As mens begin oud word, dwaal jou gedagtes maklik terug na jare gelede, toe jy nog jonk en sterk was en alles beter as vandag. Al het ons nie televisie, persoonlike rekenaars en selfone gehad nie, was die stelsels van destyds goed genoeg om aan ons behoeftes te voldoen: telekse en telefone, die radio, flieks waar jy rustig kon ontspan en ’n goeie prent kyk.
So sit ek dan soms en mymer en sweef my gees weer deur Pretoria se strate, waar ek onder Jakarandas stap en op die blou blomme trap, waar so baie afval, amper soos ’n tapyt op die rooi grond en groen gras. Of ek stap weer langs die Apiesrivier by Sunnyside, vroegoggend in die lente, verby die doringboompies met hul vars groen blaartjies.
Dan dink ek aan Gloria, pragtige jog vrou wat ek geken maar verloor het, omdat ek nie die geleentheid aangegryp het nie. Ek stap weer saam met haar deur die strate, en eet ons Apfelstrudel by ’n Duitse plekkie, gaan fliek in die aand by die Pigalle, of eet ’n broodjie en voer die duiwe op Kerkplein.
Ek wonder hoe my lewe sou gewees het as ek met haar getrou het? Dan het ek dalk glad nie so baie rondgeswerf nie, want van daar is ek na Oos-Londen, toe Port Elizabeth, Johannesburg en laastens weer Port Elizabeth. ’n Dolle rondspring tussen stede, ’n draai in Parys, asof ek iets soek wat ek mis in my lewe, tot jy, helaas te laat, besef jy mis ’n eie gesin met kinders. Dogters wat op jou oudag kan help om jou te versorg en gemaklik te maak.
O, daar was ander meisies ook, soos Orpa in Port Elizabeth, maar nie een het my lewe en nou my herinneringe met soveel vreugde gevul as Gloria nie.
Dit was die jare van die inryteaters. Veral na ek my eerste karretjie gekry het in 1969, was dit lieflik om op aangename aande te gaan fliek, amper soos in die buitelug, want jy kon jou kop by die venster uitsteek en iets vir jou buurman skreeu. Koue aande in die winter het ons ons weer lekker warm toegewoel in komberse. En jy moes altyd iets eet en drink. Pouse na die kafeteria toe (as mens dit so kan noem) om koeldrank en hamburgers te koop.
Die lewe was destyds eenvoudiger en stadiger. Ons witmense het basies in onkunde en onskuld geleef, nog nie juis bewus van onweerswolke wat begin saampak nie. Nie bewus van die groeiende onrus wat onder die swartmense begin borrel en kook nie. Salig gelukkig in ons onkunde. Alles was reg soos dit was, ons voel veilig in die hande van ’n bekwame regering. Dinge was goedkoop en omtrent almal het goed geleef, behalwe natuurlik die armste swart mense. Petrol was spotgoedkoop en ek kon oral rondry met my Mini, tot ek moeg word van ry. En die paaie en strate was stiller en veiliger as vandag. Oor die algemeen in 'n beter toestand ook.
Mettertyd het dit moeiliker geraak om die ontevrede swartes weg te steek en die hewige wêreldwye kritiek te ignoreer. Maar dít is ’n treurige verhaal vir ’n ander dag.
Tiens

