In die middel van die drieweke in Julie is daar op 'n Vrydagaand gedans. In die skuur.
Ouma (aan moederskant) het die "volk" al Woensdag die skuur laat skoonmaak. Donderdag is emmers vol vars beesmis met water gemeng en is die sementvloer van die skuur daarmee uitge-"bruin". Verbasend hoe heerlik vars dit daar in die skuur geruik het.
Oupa met konsertina, Oom Jaap met kitaar en Oom Piet "Coesee", bekfluitjie en viool. Dan dans die grootmense dat die stof letterlik staan.
Nie vandag se "smart" Boeremusiek soos deur Ollie Viljoen-hulle nie. Nie die soort wat jy met 'n donkerpak en strikdas in 'n saal aanhoor nie, nee lekker losgat en laf. Die settees en wals, jy hoor dit min. Die Vyf,-en drie, -en Namakwalander-orkeste kom die naaste daaraan.
Met tussenposes word die stofmis in die kele met regte egte selfgegiste vaaljapie, afkomstig van die wingerde onder langs die Olifantsrivier, afgespoel.
Hulle is nie nou meer daar nie. Plase is verkoop, kinders het geërf en als deur die gat getrek, ander ouens verbou nou wyn.
Groetnis
Raed-na-Gael


Kommentaar
Die grootste ramp wat ons klomp kon tref was die ontdekking van goud en diamante. Nou moet hulle nog net aardgas iewers ontdek en ons is dan heeltemal in ons moer.
Ek was al in my lewe op gawe troues gewees. Een van die beste troues was in die Bethal-stadsaal. Daar was 'n orkes wat gespeel het wat die manne wat voor die kroeg tougestaan het, laat omdraai om te gaan dans, ek inkluis. Ek was ook al op 'n troue waar die kitaarspeler so gesuip was dat hy van die verhoog af gemoer het. By 'n ander troue in Zoeloeland het die kragopwekker sonder diesel gaan staan en al wat man is gehol om die tenk vol te maak sodat daar waar gedans kan word.