Nostalgie is nie meer wat dit was nie, maar verlang ons soms na die “goeie ou dae”. Die dae van ouma se gehekelde doilies op melkbekers, roklengte-inspeksies op skool, ’n kysbriefie in die klas wat van hand tot hand aangegee word, en die seuns agter die saal wat tweede pouse hul misverstande uitbaklei.
Dit was dae van motorfiets ry op die plaas sonder ’n valhelm, water drink uit ’n kraan by die tenk en tussen die groen slyk van die sementdam induik om jou bruingebrande vel af te koel. Modder tussen die tone het nie gepla nie en die reuk van Ma se kamfertuin en pasgesmeerde misvloere alombekend. Wilson-toffies het maar 2 sent gekos en op pad terug vanaf die plaaswinkel het jy suurlemoene langs die pad gepluk om te eet. Hulle dik geel skille is ook huistoe gedra want met sout besprinkel word dit ’n heerlike lekkerny. Hoe gesond!
Saans het Ma gereeld na haar stories op die radio geluister en kruip die wintertyd nader, skuif die kinders ook voor die koolstoof in. Dan luister ons na Dans van die flamink en moenie die ‘doing’ van die Ewings van Dallas vergeet wat jou familie geword het, asook Die meisie van Avignon of was dit Little House on the Prairie.
Ma het nooit vergeet om weekliks die Huisgenoot vanaf die dorp saam te bring nie, want lady Diana en prins Charles se troue asook doen en late was haar lewe. Vir my het die Huisgenoot se sterrekyk-foto’s met hul lang prinsesrokke speelpoppe geword, netjies uitgesny wat oor en oor aangetrek is met ander uitgeknipte papierrokke. Seuns het nie Huisgenoot gelees nie, want dit was sissie-agtig of ’n besem vasgehou nie, dit was die bediende se werk. Seunsdinge was jag en visvang en 4x4 jaag op die duine.
Op skool het ons vir elke spelfout ’n hou gekry op die hand met juffrou se liniaal. ’n Goeie pak slae vanaf Pa was algemene dissipline. Maak nie saak of jy seun of dogter was, in die badkamer het jy gebuk vir ses-van-die-bestes. En aalwynsap asook medisyne was regtig bitter asook kool.
Ons was 5 kinders. Ek die middelste met ’n bruinbroodsindroom. Want kleinsus wat sieklik gebore was het alleen sweeties gekry as sy nie wou eet nie en ouboet weer die meeste kos omrede hy die hunk was. Vir die middelkind was daar geen grasie. Ons speelplek was buite. In die boomhuise en pophuise wat onsself gebou het. ’n Materiaal meelsakkie op die rug was ’n lekker pop om rond te dra, vasgedraai met ’n handdoek om die lyf en moenie ma se hemel hoë hakskoene daarby vergeet nie!
Ek het daarvan gehou om soos Pa te preek, in die spieël waar my gesig die enigste insittende was, en het nes Ma my hare in ’n bolla in die nek gedraai. Verehoed en al, nes die tannies in die kerk. Desembervakansie kom nefies en niggies kuier en dan is die hel behoorlik los op die plaaswerf. Oor dié tydperk is ’n wilgerlat vanaf die rivier ingevoer wat ’n bedreiging op die kombuistafel geword het.
Pa moes boer. Want om vanuit die geloof te oorleef sou die kinders honger gaan slaap het. My broer wat twee jaar ouer was, se seunsvriende het daarvan gehou om op my swart golwende hare verlief te raak maar was die plaas se bergkoppies vir ’n wilde perd meer aanvaarbaar.
Daardie dae was hard - tog vry, onskuldig en ongebonde. Maar so vinnig verby ...
Trienie Mahne

