ek besef dan ek leef op genade, seën en barmhartigheid. 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top