Op pad

  • 0

Ek wonder soms of ek die pad byster geraak het en of dit dalk algemene praktyk is, om ’n pad te “ervaar”. Soms dink ek dat hierdie gedinkery oor als en dinge wat saak kan maak, meestal oorbodig en my rede tot ’n daaglikse vars-frons kan wees. Ander dae, dink ek weer anders en besef ek dat daar êrens te midde van die gedagtes en gevoellenservarings, tog sin en rede in ’n gedinkery sit.

Tussen my daagtaak se plek en die veilige groen mure en sinkdak van ons tuiste, lê daar ’n pad wat grootliks elke dag dieselfde is, alhoewel net tot op ’n punt. Daar is ’n stuk van die werksrit wat so energiek en veranderend is, dat mens sommer maklik vandag ’n ding miskyk wat jy gister raak gesien het. ‘n Ent pad wat nooit stil en sonder ’n karakter of twee, ’n ambulans of ’n vredesbewaarder is nie.

In baie van die beskeie gediggies en opstelletjies wat ek dan-en-wan neerpen, het ek al na wedervaringe op my dagpad verwys. Ek dink aan die jong lyfverkopende meisie-op-die-hoek, skoenlapper, met haar middeljarige “ridder” in sy wit blink “koets. Of, haar verval en nuwe geleenthede vir die opkomende geslag skoenlappers. Of, die volksvreemde straatverkopers met hul goedere uit die Ooste en hul gewoontes uit Wes-Afrika. Of, die vrouens met hul geleende kapsels.

Die mense by die kruisings met die borde vol skeefgeskryfde versoeke vir geld en wense van seën, inruil daarvoor. Of, die kere wat ek deur die onderste strate van die dorp na die hospitaal toe moes gery het, om ’n siek kollega te gaan besoek. Dieselfde hospitaal se versorgers, wat hom die ewigheid ingehelp het. Die gaan en die vertrek was nooit lekker nie. Maar, op die pad wat ek ry, is daar elke dag ’n ietsie anders; elke dag ’n ietsie om te onthou ...

Smôrens hier rondom sewe-uur dan vat ek en ons jongste die pad. Hy skool toe en ek werk toe. Die gesukkel deur die lanings van strate uit ons voorstedelike bewaararea, verander maar min. Die uitsig, tuine, bome, pale, selfs die karre se mense langsaan, is meestal dieselfde. Net ’n effense skakering ligter en donkerder, soos die seisoene draai. Die daaglikse doepa-vir-gedagtes lê egter in die laaste of eerste kilometer van my werkplek af; dit hang net af of ek kom, en of ek gaan! In hierdie 1000 meter, is daar meer woelinge as by Nkandla.

Dis tien-voor-agt op ’n middel-van-die-weeksoggend. Daar voor, sodra ons agter die soveelste taxi se stoppery uitkom, wag die afdraai waar ek die karretjie se neus links af treinspoor se kant toe moet mik. Hier staan daar ’n gewillige aster op elke hoek die oggendverkeer en inwag; reg en reeds gereed vir ’n vroeë môre afleiding.

Skuins agter haar, kwansuis ongeërg al lê-sittende op ’n lae tuinmuurtjie, wag haar buitelandse baas. Hy’s ook die man wat die “supplies” aandra.

Aan die oorkant van die pad, by die volgende stopstraat, gil ’n antie van ’n bouvallige stoep af. Haar man, so neem ek aan, is op pad stasie toe. Hy “vang-trein” werk toe. Vanoggend moet die ou wikkel, want hy moet nog terug om sy vergete kospak te gaan haal. Dis ’n remult hier onder in Parow.

Skerp om die draai, is dit nog 500 m kantoor toe. Verby die ingelse oom met die kleinste, maar netjiesste huisie in die omgewing. Destyds, het Marietta Kruger een middag vir Ian Wessels op RSG ingestaan en haar onderwerp, was nogals iets in der voege van mense wat hul omgewings mooi hou deur voor hul eie deure te vee. Ek het juis daai middag ingebel en by Marietta met die Oom gespog. Ek weet steeds nie wat sy naam is nie, behalwe dat hy winter en somer, Kaapse reën of wind, die nag se gemors van die sypaadjie en uit die pad voor sy huis opvee en soms afwas.

Ek waai altyd vir hom smorens. Soms waai hy terug.

Na-middag en soms winterskemer, dan draai ek die sedan se neus om en stoot haar wind-op teen die Suidooster, terug huis toe. Maar, dan is dit nie net vir sit-die-voet-neer en laatwaai nie. Nee, dan kom die skoenfabriek, (alhoewel dit seker skoenverpakkers moet wees – ons voer mos eerder in as vervaardig) se mense van skof af. “Derduisende” opgewonde huissoekers wat nie almal plek op die sypaadjie kan kry nie, draf in die pad op pad stasie toe. Die volgende 1000 m is net mens. So in die stap-hol-stap-hop word daar gesels en gelag.

Sommige van ons “ander” sou nie kon dink dat die klomp mense, meestal vroue, so pas ’n skof op hul voete deurgebring het nie. Dit lyk eerder soos ’n klomp “Province” ondersteuners wat na ’n oorwinning, feesvierend buite “Newlands” die strate invaar. ( Iets wat seker nog moet gebeur!)

Dis eienaardig, dink ek vanmiddag, hoe betreurd en soms bemoerd die ou in sy benz of ons voorstedelike mens se amptelike voertuig, die dubbelkajuit, langs my in die verkeerskonfyt vanoggend gelyk het. Dit, in skandelike vergelyking met hierdie vriendelike mense op pad huis toe!

Moontlik is sommige mense net te dankbaar om huis toe te kan gaan en ander, moontlik net te arrogant om hul seëninge te waardeer. Môre se pad sal seker weer ’n ietsie te dinke vir my inhou; moontlik nie die volle 18 kilometer nie, maar beslis ’n deeltjie daarvan.

Ons moet net bly sien.

Hennie Fritz

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top