Noam Chomsky

  • 3

Hierdie brief het oorspronklik op 3 Februarie 2015 verskyn.

Google sy naam, en hy word beskryf as linguis, filosoof, wetenskaplike, politikus, logikus, revolusionis, en selfs ’n anargis. Dis veral op die gebied van die linguistiek dat hy bekendheid verwerf het.

Net soos Charles Darwin se evolusionêre teorie die wêreld en die wetenskap geskok het, so het Chomsky die linguistiekwêreld geskok met sy taalteorie. Soos wat Darwin vanaf 1859 tot hede skerp kritiek ontvang het van kundiges en veral onkundiges omdat sy teorie die Bybel verkeerd bewys, so moes Chomsky vir ’n kort tydjie deurloop onder die kritiek van kundiges wat nie ’n snars verstaan het waaroor sy taalteorie gaan nie.

Vir vyf-en-veertig jaar het Chomsky ’n kantoor gehad by MIT se departement van Linguistiek en Filosofie, en vanaf ongeveer 1960 was hy die maatstaf vir wetenskaplikes en taalkundiges. Dit was asof hy met die publikasie van sy eerste boek gesê het dit is hoe dinge moet wees, en almal, veral diegene wat tale bestudeer het, moes maar daarby aanpas.

Alle mense het ’n universele grammatika, het hy gesê, en hierdie UG wat ’n stel reëls is, kan die sintaksis van elke taal op aarde genereer. Dit beteken dat alle tale basies dieselfde is, met unieke verskille van elke taal. Vir Chomsky is sintaktiese struktuur die kern van menslike taal en sy universele grammatika vorm die basis van alle linguistiese studies en grammatikas tot op hede.

In 2005 het hy die by Morris Simposium te Stony Brook, gepraat oor die evolusie van taal, en kort hierna is hy uitgewys as die wêreld se top intellektueel, met Umberto Eco tweede en Richard Dawkins in die derde plek. Die Britse tydskrif, Prospect, het nog die uitslag gepubliseer nadat 20,000 kiesers in Amerika en Engeland gestem het. Groot lof is hom toegeswaai, en iemand het hom nog vergelyk met die kind wat dit uitgewys het dat die keiser poedelnakend is. Wat almal verbaas het, is sy skielike siening oor die evolusie van taal, want vir jare het hy dit as onnodig beskou om te ondersoek.

As ek weer oor hom skryf, sal dit wees oor die rol wat hy in die linguistiek gespeel het.

Angus

 

  • 3

Kommentaar

  • Pieter Redelinghuys

    Beste Angus,

    Dankie vir jou artikel oor Noam Chomsky, en dat jy die naam van hierdie intellektuele reus onder die aandag bring van 'n leserskorps wat hom liewer sou wou ignoreer soos in die gevalle van Darwin en Richard Dawkins. Die man is 'n vooraanstaande kritikus van die buitelandse beleid van die VSA en Israel, en 'n balk in die oog van die Washington politieke establishment. Reeds vroeg in sy loopbaan het hy betoog teen Amerika se oorlog in Vi'ënam.  In 1967 het hy die voorwoord geskryf vir die "Reports from the Sessions of the International War Crimes Tribunal" van  Bertrand Russell, 'n tribunaal byeengeroep in Stockholm in Mei 1967, en Roskilde Denemarke in November 1967, om getuienis aan te hoor oor oorlogsmisdade van die VSA in Viëtnam. Betrokke by hierdie verhore was ander heavy weights soos Jean-Paul Sartre wat die inleidende rede gevoer het.

    As mens na die waarheid soek van die werklike wêreld waarin ons leef, agter die rookskerms en leuens waarin ons daagliks aan blootgestel word, is Chomsky die man om te lees.

    Beste groete,

    Pieter Redelinghuys 

     

     

  • Beste Pieter,

    Dankie vir hierdie inligting oor Noam Chomsky. Hoe lyk dit met so 'n paar artikels oor hom vanuit 'n ander oogpunt? Dit sal werklik interessant wees. 
     
    Groete,
    Angus
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top