Ek het eers van Mandela gehoor toe ek meer as my deel vir PW en Seuns gaan doen het.
Soos in elke verhaal is daar 'n boef, 'n held en goeie of slegte einde. Ek wil nie die man ophemel of afkraak nie. Ek is nie by magte om dit te doen nie. Ek respekteer hom vir wat hy was en waarvoor hy gestaan het. Ek wil ook nie stories aandra oor wat mense van hom sou gesê het wat hom geken het of opgepas het of iemand wat iemand ken wat dit of dat van die mens te sê het nie.
My gewaarwording van die man was dat hy beslis charisma gehad het. Ek kan nie uitsprake maak oor sy intellek nie, want ek het hom nooit ontmoet nie. Hy het beslis 'n aanhang wêreldwyd gehad. Hy het vir miljoene mense 'n ikoniese status gehad en was baie se bevryder. Ek bevraagteken egter sy staatsmanskap. Daardeur sê ek nie dat hy nie 'n goeie leier was nie, maar dat hy almal wou tevrede stel. 'n Goeie staatsman maak gewilde en ongewilde besluite. Die vergewensgesindheid van die man was ook prysenswaardig, wie sal nie wees met die vooruitsigte dat jy vir die res van jou lewe in weelde gaan leef nie.
Ek vra myself die vraag, wat sou gebeur het indien Mandela sou gesê het, te moer met die blankes en nie geweld "afgesweer" het nie. Wat sou gebeur het indien die vorige regering nie besluit het om te "onderhandel/boedel oor te gee" nie. Voor die "wonderwerk" van 94 was ek met verskeie regeringslui noord van die Limpopo in gesprek. Telkemale is dit aan my genoem, hoekom gee julle toe. Julle is in beheer en onderhandel uit 'n posisie van mag. Goed ek sal ook nie wou sien dat dit met ons moes gebeur wat in daardie lande gebeur het nie. Burgeroorlog is nie speletjies nie. In Angola het dit byna 25 jaar aangehou.
Ek vra ook wat is Mandela se nalatenskap? 'n Bevryde bevolking? Antwoord op baie se gebede? Beter vooruitsigte/toekoms? Ek weet nie. Ek kan dit nie antwoord nie.
Wat die realiteit is wat die mense in die gesig staar is, waarheen nou. Wat moet ons in die toekoms doen om te verseker dat ons nie weer terugval nie. Ek sien, en ek is nie van aard negatief nie, moeilike tye wat op ons wag. Mag sy siel rus vind. Hy kon nie op water loop nie.
Ek is bevrees, Mandela se nalatenskap gaan saam met hom begrawe word.
Reusedwerg


Kommentaar
Beste Reusedwerg, 'n mens verwag sekerlik nie dat die massamedia jou anders sou inlig en dat jy wel sou kon weet nie ... 'n mens verwag ook nie dat 'n ieder en elk die moeite moet doen om hulself behoorlik in te lig nie ... dis maar die hel in die lewe en die voorreg van die mag van die dag om met jou kop te smokkel, nes met dié van die stille meerderheid ... dis net mal mense wat die heeltyd dieselfde ding doen en 'n ander resultaat verwag ... die omstandighede vir swart en wit armes vandag in hierdie land, is die direkte gevolg en nalatenskap van Nelson Mandela - net die korpokrasie maak steeds hul profyt in hierdie land! ... Nelson Mandela was wel ook net 'n mens en daarom bid ek ook dat Jesus Christus onse HERE sy siel genadig sal wees, maar glo my gerus: MAG NELSON MANDELA SE ERFINIS SAAM MET HOM BEGRAWE WORD! ... en o ja, kom ons geniet hierdie laaste bietjie vryheid van spraak want ek het pas verneem dat onse Prez, die omstrede inligtingswet onderteken het!... so eersdaags weet jy nog minder ... Boeregroete, Cornelius Henn
Ek rig aanhoudend skrywes aan RSG met die versoek: "Noem asseblief vir die luisteraars wat die nalatenskap van Nelson Mandela is en al wat jy hoor is 'Vryheid' 'Versoening' en 'Vergifnis"
My vraag is [1] Wie is vry van wat?; [2] Wie moet met wie oor wat versoen?; en [3] 'Wie moet wie oor wat vergewe? en is almal die gehangde Messias om sondes te kan vergewe? Het mense die reg en die mag? As dit waar sou kon wees, dan kan almal mos almal vergewe en sal almal hemel toe gaan, maar Openbaring vertel 'n direk teenstrydige storie: "Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad. Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen." Nou wat nou? Waar pas die nalatenskap van Mandela in die prentjie? dit lyk vir my hulle, en dis die Vryheidsvegters, was en is almal wetteloos en sal dit nie in die hemel maak nie! So wat is die nalatenskap nou regtig?