Die gebeure en dienste en denke van die afgelope weke het hulself gisteraand in ’n dinkding in my gedagtes gegiet. Dit, terwyl ek op die sosiale vabondblad na ’n deel-video van vriend Dana Snyman kyk. Daar, sit Kris Kristofferson op ’n verhoog saam met Willie Nelson en ’n klompie ander mense. Hy vertel die storie en aanloop van sy ontnugtering en ontwaking in ’n kerkdiens êrens in die VSA en hoe dit sy lied, “Why me Lord?”, laat verskyn het. Soos Dana gesê het, “my tipe prediker”.
In die jare toe die swarthond en sy maters nog gereeld hier teen my bene kom skuur het, het ek eendag ’n album van Elvis Presley se godsdiensliedjies geskenk gekry. Uiteraard nie noodwendig die ideale geskenk vir ’n wankelrige gemoed nie.
Dit het my gedagtes na my kindertyd, ’n bietjie jare gelede, in herinnering teruggepluk. Op die rype ouderdom van 9 jaar en 9 maande was ek, as groot Elvis-aanhanger, nogal hartseer toe ons in Augustus 1977 oor die draadloos hoor dat hy oorlede is. Die tannies daar in ons straat was in rou, asof ’n broer of ’n pa oorlede is. Ons het toe nog nie televisie gehad nie, maar ons kon darem die nuus op die sender volg.
My Moeder het ‘n kasvol van sy plate, langspeel en “seven singles”, gehad. Dus, het ek baie middae en vakansietye hierdie plate gespeel en saamgesing. So-by-so, dat selfs vandag nog, ek trots is om te sê dat ek die meeste van die Elvis-liedjies amper woordeliks kan saamsing!
(Hierdie hartverskeurende bekentenis mag dalk sensitiewe lesers ontstel; derhalwe sal dit wys wees om eerder nie verder te lees nie. Hiervandaan gaan die uitsprake wild en taal-versteurd raak!)
Terug by Elvis se godsdiensliedjies. Op hierdie album van hom, is daar baie liede wat baie emosies by die meeste van ons mense sal laat opwel. Daar is niemand op hierdie aarde, nou of in die verlede, wat “Amazing Grace”, soos Elvis kan sing nie. Mensig, wanneer sy stem verdiep en ek die gillende dametjies voor teen die een-of-ander konsert se verhoog in my geestesoog sien huppel, dan keer die koor gedeelte se woorde ... “I once was lost but now am found, Was blind, but now I see”, die hartseer-hormoon hier binne onderstebo en kan mens nie anders as om daarna uit te sien, om “huis toe” te gaan nie.
Vir my is dit egter "Crying In The Chapel" wat stem en toon bo die ander as afskeidslied uitstaan. Eendag, soos ons so maklik sê, moet my mense asseblief hierdie Elvis-lied by my begrafnisdiens speel ...
You saw me crying in the chapel.
The tears I shed were tears of joy
I know the meaning of contentment
Now I am happy with the Lord
Just a plain and simple chapel
Where humble people go to pray
I pray the Lord that I'll grow stronger
As I live from day to day
Gisteraand terwyl ons jongste hier vlak teen sy pa se skouer op die bed lê, luister ek en hy na Kris Kristofferson se lied ... “Why me Lord?”
... Lord help me Jesus,
I've wasted it so help me Jesus,
I know what I am,
but now that I know,
that I needed you so help me Jesus,
my souls in your hand, ...
Toe dink ek ...
Hoekom moet ons omtrent altyd dieselfde liedere by ’n begrafnisdiens sing? Hoekom kan elkeen van ons, wat kan en wil, nie sy of haar eie liede kies nie? Daar is tog immers liede wat êrens buite die sangbundels van ons gemeentes ook betekenis het. Hoekom mag ons nie die luistervryheid opraap en dit uitoefen nie? Of is dit omdat die “ander liede” net vir die buite lewe, die binnekamer, die kar, die sonstoep of braai bedoel is?
Vertel nou reeds vir die moontlike langslewendes dat jou verlange na son, sand, see en “sexwax” ’n laaste rusplek in die speel van The Beach Boys se “Wouldn’t it be Nice”, moet vind. En, hoekom kan Jan de Wet ons nie aan die hand vat en saam deur die “Via Dolorosa” stap nie. Beter nog, vra dat hulle Leonard Cohen kry om “Hallelujah” te sing. Niemand anders kan dit tog soos hy sing nie. Ten minste sal al die diensgangers dan kan huil; selfs vir jou en al die ander mense vir wie hulle nog nie gehuil het nie; of verlang na die geliefdes wat hulle nog nie eens ken nie!
Sjoe, wat van Jan Blohm? In teenstelling met my gewaagde ope-hart-uitstorting oor my liefde vir Elvis se musiek, is ek ’n uitgesproke “Jan-Fan”. Jan kan enige tyd en enige plek vir my kom sing. In weerwil van my beste en volgehoue pogings om my naastes en gesin tot Jan se musiek te laat inkeer, sal dit bes moontlik net ek en vriend Fanie wees, wat Jan se “Groentrui” op my begrafnis sal geniet.
Moeder sal sê mens moet nie alles so bevraagteken en wil verander nie. Dat daar ’n tyd en ’n plek is vir alles. Dit is tog so waar. Wat hierdie standpunt egter kortwiek, is die feit dat in die lewe en dood, ons is wie ons is. Wanneer die afskeidsdiens se banke warm gesit word, sal dit nie dan juis die regte ding wees, om die “lewensverlater” te groet met sy of haar se gewaardeerde musiek en om ook daarmee, die herinnering van die oomblik te vestig nie?
Miskien sal Jan Blohm se musiek, uit verlange, meermale gespeel word ...
Hennie Fritz


Kommentaar
Eish, Hennerik waarvan praat jy nou? Ek het ook al gewonder hoekom dieselfde liedere by begrawenisdienste gesing/geteem word. Krisjan se "Why me Lord" is amper mooier as die Stem. Oorle Elvis raak mens ook nogal. Ek het 'n persoonlike gunsteling, "One day at a time", Marie Gibson sing die lied. Ek glo nie dit is 'n baie gepaste groetlied nie. Ek dink in my geval sal daar van die donners wees wat "Roll out the Barrel" of" Brandewyn laat my staan" wil sing. Ek kan aan 'n hele paar gepaste liede dink, maar sal nie op die stadium te ernstig daaraan wil dink nie. Met die huidige tendens om mense te veras, kan Deep Purple se "Smoke on the Water" dalk heel gepas wees.
Beste Hennie, "afterparties" is 'n ou gebruik waar die oorledene gevra word om nog 'n rukkie te vertoef en die wêreldse genot wat hy of sy soveel waarde aan geheg het, te beskou en beluister in vergelyking met die Hiernamaals waaraan hy of sy dan nou reeds 'n smakie het ... wel, ek hoop rêrig nie dit tref my eendag ook so nie (dis my wens dat daar geen begrafinis na my dood aan my gewy sal word nie)... ek bid dat waar ek wel na my dood onthou sou wou word, my geliefdes klank en fees sal oproep wat hulle sonder my tydelike vertoef daarmee saam, dit in die Hiernamaals kan voorstel - Handel, Beethoven, Bach, Mozart ... uitgevoer deur harte soos die Mormoonse koor, Andrea Bocelli, Andreas Scholl, Sarah Brightman, ... maar dan is daar Ariel Ramirez se Misa Kriola deur Mercedes Sosa - miskien sal ek iewers langs haar in die Hemel sit waar ons dit die hele dag saam met die Engele - en harte op aarde tot en met die Wederkoms - kan repeteer ... dis egter nie op die Internet beskikbaar nie, daarom deel ek in lewe hierdie protes lied van die besonderse en pragtige diva: http://www.youtube.com/watch?v=r7CQDLjrtnA ... laasgenoemde lied sal genadiglik nooit in die hiernamaals gesing hoef te word nie ... Hennie, dankie vir jou altyd stimulerende gedagtes... Namaste! Cornelius Henn
Wat van :
"Take My Hand, Precious Lord"
Precious Lord, take my hand
Lead me on, let me stand
I'm tired, I'm weak, I'm lone
Through the storm,
through the night
Lead me on to the light
Take my hand precious Lord, lead me home
When my way grows drear precious Lord linger near
When my light is almost gone
Hear my cry, hear my call
Hold my hand lest I fall
Take my hand precious Lord, lead me home
When the darkness appears and the night draws near
And the day is past and gone
At the river I stand
Guide my feet, hold my hand
Take my hand precious Lord, lead me home
Precious Lord, take my hand
Lead me on, let me stand
I'm tired, I'm weak, I'm lone
Through the storm, through the night
Lead me on to the light
Take my hand precious Lord, lead me home.
Beste Hennie Fritz,
As ons bely dat ons Gelowiges is, dan het ons die Ewige Lewe wat ons by die Wedergeboorte ontvang het. Ons kan dus niemand begrawe nie, net sy oorskot, want hy of sy het die Ewige Lewe. Die dood het vir Gelowiges geen betekenis nie. Die begrafnis is dan 'n tyd vir lofliedere, vreugde, blydskap en ons sien uit na wanneer dit ons beurt is om te gaan!
Dankie vir die kommentare. Die dink-ding is darem maar lekkker!