Noam Chomsky (2)

  • 1

Die meeste linguiste het nog maar altyd, as hulle grammatika van ? taal skryf, staat gemaak op hulle eie kennis van die taal, en ook op hulle aantekeninge as hulle na gesprekke luister. Daar was egter ook ? ander groep wat bekend was as veldlinguiste, wat die ongekaarte weë van die wêreld bewandel het, en gaan woon het tussen mense wat onbekende tale gepraat het. Hulle het dan die vreemde taal aangeleer sonder woordeboek of enige hulpmiddel. Nadat hulle die taal baasgeraak het, het hulle ? hele katalogus saamgestel van al die verskillende klanke. Daarna het hulle gewoonlik ? woordeboek saamgestel, en daarna het hulle uitgewerk hoe die verskillende woordsoorte aanmekaar skakel. Daarna is dit vergelyk met ander tale se struktuur, en na herhaalde rangskikking en herrangskikking, het hulle dan ? verstaanbare grammatika vir die taal geskep.

In 1951 dien Chomsky ? grammatika vir Hebreeus by MIT in as tesis vir sy meestersgraad. Intussen werk hy ook aan ? yslike manuskrip, getiteld The Logical Structure of Linguistc Theory. Een hoofstuk hiervan dien hy in as tesis vir die PhD-graad, maar dit was so anders as die tipiese wyse waarop linguiste werk, dat die akademici wat dit gelees het, nie geweet het wat om daarmee aan te vang nie. Pleks van ? taal te neem en die struktuur daarvan te ontleed, het hy verskillende maniere bespreek hoe ? taal ontleed kan word.

Nadat hy sy doktorsgraad ontvang het, het hy deeltyds by die Elektronikadepartement by MIT gewerk. Die pot moes hy verder aan die kook hou met klasse in Duits, Frans, Logika en sommer ook Filosofie. Intussen het hy darem, gelukkig vir ons sterflinge, ? “vereenvoudigde” Syntactic Structures geskryf. Hierin beskryf en bespreek hy die grammatika van tale heel anders as waaraan gewoond was. In plek van instruksies oor hoe woorde verbind, redeneer hy dat ? grammatika eintlik die teorie van daardie taal is.

Die teorie van tale moet in dieselfde lig gesien word as wetenskaplike teorieë. Dit moet soveel as moontlik in so min as moontlik woorde verduidelik op so ? eenvoudige manier as moontlik.
Waar grammatikas voorheen lank en uitgerek was, het Chomsky se grammatika taal geteleskopeer in ? stel reëls. Soos wat die programmatuur op ? rekenaar ? hele program kan genereer, so kan hierdie stel reëls ? volledige taal genereer, en daarom staan dit bekend as Generatiewe Grammatika. Elke sin van enige taal het twee frasestrukture: ? dieptestruktuur en ? oppervlaktestruktuur. Laasgenoemde kom van eersgenoemde deur ? proses van transformasie. Daarom word dit ook Transformasionele grammatika genoem.

Alles het nog kalm verloop, veral omdat hierdie vreemde siening van die grammatika nog nie so baie aandag geniet het nie. Spoedig sou sake egter verander, maar dit vir volgende keer.

Angus

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top