Die sterkste getuienis teen die evolusieteorie soos wat dit aangebied word op die Darwinistiese model geskoei, is nie net daarin geleë wat mens kan sien nie, maar veral daarin wat nie fisies sigbaar is nie. Geen teorie van die evolusie-leerstuk kan hoegenaamd bevredigend verklaar hoe en hoekom die mens só ingrypend anders en ontwikkeld is in vergelyking met, soos die evolusie-leerstuk dit opsluit wil hê, sy beweerde mede-geëvolueerdes – die plant- en diereryk – nie, met wie die mens tog na bewering gelyktydig geëvolueer het. Niemand sal kan betwis dat die primêre getuienis van dié verskille tussen mens en die res van die skepping, juis op die gebied van die onsienlike, nie-fisies is. Al wat die evolusionis kan doen, is om vir ons te probeer verklaar – ook sonder grondige bewyse - hoe dit in die fisieke brein en senustelsel manifesteer deur die werking van die brein te monitor en dan afleidings daarvan te maak, met ander woorde, hoe ons dit min of meer uitgespeel en gevestig sien werk. Maar oor waar dit vandaan kom en hoekom dit so is, kan hulle met hul evolusie-leerstuk se teorieë en hipotese glad nie bevredigend verklaar nie en sal ook nooit kan nie.
Alle getuienis, sonder uitsondering, dui daarop dat enige lewende wese wat mens tereg ‘mens’ kan noem, nog altyd só gevorderd ontwikkeld was - en is - en daar is hoegenaamd niks in die biologiese wetenskappe wat daarop self net dui dat dié posisie ooit anders was en besig is om te verander nie. Die mens is in alle nie-sienlike aspekte uniek en super ontwikkeld in vergelyking met enige ander soort lewe op aarde – die mens se verbysterende skeppingsvermoë in die geestelike en materiële; vermoë tot evaluasie van alle dinge; vermoë om goed en kwaad te onderskei; vermoë om kompleks te orden en van wanorde orde te bewerkstellig; ontwikkelde vermoë tot diverse besluitneming en implementering daarvan; ontwikkelde vermoë tot selfbewussyn (meta-kognitiwiteit); vermoë om spiritueel te wees, om maar net enkele van die belangrikste unieke verskille te noem. Hierdie ontwikkelde onsigbare vermoëns is uniek aan die mens en was nog altyd só te oordeel aan alle beskikbare getuienis. Dit is dus nie die brein wat skep nie, maar reageer op skeppende impulse en die uniekheid daarvan van mens tot mens wat dit aanbetref is bewys dat dit nie die brein is wat dit de novo genereer nie (omdat mense se fisiese breine in voorkoms en werking vir die hoofsaak amper identies is) maar ekstra-brein impulse uniek aan die besondere mens, waarop die brein slegs reageer. Dit verklaar ook waarom diere nie die vermoë het om so skeppend soos die mens te wees nie. Byvoorbeeld, die verskille tussen die serebrale korteks van die mens en diere is te gering om massiewe gaping in vermoëns te verklaar. Die massa van die brein tot liggaam help ook nie, want daar is diere met breine van groter massa, byvoorbeeld weeg die bottelneusdolfyn se brein gemiddeld dieselfde as die van die mens, maar hoe oulik ook al, die dolfyn is eenvoudig nie op die vlak van die mens nie.
Dus, dit is nie wat die mens fisies in gemeen het met ander skepsels op aarde nie, maar juis dít wat mens nie kan sien en op die disseksieafel van die ‘moderne’ wetenskaplike ontleed en dissekteer nie (wetenskaplikes is heeltemal te onderontwikkel en te vasgevang in die fisies gebonde beperkings van die evolusie-leerstuk om dit te bemeester), wat die mens ab origine van die res van die skepping onderskei.
Dit is egter nie ’n raaisel nie, want duisende jare gelede is dit vir ons in die Woord opgeteken – God het die mens uit dieselfde materiaal as die diere ter wille van oorlewing en florering in dieselfde habitat geskape - vandaar al die fisieke ooreenkomste, want dieselfde basiese biologiese physique is nodig om op die aarde te leef en oorleef – maar die verskil is dat Hy ons na Sy beeld geskape het en dít beteken dat ons sonderlinge nie-fisieke, onsigbare kwaliteite en eienskappe het wat ons ab origine onderskei van die res van die fisieke skepping en dus nié die produk van een of ander Darwinistiese tipe evolusionêre proses is nie. Hierdie feit word deur alle ontdekkings wat nog ooit oor die mens gedoen is, bevestig – veral die eeue der eeue oue tekens en artefakte ononderbroke tot vandag toe, wat aandui dat mense een af ander spirituele aktiwiteit en in besonder kuns en Godsdiens beoefen wat glad nie by enige van die primate en ander soorte gesien word nie, ten spyte van ooreenkomstige fisieke eienskappe.
Die tipiese menslike eienskap om Godsdiens te beoefen is so oud soos die mens self. Daar is net Een God en sedert die begin van die mens se bestaan na sy skepping is dit vir die mens belangrik om met God ’n verhouding te hê. God is egter nie ’n tasbare sigbare wese soos die mens of dier of plant nie. Ons sien God se skeppingsvermoë in daardie skeppings van Hom en Hy verskaf die lewe daaraan, maar die skepping is nie God nie, maar getuienis van God en Sy orde en liefde vir lewe.
God het die mens uniek geskape met ’n vrye wil. Ten aansien van alle aspekte van die mens se lewe kan hy sy vrye wil aanwend en baie komplekse keuses maak. Ook betreffende sy verhouding met sy Skepper, met God. God het niks geskep wat sleg of sondig is nie. Omdat God die mens met ’n vrye wil geskape het, het God van meet af aan bekend gemaak aan die mens wat Sy Goddelike wil vir die mens tot Hom en tot mekaar en tot die res van die aardse skepping is. Dus, die mens weet wat God van hom verwag en kan sy keuse só uitoefen om dan in harmonie met God se Wil ten volle te lewe.
Sonde is dus nie iets wat geskep is nie, maar is gewoon gedrag of gesindheid wat teen die Goddelike Wil uitgeoefen word. Wanneer ’n mens sy vrye wil só uitoefen dat dit aanstoot gee teen die Goddelike Wil, is dit ipso facto sonde en is die mens derhalwe self skepper van sy sonde. Die vrye wil van die mens is juis dáárdie aspek wat van hom ’n bykans perfekte skepsel maak. Die volkome mens is dié een wat sy vrye wilsbesluite só kan en wil inrig dat dit in harmonie met die Goddelike wil is. Om dus die vrugte van God se samesyn te geniet deur Sy Wil te respekteer en te ag, is ’n wilsbesluit net soos dit is om dit nié te doen nie en dan die gevolge daarvan te moet dra. Dit is ’n eenvoudige kwessie van oorsaak en gevolg – totaal regverdig. Besluite van die mens bring noodwendig vir hom grotendeels voorspelbare gevolge mee. Dit is dus ’n perfek regverdige stelsel wat God ingestel het. Dit is waarom dit so sinneloos is vir mense om te vra en te blameer ‘waarom laat God dit toe’ wanneer dinge vieslik skeefloop. Mense kollektief wéét as hulle dinge beplan en doen, of dit teen God se Wil is en dat daar noodwendig reperkussies sal wees. Om God agterna daarvoor te wil verwyt, is sinneloos. Dit is die lafhartige optrede van mense wat nie verantwoordelikheid vir eie besluite wil aanvaar nie.
Mense was nog altyd só en dit maak hulle uniek en totaal verskillend van die res van die skepping.
Die wreedhede, wanorde, armoede en chaos wat direk voortspruit uit mense se kollektiewe roekelose en verkeerde sondige wilsbesluite laat juis baie agnostici en veral in hul ateïstiese verskyningsvorm beweer dat juis dié aspek hulle laat besluit het dat daar nie iets soos ’n liefdadige, almagtige God is nie. Omdat hulle roem op hulle rede (niks anders as die Goddelike gawe van vrye wil nie) maar wanneer hulle rede hul weens swak aanwending daarvan in die steek laat met skrikwekkende gevolge (die stelsel van oorsaak en gevolg), dán wil hulle beweer daar is geen God nie omdat God dit dan toelaat en meen hulle, as daar wel ’n God was, sou Hy dit mos nie toelaat nie. Dit is die rede van lafaards wat nie verantwoordelikheid vir hul vrye wilskeuse se chaos wil aanvaar nie.
God het nie robotte geskape nie, maar volwaardige spirituele mense met elk ’n vrye wil tesame met die verantwoordelikheid om verantwoording te moet doen vir die gevolge van die uitoefening daarvan. Diegene wie God versoek om, op grond van Sy uitnodiging, deur Hom gelei te word (Deuteronomium 28:1-14; Spreuke 3:6; Mattheüs 6:33) in die uitoefening van hul wilsbevoegdheid, ervaar die vrede, voorspoed en vreugde van volwaardige menswees in 'n verhouding met sy Skepper en heel dikwels nog materiële voorspoed ook op die koop toe.
God Wil dat álle mense Sy Wil moet respekteer en die gevolge van daardie keuse dra.
Baie agnostici kan nie onderskei tussen die afgode van weleer en vandag en die ware Enige God nie. Dit verbaas nie, want hulle het geen of te min spirituele vermoëns en is dus stomp vir die Lewende maar uiters subtiele teenwoordigheid van die Heilige Gees. Maar daar is tog ook ’n baie ooglopende ander verskil – daar bestaan géén beeld van God nie. Tewens, God verbied die pogings om dit te maak. Maar alle ander religieë is besaai met tasbare beelde wat deur mense gemaak is en wat die deïteit vir hulle vergestalt. Daarsonder het hulle nie ’n religie nie tot die mate dat hulle religieë gekenmerk word deur die bestaan van dooie, lewelose beelde van een of ander aard óf ander skeppinge van God, soos die hemelliggame. Dit is omdat hul religieë dood is en derhalwe nie kan bestaan sonder iets tasbaar en sigbaar nie.
Maar met God werk dit geheel anders – die van ons wie met Hom ’n verhouding het, kan ons nie indink hoe mense Sy onsigbare maar baie ervaarbare Wese en teenwoordigheid wil verruil vir ’n mensemaaksel of ander skepsel nie. Daarom, dié wat dit wel doen, ken God nie en ken aan hul eie dooie versinsels en maaksels Goddelike hoedanighede toe – wat ’n klug.


Kommentaar
Kobus
Hello Kobus,
Beste Kobus,
Wouter,
Nie 20km stap nie, Angus? Ek kan sien jy het nog nooit behoorlik gejag nie. Daar begin jy voor sonsopkoms te voet en deurkruis die jagveld tot die son begin water trek, met jou jagoes wat boonop in die veld versorg moet word en twee lemoene vir middagete. Dan kom jy na die dag by die blyplek in die veld in die winter sonder enige geriewe behalwe wat die natuur jou bied. Vir 'n paar dae na mekaar gaan dit so. Dus, smaak my jou partyskuitjies sal dit beslis nie maak nie want jy dink 20km in luukse omstandighede is ver oor rowwe terrein.
Hello Kobus,
Net so terloops, Angus.
Wouter,
Hello Kobus,
Hello Kobus.
Kobus
Wouter,
Thomas,
Hello Kobus,
Wouter,
Hello Kobus,