Ek beaam die briefskrywer wat beduie het hoe goed ons mense kan parkeer. Dis nou, die sg uitpassering vir motorlisensies. Kyk, jy moet jou fyn draaie ken en as jy daai paaltjie omstamp dan dop jy uit en klaar gelag, maak nuwe afspraak en betaal jou paar honderd rand of wat vir die volgende afspraak. Die munisipale amptenary maak behoorlik geld.
Die briefskrywer is 100% reg dat hierdie land heel waarskynlik die beste parkeerders op aarde het. En ook die swakste bestuurders. En ek bedoel hiermee nie taxidrywers nie, want hulle bestuur volgens my baie goed. Uitstekend is 'n beter woord.
Al ooit probeer aankruie agter 'n sestigjarige ou omie wat die stuurwiel krampagtig vasklou? Op die snelweg? 'n Blakend wit omie wat heel waarskynlik die taxidrywers vloek en vervloek? Wel, dis nag, nella. Die storie loop mos al jare lank rond dat die deursnee taxidrywer sy lisensie gekoop het. Wat ek kan verstaan, want waarom wil jy hoegenaamd deur die sinnelose parkeerritueel gaan as daar in elk geval deesdae al minder parallelparkeerareas is?
Logies, ondersteun ek dan die koop van lisensies as die hele lisensie-klugspel gebaseer is op parkering, rondom jou kar stap (wie de hel doen dit of het dit al ooit gedoen in die werklike lewe?) en kyk vir olielekke, bloedvlekke, wipers, bonnets se slotte, hase in die waaierband etc etc etc, elke drie sekondes jou truspieël bekyk en jou nek omdraai om te kyk vir verkeer.
Ek ondersteun nie roekelose gedrag op paaie nie. Beslis nie, maar wat ons verkeersdepartemente doen kom op iets veel erger neer as roekelose gedrag: Hulle maak geld uit "petty" goed terwyl die deursnee sot nie die vaagste benul het hoe om 'n voertuig behoorlik te hanteer nie.
Ons is besig om, met die mooiste, edelste bedoelings op aarde die slagting wat op ons paaie gebeur daadwerklik aan te moedig. Ek het dit besef toe ek onlangs naby George afgetrek is en swaar beboet is omdat ek nie my veiligheidsgordel (wat ek uit beginsel nie dra nie en nooit sal dra nie omdat dit my keuse is om eerder dood te wees in 'n ongeluk [Is daar nie reeds, in elk geval 'n uitgewysde saak hieroor in ons grondwetlike hof nie?]), aan gehad het nie. Ek vra vir die beampte of dit wettig is vir voetgangers om op 'n deurpad te wees en hy vra vir my of ek verwys na die hordes wat by ons, terwyl hy die kaartjie skryf, verbystap en toe wou ek nie hardegat wees nie anders kom hy nog harder op my neer.
Ek bedank hom vir die kaartjie en frommel hom voor hom op want in wese het hy eintlik my grondwetlike reg op my keuse om te sterf soos ek goeddunk en verkies verkrag. Op wit en swart. En met die uitskryf van die kaartjie het hy ook tientalle mense se reg op lewe verkrag want ek ry as 'n reël nooit stadiger as 160 op enige deurpad nie (en kan nie uitswaai vir 'n dronk of nugter nar wat die snelweg as 'n voetganger laan gebruik nie) en as daar ooit 'n voetganger voor my moet beland (die wet is tog sekerlik baie duidelik dat hulle nie daar mag wees nie, maar dis deesdae 'n vae, en baie grys area klaarblyklik) gaan hy nie kan padgee nie.
Daar’s al meer en te veel grys areas deesdae en te min dinge wat die basiese skakerings van wit en swart het.
Groete uit Oesterland
oester

