Nostalgie ... 2 nie hieroor of daaroor nie, sommer maar net

  • 0

Hulle wou dit nie waag om die langpad in die laat vyftigs met die kar na oupa Gys (aan moederskant ), toe te vat nie.

Om en by 11:00 die oggend het die stoomloko op pad na Bitterfontein, in Koekenaap se stasie ingetrek. Dit was die Julie-skoolvakansie, so was daar ander perdekarvervoer ook. Die bagasie is agterop, net agter die houtbankie waar ma en pa en oupa sit, gelaai met ons kinners wat tussen die bagasie sit-lê-ende rondval.

Ek onthou die twee groot wiele, die twee bruin perde. Kiertsregop staan ek tussen pa en oupa en kyk oor die perde vorentoe. Hulle was op 'n egalige draf, met die lang paal hier tussen hulle wat hierdie kant-en daardie kant toe ruk-en-pluk. Die perde wat hul koppe links en regs effens draai, oplig en dan vorentoe kyk, al drawende, ritmies.

Stert oplig en tot groot vermaak poep. Stert oplig en die hele grondpad vol drolle los. "Oupa, sal die paal nie loskom nie?”
"Nee my kind, hiert jy, kyk net hoe lekker trek hulle".

Oupa trap die lang toue hier voor op die kant vas, "Kyk, hulle gaan self huis toe." Sowaar, by die afdraaipad draai hulle self links, op die nou plaaspaadjie tot voor die opstal waar oupa iets sê en hulle gaan staan.

Jare later in st 7/ 8 skryf die Afrikaans-onderwyser twee woorde op die swartbord. 'Versnaperinge en klopdisselboom'. Skryf 'n opstel daaroor. Ons is stomgeslaan. Nog nooit van sulke "jawbreakers" gehoor nie. Hy verduidelik en ek verstaan.

Seker een van die laastes van my geslag dorpsjapies wat 'klopdisselboom' fisies beleef het.

Groetnis

Raed-na-Gael

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top