Oom Wouter, geskiedenisboeke vir oom

  • 1

Oom, my pa sê hy kan die volgende boeke sterk aanbeveel, oom sal baie van Suid-Afrika leer as oom dit lees:

Diamonds, Gold and War: The making of South Africa
deur Martin Meredith. Dis 'n baie goeie boek oom, ek het self al 'n groot deel daarvan gelees. Dit word hoog aanbeveel.

New History of South Africa deur Hermann Giliomee en Bernard Mbenga. Dit is baie hoog aangeskrewe en word beskou as baie gebalanseerd. Ek het dit nog nie self gelees nie. Dit is ook in Afrikaans beskikbaar.

Lekker lees oom!

Groete,

Jannie

  • 1

Kommentaar

  • Hello Jannie, 

     
    Ongelukkig speel ek nie meer saam nie. 
     
    Ek het al genoeg boeke oor die geskiedenis van Suid-Afrika gelees en is my advies dat jy en jou pa eerder 'n paar boeke nader trek. 
     
    Advies oor watter boeke om te lees het ek regtig nie nodig nie.
     
    Dit kan verwaand klink, maar glo my ek is nie, my verwysings in my nederige mening is baie goed en dan daarmee wat beskou kan word die beste boeke oor 'n onderwerp in 'n veld te wees. 
     
    Wanneer jy eendag in Centurion is, laat my weet dan gaan drink ons 'n koffie en neem ek my laptop saam om vir jou te wys hoekom.  
     
    In die brief wat ek vir jou geskryf en wat jy nie gelees het nie, omrede dit te lank en vol Engels was het gewemel van verwysings uit boeke wat ek al gelees het, maar dit was lekker vermakerig van jou en jou pa se kant, te lank, te Engels, vooroordeel van my kant, die gewone diknek retoriek. 
     
    Verskoon my dus verder. 
     
    Verstaan my reg, om te speel is goed en wel en het ek ook al so gedoen met die wisselwerking tussen Lilly White en Elizabeth Costello, daarom is dit fyn, maar na die gespeel en selfs in die gespeel gaan daar 'n punt kom waar jy en jou pa, eerlik en sonder skroom na die werklikheid kyk en besef om teen iets te wees, beteken nie dat jy die huidige sonder teenstand aanvaar nie en dat wit en swart is nie die manier om komplekse aangeleenthede te ondersoek nie, maar juis in die nuanse, die grys en in al sy kompleksiteite. 

    Sekerlik is jy nie wie jy voorgee jy is nie, maar is die versugting tog dat indien jy werklik 17 jaar oud was jy die volgende advies ter harte sou neem na aanleiding wat ek gelees het die naweek in Beeld aangesien ek wel iets daaruit kon neem en verkort ek dit vir jou: 

    Land van die pannekoekmense: 

    Eeue gelede al het die vermaarde redenaar en filosoof Sokrates (469 – 399 v.C.) geprotesteer teen die Sofiste van sy tyd – die skynredenaars met hul maklike gevolgtrekkings en emosiebelaaide openbare verbale salvo’s.

    Dié kontras tussen behendige redenering en bedenklike retoriek geld vandag nog – wêreldwyd en natuurlik ook in Suid-Afrika, waar ons eiesoortige politiek-kulturele problematiek die openbare debat slordig én onheilspellend gevaarlik laat skeefloop.

    Duidelikheidshalwe: 

    Om te redeneer is om die een of ander aanspraak of gevolgtrekking te maak op grond van gepaste feite en/of ander ondersteunende of stawende stellings.

    Retoriek behels ook die maak van gevolgtrekkings, maar die ondersteuning berus op ontoepaslike feite (selfs doelbewuste valshede) en stellings; sterk gegeur deur emosie.

    Wat ondermyn word, is die universiteit se eeue oue tweeledige taak: 

    Om jongmense te skool vir ’n werk én om hulle deur algemeen vormende waardes vir aktiewe deelname aan die lewe voor te berei.

    Die “simptome” word bevorder deur ontoereikende opvoeding in ouerhuise.

    Die ware intellektueel só gesien, is die prentjie oor die vlak van redenering en opvoeding bra donker.

    Wat staan ons te doen? 

    Kritiese opvoeders soos prof. Jansen pleit gereeld vir ’n grondige herontwerp van die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel.

    Miskien moet dit opnuut bedink word in die trant van ’n herontwerpte vennootskap tussen die staat, onderwysinstellings en ouers.

    Met dié rigtinggewende vraag: 

    Wat moet dié vennootskap ánders as nou doen om jongmense te help om nie net ’n bestaan te kan maak nie (beroepskoling), maar om ook sin uit die lewe te kan maak (lewensgereedheid)?

    Daar bestaan reeds baie nuttige programme wat dinge soos lewensgeletterdheid, lees- en skryfvermoë en dink- en redeneervaardighede bevorder. Dit word egter selde met vakonderrig geïntegreer, byvoorbeeld in die taal- en “kultuur”- vakke.

    Gevolglik word sulke vaardighede in isolasie geslyp sonder oordrag na die praktyk. 

    ’n Nuwe vennootskap sal inderdaad baat vind by die herbevestiging van en skoling in intellektuele waardes soos die “oop gesprek”. 

    Dit sal ook help met verdraagsaamheid, billikheid, insig en eerlikheid oor jou eie vooroordele. 

    En die bereidwilligheid om lewensdinge behoorlik te ontleed en te weeg; en om na te dink oor jou eie dink.

    Sulke waardes is nie die besit van hooggeleerdes en ver gestudeerdes nie. 

    Soos N. P. van Wyk Louw gereken het, is die “ware intellektueel” enige mens vir wie dit ’n lewensreël is om oor belangrike sake redelik te dink, billik te oordeel, aarselend te veroordeel en die eie mening met ’n bietjie meer selfkritiek te beskou.

    Om ’n intellektueel te wees is om besit te word deur die hartstog om die “waarheid” van idees oor ons mensheid en manier van saamleef versigtig en moeisaam saam te stel uit baie soorte perspektiewe. En om nie bang, suur of beledigend te word as jóú “waarheid” nie seëvier nie.

    Waar sulke waardes belangrik geag en toegepas word, kan die openbare debat gans anders verloop.

    Daar is toenemend “geletterdheids­armoede”. 

    Dit het bykans ’n deug geword om nie te diep te dink nie – by voorbaat vermoei deur die langer woord, die verwikkelde sin en die beredeneerde paragraaf. 

    Amper soos Winnie-die-Pooh wat sê: “Ek is ’n beertjie met ’n klein verstandjie en lang en baie woorde maak my moeg.

    Die omvang van afrigting vir prestasie op skool neem toe en kweek oplaas “pannekoekmense” – plat en dun gesprei sonder die soort diepte wat nodig is vir die werklik kritiese beoordeling van denkgoedere, ingesluit jou eie. 

    Leerlinge ly aan internetverslawing en -uitputting. 

    Danksy copy-en-paste is hulle uiters vaardige versamelaars van gefragmenteerde stukkies en brokkies kennis. Hulle weet egter nie hoe om daaruit ’n samehangende redenasie met ’n oorwoë, kritiese standpunt te formuleer nie. 
     
    SMS-taal kom al hoe meer in studente se werkstukke en eksamenvrae­stelle voor; gedra deur ’n grammatika-sku-, loslitterige, Facebookerige, Twitterige skryftrant. Dosente moet dikwels raai wat studente met hul “kodetaal” bedoel. Selfs emotikons en smileys word gebruik om hul gevoelens oor sake te verduidelik. En baie studente is verbaas én ontsteld dat dit (sommige) dosente omkrap. 

    Wilhelm Jordaan is ’n rubriekskrywer en buitengewone professor in sielkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy raak ná baie jare steeds aangedaan oor studente wat eg wil weet en verstaan.

    Die vraag is dus, net soos vir my, dan aan jou ook, wil jy regtig weet en verstaan? 

    Enige iets anders as dit, is 'n mors van tyd. 

    Ek wens dat jy in jou speel, daardie erns ook kan sien. 

    Baie dankie
     
    Wouter
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top