Ongelowige

  • 0

Vir jare is hy op sy eintlike naam genoem en ek probeer steeds die mense bekeer na die nuwe bedeling toe met dreigemente van lang hofsake maar die ou manier van doen verander mos nie sommer in 'n generasie nie. Ek noem hom maar Ongelowige maar die res van die gemeenskap noem hom iets ouer as dit... Selfs sy ma. Ek het 'n idee sy, hier in haar kranklike ou dae het lankal vergeet wat sy geboortenaam is. Ek noem hom so want die woord beteken mos maar ongelowige of heiden as jy wil. Dis nou as jy nie vas met die maand nie.

Ongelowige is nie lekker nie. Nou nie soos in die ou dae se mal nie (ek weet nie wat die polities korrekte term is nie), net effens anders. Normaal genoeg om te ken tussen goed en sleg maar nie normaal genoeg om te weet sy voete is 'n size 8 nie. Want hy loop met 'n paar skoene wat ten minste 'n 13 of 14 moet wees. Wie weet, dalk het hy gelees iewers van die verband tussen skoengrootte en, wel, jy weet mos ...

Ongelowige werk by die man wat die yskaste regmaak en koelkamers installeer. As handlanger as die spanners soek is of die honne die tuin bekak het. Want al het hy geen idee van syfers nie weet hy presies hoe lyk 'n 13 spanner. En, soos gesê, hy kan honnekak optel en die tuin versorg en gestuur word. Met 'n briefie. Klokslag egter vra hy vir sy pakkie BB en ek beduie hom dat Nora dit nie op die briefie gestipuleer het nie en hy kyk my aan asof ek een of ander outydse geskrif aanhaal en hy beduie my om die pakkie aan te gee en sommer 'n stuk koerant ook. Hy sleepvoet pad op en as jy my vra hoe Ongelowige loop dan sal ek jou moet beduie na daai ou song van die Bangles: Walk like an egyptian. Want hy loop presies netso.

Ek vra hom hoekom hy nou Ongelowige heet en hy lag nog harder (want hy lag altyd) en jy sien die vier swart stukkies van wat lank terug tanne was gums en al. "Nee ek weetie, want ek loop elke maand nog kerk. Dis djy wat my naam loop verander. Jy weet mos al wie ek is." Ongelowige het nie 'n hekkie nie en ek dink nie hy sal ooit een hê nie. Ek dink die naaste wat hy ooit aan 'n vrou was is Mamma Mia vir wie hy maar sy daaglikse loon besorg. En die aanhangers wat ook maar net daar is solank Ongelowige en Mamma Mia se alpay hou.

Verlede week wonder ek waar Ongelowige is met Nora se briefie en ek kyk pad op en ek sien hulle aansukkel. Ongelowige Walk like an Egyptian haastig vooraan en draai altoos om om vir Mamma Mia aan te jaag. Sy is oud en het baie tyd al is die tyd op aarde aan’t kort raak. Hy weet net hy gaan sy bottel koeldrank en groot pak BB kry. En die sakkie met die eclairs. Ek beduie na sy tanne wat net stukkies van oor is en dat Eclairs nie goed is vir mens se gebit nie en hy lag net met sy hand uitgesteek.

Ek sien al minder van Ongelowige se formaat mense deesdae. Goeie mense wat van geen sout of water weet en wat werklik nie 'n saak met die kleinerwordende wêreld van tegnologiese wonders het nie. Wat bloot net eenvoudig geen saak het met 'n huis of 'n haard nie maar wat saans, as Mamma Mia koud het, tog sal uitloop en hout soek om vuur te maak al is daar krag. Wat het geword van hulle? Steek ons hulle iewers weg in 'n wêreld wat polities korrek is en anything goes maar manne soos Ongelowige nie meer op straat mag kom nie uit vrees dat hy dalk iets mag oorkom? Of is daar al minder van Ongelowige se soort?

Ek bekyk hom en ek besef dat wegstuur as kind hom nie sou baat nie. Wegstuur na een of ander inrigting sou hom weggeneem het vat sy Mamma Mia en die gemeenskap wat hom omarm het en hom wys gemaak het van die wêreld se dinge. Hy sou dalk beter versorg wees maar hy sou beslis nie meer hy gewees het nie en hy sou dalk, so is my vermoede, nie so met 'n lag sy eie unieke walk like an Egyptian geloop het nie. As Ongelowige lag, dan lag hy omdat dit in sy aard is. Hy lag nie omdat iets snaaks moet wees nie.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top