Dirk Laurie skrywe ’n interessante artikel oor Geestessake en die wetenskap en hoe hy meen, die twee mekaar behoort te versoen.
Dirk meen dat 'n mistikus iemand is wat soms die stem van God hoor en dat daardie sinnetjie terselfdertyd ook sy definisie van "God" is. Ek dink hy het iets besonders hier uitgelaat, want ek kan nie sien hoe daardie sinnetjie van hom ’n definisie van enigiets substantief kan wees nie, laat staan nog van God. Hy meen ook dat daar geen manier is om iets van God te wete te kom nie, behalwe jou eie mistieke ervarings en dié van mense wie se geloofwaardigheid jy as bo verdenking beskou.
Daarmee gee hy dan te kenne dat God ’n subjektiewe ervaring van Homself by sommige mense bewerkstellig en daar geen ander manier is om God te leer ‘ken’ nie.
Dirk gaan voort en sê dat die ervaring van Heilige Gees van God dan beskrywe kan word as talent in die mistieke en dit impliseer dat as mens nie daardie talent gekry het nie, so ’n mens God gewoon nie kan ken en ervaar nie, behalwe net deur die getuienis van ander ‘bo verdenking’ mense wat wél die Heilige Gees (die mistiek) kan ervaar.
Hierdie is besondere interessante sienings. Hy het dit reg wanneer hy sê dat, as mens nie die mistieke (Heilige Gees se werking) kan ervaar nie, só ’n mens dan ook nie vir God werklik kan ken en ervaar nie.
Dirk sê ook dan dat hy meen ’n ‘onversetlike’ ateïs maar net iemand met geen aanleg vir mistiek is, wat mistiek dus as selfbedrog beskou - iemand wat reg onder die mishoring sou kon gaan sit en dit eerlikwaar nie hoor nie. Maar, sê hy, 'n gelowige wat die rol van mistiek onderskat, is eweneens skuldig aan selfbedrog. Dirk emplojeer sterk argumente hier, maar ons weet dan almal dat die persoon wat onder die mishoring sit, met sy veertig of meer desibel klank en dit nie hoor nie, doof is – omdat hy waarskynlik sy ore toedruk - en dat dit nie beteken dat daar nie ’n mishoring is nie. So ook dan met die ateïs wat blind en doof is vir God.
Nog ’n interessante siening van Dirk is dat hy meen die Bybel, vir soverre as wat dit vertel Wie God is, hoofsaaklik 'n versameling getuienisse van die ervarings van mistici soos Abraham, Moses, Samuel, Jesus, Petrus, Stefanus en Paulus is. Dirk verwag dus ’n mistieke ervaring by die lees van die Bybel, oftewel, ’n inwerking van die Heilige Gees by die lees van die Bybel en eers dán verkry die Bybel werklik betekenis en verwys hy selfs na dié ervaring dat dán eers word dit die Woord van God. Hierin is hy natuurlik óók reg.
Uiteindelik, sê Dirk, wil hy ruimte hê om soos 'n wetenskaplike te dink ook binne sy geloof, om plek vir sy geloof te hê ook binne sy wetenskap. Hy praat van ware wetenskaplikes soos ons praat van ware gelowiges. Daarmee gee hy dan noodwendig by implikasie te kenne dat ware wetenskaplikes nie geloof in God uit hul verwysingsraamwerk as wetenskaplikes sal wil verban nie en dit ook nie doen nie. Diegene wat geloof en God daarmee saam wél só wil verban sonder ’n werkbare alternatief (watter gangbare alternatief kán bestaan in God se plek), noem hy treffend ‘apostels van die leegheid’. Kragtige beskrywing.
Oor die algemeen vind ek Dirk se benadering as gesond en verfrissend, veral komende van ’n wetenskaplike. Maar daar is ’n paar van sy parameters wat tot probleme aanleiding kan gee en dan ook sy siening van die Bybel se inhoud en die beweerde wisselende gesaghebbendheid daarvan, wat sommer gevaarlik is.
Dirk se stelling dat mense net van God iets te wete kom deur persoonlike mistieke ervaring van God óf deur ander se getuienis wat jy as bo verdenking geloofwaardig beskou, hou baie gevaarlike probleme in vir die pelgrim in sy reis na God, omdat hierdie argument van Dirk skynbaar nie aan geloof sy regmatige plek in die ontwikkeling tot die ervaring van die mistieke toeken nie en omdat die pelgrim wat hierdie argument hoor en aanvaar, dalk moedeloos sal word en moed opgee. Hierdie mistieke ervarings is egter die resultaat van toewyding en in besonder, van geloof. Sonder die aanvanklike geloof, kom mens nie by die persoonlike verhouding en ervaring van die mistieke, die Geestelike, uit nie. Geloof in God sonder al die kennis en ervaring, is inderdaad die wegbereider tot daardie uiteindelike kennis en ervaring en gepaardgaande vreugde in die mistieke. Sonder geloof, is daar dus niks. Dit is die geloof wat die pelgrim laat aanhou en soek en dan laat vind.
Behalwe dat Dirk hom nie uitlaat of uitdruk oor die belangrike rol van geloof nie, is daar met die eerste deel van Dirk se stelling nie substansieel fout te vinde nie, maar wat volg ná die ‘of’ is baie problematies. Dit kom in by daardie ‘óf ’ wat gekoppel word met die ‘jy as bo verdenking geloofwaardig beskou’ - daardie alternatief gekoppel met die eie evaluering van ander se getuienis. Iemand wat nie die ‘mistiek’ van God kan ervaar nie en aangewese is op ánder se getuienis daaroor, is in geen betroubare posisie om te oordeel of die ander se getuienis wél bo verdenking staan betreffende hulle betroubaarheid nie. Dit is dan gewoon ’n subjektiewe siening van ’n Geestelik onervarene (wat nie self die mistiek kan ervaar nie) wat homself met sy eie siening dien en dan baie maklik op ’n dwaalspoor kan beland omdat hy dan net sal aanvaar wat hy in sy eie onervarenheid as gesaghebbend wil beskou. Op sigself ’n baie onwetenskaplike benadering, want die toets móét altyd objektief toetsbaar wees en só ook met die God en SY Woord.
Wat die betroubare posisie sal wees, is dat ’n gelowige die mistiek (teenswoordige openbaring) van God persoonlik beleef én dan die getuies van ánder se getuienis oor hul geloofwaardige mistieke ervarings, as aanvullend ervaar en aanvaar. Slegs as mens die ontwikkelde talent het, of, soos Dirk daarna verwys, om die mistiek van God self te ervaar, sal só ’n persoon ook deur die werking van dieselfde mistiek, die werking van die Heilige Gees van God, kan weet of die ander se getuienis daarvan betroubaar is of nie – nie uit eie insig of oordeel nie, maar uit die leiding en openbaring van die Heilige Gees Self. Dus ’n objektiewe toets, onafhanklik van die mens se eie subjektiewe wil en oordeel, véél meer wetenskaplik.
Dan is daar ook Dirk se uiters aanvegbare, gelaaide stelling, dat hy nie alles en die Bybel as ewe gesaghebbend aanvaar nie. Hy laat na om direk die onderskeid te tref, maar die afleiding is dat diegene, sommige waarvan hy dan by name noem, persoonlikhede uit die Bybel, sowel as die HERE Jesus Christus, vir Wie hy (tereg) as die locus classicus beskou ten aansien van mistiek bekwaamheid, se getuienisse en mededelings wél as betroubaar bo verdenking beskou en dus as gesaghebbend, omdat hy juis na hulle verwys as voorbeelde van sulke betroubare Godvresende mistici, oftewel, deur-die-Heilige-Gees-vervuldes. Dus, die essensie van ál daardie getuienis in die Bybel is dus bo verdenking betroubaar – en in besonder dié van die HERE Jesus Christus.
As mens die werking van die mistieke in Goddelike verband korrek verstaan, sal mens besef dat dit juis die HERE Jesus Christus is Wie deur die werking van die Heilige Gees, die mistieke bewuswording en ervaring by die mens skep en onderhou.
Trouens, elders in die besprekings en kommentare wat volg onderaan sy artikel, verloën Dirk tragies genoeg sy eie aanvanklik betroubare getuienis – dat, slegs deur die mistieke ervaring van wat in die Bybel geskrywe is, die inhoud dan dáárdeur Woord van God is - in ’n belangrike opsig. Na Cornelius hom sinneloos daaroor konfronteer, trek Dirk, in wat seker maar ’n oomblik van onnadenkendheid is, sy belangrike onderskeid tussen ‘woord’ wat daar geskrywe staan in die Bybel sonder die mistieke ervaring daarvan, en hoe dit ‘Woord’ word mét die mistieke ervaring daarvan, terug (deur verwydering van die hoofletter ‘W’). Cornelius, twisgierig soos hy nou maar te ene male is, konfronteer die niksvermoedende Dirk met die beskuldiging dat Dirk die Bybelboek verhef tot Jesus Christus, Wie God en die Woord van God, is (uiteindelik erken Cornelius laasgenoemde nou ook). Cornelius kon egter tot dusvêr en stééds nie daarin slaag om self onderskeid te tref nie. Cornelius is nie een wat die mistiek – die Heilige Gees - van die Woord, soos dit daar in die Bybel geskrywe staan, ervaar nie. Hy maak al die regte geluide deur te kwoteer uit die Bybel (wat enigeen kan doen), maar hy verstaan nie die Woord wat uit die geskrewe woord van Bybel vorendag kom, nie. Hy kan die mistieke (Geesvervulde) Woord nie van die geskrewe woord onderskei nie. Hy kan eenvoudig nie kleinkry hoe die woord wat in die Bybel geskrywe is, Lewe kan kry en dan Woord word, terwyl dit steeds in woord daar geskrywe staan, nie. Hy kan nie verstaan hoe die HERE Jesus Christus dít kan bewerkstellig nie. Dirk kan blykbaar wel, maar nie Cornelius nie. En ongelukkig het hy nou daarin geslaag om Dirk, hoewel waarskynlik slegs baie tydelik, daarin te verwar.
Maar hoe is dit dat ’n wetenskaplike oopkop denker soos Dirk dan so maklik deur die andersins ooglopende onbesonne uitlating van Cornelius mislei word? Eerstens het Cornelius lank geleentheid gehad om sy aanslag te slyp in sy aanvalle op ander gelowiges (wie hy onsinnig Bybelaanbidders noem) oor presies dié punt. Hy stel dus vir Dirk ’n strik en Dirk, wat nie op daardie oomblik mooi kyk waar hy trap nie, beland daarin, hoe skerpsinnig hy as wetenskaplike nou ookal is. Maar die belangrikste rede vir Dirk se glip, wat hom self ast’ware opstel vir só ’n glip, is waarskynlik die swakplek in sy eie mondering, naamlik sy eie onsuiwer redenasie omtrent die beweerde oneweredige gesaghebbendheid van die Woord. Dirk meen sommige dele van die Bybel is meer gesaghebbend as ander. Ons neem aan Dirk verwys hier na die volledige essensie van die tema en Evangelie van wat die Bybel behels en nie na sekondêre taal- en verwante gedeeltes, nie.
Die probleem in hierdie benadering van Dirk is dat hy homself weerspreek. Hy self erken dat die persone in die Bybel mense met mistieke talente is. Hy erken ook dat die Bybel, vir soverre as wat dit vertel Wie God is (en dít is juis waaroor die Bybel in die uitgebreide sin van die woord gaan), hoofsaaklik 'n versameling getuienisse van die ervarings van mistici, is. So ook dan noodwendig mos die profete. Maar verál van die HERE Jesus Christus. Dus, op watter gesaghebbende, wetenskaplike basis kan Dirk dan die essensie van daardie versameling getuienisse en mededelings soos hulle in hulle geheel by mekaar inskakel en aanvul, evalueer en sommige te lig bevind? Hoe, in die lig daarvan dat hy by noodwendige implikasie self erken dat hulle Bron, die Heilige Gees, betroubaar is (hy haal selfs tereg die Nederlandse geloofsbelydenis júís daaroor aan)? Dan is daar natuurlik ook ál die HERE Jesus se lering en mededeling en getuienis omtrent Homself (Johannes 14:6-7, ens) én, veral, hoe Hy agterna, nadat hy na die Vader in die Hemel vertrek het, sal toesien dat juis die Heilige Gees diegene wat ná hom SY Woord moet verkondig, sal herinner aan Sy Lering en Woord – juis deur die werking van die mistieke, soos Dirk dit noem, deur die werking van die Heilige Gees (Johannes 14:23-26, ens).
Dirk se onderskeid en oordeel van wat dan betroubaar en onbetroubaar sou wees, is dus in sigself nie betroubaar nie, want dit weerspreek sy eie getuienis en die feite waarop dit gebaseer is. Daaruit is niks onbetroubaar nie omdat dit, soos hy tereg sê, 'n versameling getuienisse van die ervarings van mistici is. En die werking van die Heilige Gees is juis die mistieke openbaring aan al die getuienisse en ervarings. Tot vandag toe.
Ten slotte is Dirk nogeens reg as hy sê dat geloof en meer in besonder, die bekwaamheid tot die ervaring van die mistieke, talente van God is. Maar as hy te kenne gee dat agnostici en meer in besonder, ateïste, nie sulke talente het nie, kan daar nie mee akkoord gegaan word nie. Alle mense kry die talent om die mistiek vanaf God te ervaar. Dirk verwys selfs in sy verduideliking na die vlak van talente wat mense ontvang – sommige slegs een, ander weer tot soveel as tien – en hy verkry dit duidelik uit die gelykenis van die talente, wat deel is van die onderrig van die HERE Jesus Christus tydens die beroemde profetiese rede (Johannes 25:14-30). Ons weet dit is ’n werklike situasie wat by wyse van simboliek en metafoor verduidelik word. Ons weet ook dat die talente nie net na mistiek verwys nie, maar ook ander bekwaamhede. Maar hierdie is die lering van die HERE Jesus Self, Sý verduideliking en daaruit weet ons dat álle mense die nodige tersaaklike talente verkry - so ook die ateïste - en dit sluit dan ook weer aan by die getuienis van ’n ander mistikus (ware gelowige) se betroubare getuienis, dié van Paulus, waar dié verduidelik aan die jong Timoteus dat God wil hê dat alle mense tot geloof moet kom (1 Timoteus 2:4-5) en soos Dirk dan ook mos self sê en weet, verkry dié mistici (ware gelowiges) hulle openbaring uit hulle persoonlike ervaring met die Heilige Gees en is dit ook as sodanig betroubaar bo verdenking.
Dus het ateïste en ander agnostici óók die nodige talent verkry. Maar soos ons elke dag om ons heen sien en ervaar, is daar sommige mense wat hulle talente (ongeag die aard daarvan) eenvoudig by keuse en persoonlike besluit begrawe en dit nie uitleef, ontwikkel of uitbou nie. Só maak die agnostici dan met húlle talent vir die mistieke, vir geloof in God. Die ander van ons ontwikkel dit in verkillende grade, en só vermenigvuldig ons ervaring daarvan eksponensieel algaande soos ons tot God nader, en ook die Godsvrug wat dit dra en lewer ooreenkomstig meer en meer vrug en kwaliteit, baie soos die klankvolume en klankgehalte van die mishoring eksponensieel toeneem relatief tot die hoorder se afstand tot die mishoring.
Kobus de Klerk


Kommentaar
Dis baie duidelik dat Kobus de Klerk, geen waarde aan die algemene betekenis van die woord mistiek heg nie.
Kobus de Klerk omskryf ook nêrens sy besondere definisie aan die woord mistiek nie.
Uit die verklarende woordeboek:
mistiek1, (s). 1. Leer v.d. vereniging v.d. siel met God (deur bespieëling). 2. Leer v.d. hoëre gebed.
mistiek2, (b), =e. Geheimsinnig, verborge.
Pas enige gewone sterfling wat nie oor Kobus de Klerk se kamstige besondere spirituele intelligensie beskik nie, die algemene verklaring aan die woord mistiek op sy dwepery hierbo, dan verval dit alles in absolute onsin.
'n Mens kan dus aanvaar dat Kobus de Klerk se bedoeling met die woord mistiek, self iets misterieus is.
Derhalwe, tot op hede het Kobus de Klerk nog geen verklaring vir sy verheerliking van die Bybel as Jesus Christus (die Woord van God) gewaag nie.
Kobus de Klerk se bedoeling staan in die laaste paragraaf waar hy soos altyd homself as iemand beter en as ware gelowige van die res in die mensdom wat nie sy dwaal eer nie, onderskei.
Mag Jesus Christus, die Woord van God, self die mistiek in elkeen se hart ontsluit.
Cornelius Henn