Bonnie Tyler het destyds ’n liedjie opgeneem met die titel “Holding out for a hero” en as puriste my sal verskoon, was die eerste strofe iets soos: “Where have all the good men gone and where are all the gods?” Toe dink ek …
Op die ou Springbok Radio was daar in die sewentigs en selfs ’n bietjie later, ’n middagverhaal met “Staal Burger”. Die verhaal het parmantige politieke booswigte, byname van Fideljy Kastrol, Vasvat Arrarat, Moegman Kadaffi en ander, op ’n gereelde basis en met die ondersteuning van geheime agent K.O.O.S, goed vasgevat.
Op die groot witdoek in destydse Bellville se Mini-Cini by die Boston Hotel, kon jy twee flieke oor die middag-uur vir 75sent kyk. Die een fliek was amper sonder uitsondering ’n James Bond-prent. Die slegte ouens was altyd met die Russiese KGB, Oos-Duitsers of sulke gesketsde misdadigers en gevare vir die mensdom deurmekaar. Die goeie ouen(s) was Britte - 007. Behalwe natuurlik die een ou, “Felix Leiter”, die Amerikaanse CIA-geheimeagent wie dan-en-wan vir James moes help. In kort, die goeie ouens was goed en die slegte ouens was sleg en almal het geweet wie is wie. Beide hierdie herinneringsvlugte is dalk verwyderd van die werklikheid, of dan ten minste ’n growwe oordrywing daarvan, maar ongeag, was daar tog aanklank by die wêreld soos ons dit toe geken het.
Dit bring my terug by Bonnie se liedjie.
In die maande en onlangse jare het die laaste van die geswore westerse aartsvyande geval. Manne sonder inbors uit dorre lande. Terwyl ek die gedagtegang onlangs aan vriende se etenstafel getoets het, het dit gegroei tot die besef dat ons nie meer die “vyand” kan eien nie. Hierdie eertydse vyande van die beskaafde wêreld, met die uitsondering van die verre Ooste se een of twee ekonomies bemagtigde diktators, is almal gestroop van hul landsbestuur en vervang deur ’n “oorgangsraad” of iets dergeliks. Natuurlik met die hulp van die sogenaamde ontwikkelde wêreld. Amper vergelykbaar met ’n goddelike ingryping in die herstel van vryheid, menseregte en –waardigheid. Maar was dit?
Die Weste se naam- en gesiglose “helde” het gekom en meestal gegaan. Daar is nie ’n James Bond of ’n Staal Burger nie.
Uit die gerief van hul beveiligde kwartiere, het die oppergesag se soldate bereik wat hulle moes. Terwyl die mense dans en “vryheid” vier, is daar ’n nuwe gesiglose groepering wat hul strategies geposisioneer het om die parlementsgeboue en –forte in te stap en oor te vat. Hierdie nuwe leiers is nie helde nie, hulle is nie bekende openbare figure nie, nee, hulle is deur hul “bewegings vir demokratiese verandering” daargestel. Bewegings wie se dieper grondslag en groter doel moontlik vêr verwyderd is van die mense se verwagtinge of vooruitsigte. Die Ingelse het ’n sê-ding wat selfs hulle partykeer vergeet: “rather the devil you know, than the one you don’t …”
My gedagtes oor hierdie onderwerp en gebeure mag miskien eenorig klink en sommige mense mag dalk vra: “wat sou jy dan as alternatief voorstel?” Ongelukkig het ek nie ’n besliste antwoord daarop nie. Wat ek wel weet, is dit: Khadafi se lewelose bebloede gesig is nie ’n bewys van ’n helde-oomblik van landsbevryding en goddelike ingryping nie, maar wel van die begin van ’n nuwe onbekende era wat ander eise gaan stel. Eise waarvan die Weste kan probeer wegstap, maar ongelukkig nie onbepaald sal kan vermy nie. Nuwe regimes wat die hand mag byt wat dit gister gevoed het.
Bonnie was op ’n vreemde manier, meer reg as wat sy bedoel het ... “Holding out for a Hero”
Hennie Fritz

