Kaarte is my swak - nie speelkaarte nie, maar gekarteerde areas. Om plekname en gedagtes op die rekenaar se soekenjin in te tik en die plastiekmuis ’n klikkie te gee, is die toppunt van (skoon, eerlike) plesier op kantoor!!!
So tik ek vanoggend die ou familieplaas se naam in en, kliek, kliek; skielik hang ek bo die kranse en klowe waar die ou grond was. Dis ’n ongelooflike skouspel om die rotsstapels so van bo af te sien; om vir die heel eerste maal te sien hoe lyk die top van die berg wat lewenslank oor die plaas getroon het. Die grond behoort nou aan ander mense, maar hier, op my rekenaarskerm, behoort ék weer. Nog ’n klik op die skerm en die wind suis by my ore verby – af, grond toe. Ek talm op die rand van ’n afgrond; duik laer om die los klippe te beskou en lag hardop: Ek het nooit tot híér geklim nie! Dan sweef ek laer, kliek, kliek, tot by die klipplaat waar ons in die vlak water gespeel het. Nou kan ek die spruit se loop volg tot daar onder om die draai sonder dat oumagrootjie van die wal af waarsku dat ons tog moet pasop. Die wilgebome is nie meer daar nie, maar die rotse is en ek rus teen hulle vir ’n wyle. Daar is nuwe landerye geploeg en waar is die ou woonhuis?
Hoe gaan die lewe so gou by mens verby! Ek probeer alles onthou van kleintyd by oumagrootjie op die plaas, maar onthou net die reuk van Cobra-politoer op die blink gevryfde houtvloere en die honderde vinkneste in die bome agter die huis. Wat ’n gejil en gekwetter was dit nie altyd wanneer die vinkmannetjies hul kieskeurige wyfies probeer tevrede stel het met hul bouvernuf nie; net om al kwetterend van vooraf te begin wanneer sy sy trotse aanbieding vir die soveelste maal uitmekaar ruk.
Die skerm raak wasig en ek besef dis trane wat alles so dof maak. Nee, nie trane van hartseer oor ek oud geword het nie, maar trane oor die onthou van mooi in my lewe, oor liefde onbegrens van mense wat naby die aarde en God gelewe het. En oor die mooi en grootsheid van hierdie God se skepping wat Hy so mildelik oor my uitgestort het. En oor ek dit alles kan ervaar en herken – op ’n rekenaarskerm; sonder om fisies daar te wees.
Toe ek daar tussen die klowe rondgehardloop en gespeel het en uiteindelik weggetrek en my heil elders gaan soek het, het ek maar grondlangs gelewe. Vandag, skielik - op kantoor; kry ek die geheelbeeld van wat aan my skenk was. Die trane is warm op my wange en ek proe die soutigheid op my lippe en ek lag nog harder, want my hart is vol. Vol van die verlang, maar ook vol van onthou en ek dink skielik aan God se woorde tydens die Skepping: “... En God het gesien dat dit goed was. Dit was aand en dit was môre ...”
Ek is nou in die laatmiddag van my lewe en ek sien dit wat was, was goed. Ook wanneer die nuwe dag breek sal dit goed wees. Ek sien dit op my rekenaarskerm: En dis goed.
Anna

