'n Ope brief aan Beeld

  • 7

Geagte Redakteur

Beeld se kunsblad het breedvoerig berig oor die pas afgelope Tsjechof-fees in Johannesburg. In die rolprent An Artist’s Story wat daarop vertoon is, laat die Russiese skrywer sy hoofkarakter (Monsieur N op Engels), ’n skilder van landskappe, ’n paar dinge oor die kunste sê.

In die tyd voor die Russiese rewolusie moet die ure der ure wat die handarbeiders vir die aristokrasie werk verminder word sodat hulle tyd kan hê om te dink, want dit is wat die mens van die dier onderskei, sê hy. Die doel van kuns is dat die mens moet kan kyk, kan dink en dan probeer verstaan.

Dit is wat mense soos Thys Odendaal, Paul Boekkooi, Johan Myburg en baie ander met die kunsblad vermag het. Om die insig, kennis en gravitas van sulke mense, wat boonop dikwels poëties verwoord word, op die brandstapel te sit, is om Afrikaans en sy lesers te beroof. Durf ’n mens sulke vaardighede, wat uitstaan in Suid-Afrika en ook op enige oorsese forum nie sou terugdeins nie, verlore laat gaan? Grondige kennis oor spesialisvelde word nie oornag verwerf nie. Myburg se insig en deurdagte redakteurshand is ’n onmeetbare verlies vir die Beeld-leser.

Dat die koerant se finansies onder beleg is, kan ’n mens begryp. Of die opoffer van die kunsblad die oplossing daarvoor is, is te betwyfel.

Dat daar net geld in die populêre is, is die gesang wat al vir jare aan ons voorgehou word. Wat was eerste, die hoender of die eier? Onder Amerikaanse invloed het plaaslike mediabase hulle oor dekades daarop toegelê om enigiets met iets om die lyf verdag te maak. Eers water ons stelselmatig alles af, en dan is dit ’n selfvervullende profesie dat mense dom geword het en nie uitgedaag wil word nie.

Dat leserstalle krimp, is nie die verbasende nie; dit is die oorsake wat daarvoor gesoek word, wat ’n mens verwonderd laat staan. Een voorbeeld: Het Beeld ’n benul van hoeveel argwaan die al hoe skamer weergawe van By op ’n Saterdag onder lesers gewek het?

Ek wil u daaraan herinner dat daar ’n tyd was toe Van Wyk Louw se aristokratiese ideaal nagestreef is. Daar was ’n tyd toe letterkundiges Huisgenoot se bladsye volgeskryf het. In 1876 het SJ du Toit en die res van GRA-manne Die Patriot en veel later Ons Klyntji die lig laat sien. Dit in die eerste plek kultuurgoed en kuns wat die Afrikaanse leser geskep het.

Om Beeld se kunsblad te sluit of te laat verword, is nie net ’n verkeerde besluit nie. Dit is verkeerdom ook, en teen die grein van wat Afrikaans nog altyd was, en wil wees.

Dit is ’n kortsigtige oplossing vir ’n probleem wat veel dieper as die ooglopende lê.

Vriendelike groete
Carié Maas
Johannesburg

  • 7

Kommentaar

  • Avatar
    Herman Lategan

    Ek stem saam met jou, maar miskien, net miskien, as Afrikaners ophou kla oor hoe "swak" die Afrikaanse pers is, soos hulle gereeld op Sondae op Facebook doen, en miskien as hulle die moeite doen om die koerante te koop en nie verniet op die Net te lees nie, miskien dan kan ons koerante gered word. Maar ek twyfel. Prepare yourself for the end of the Afrikaans printed press, it is nigh. 

  • Ja, ek kan ook nie insien hoe Beeld sal kan bly bestaan as die Kunsblad verdwyn nie. Dis omtrent al wat nog geloofwaardigheid aan die koerant verleen. Verdomming is een ding. Ek soek na 'n woord wat die teenoorgestelde van ''verfyning" beteken. Verbrutalisering? Daarvan is daar reeds heeltemal te veel blyke in Beeld - ek dink maar aan 'n paar onlangse voorblad- en ander berigte, waarin dikwels weerlose mense meedoënloos vir sensasie uitgebuit is.

    'n Koerant wat sy lesers onderskat, en geen ag slaan op hul menswaardigheid nie, dwing niemand se respek af nie.

    Ek wonder soms wat dink Beeld se redaksie van sy lesers? Sien hulle dan op Afrikaanse mense neer? Reken hulle ons moet maar sonder geestesgoedere en genuanseerde denke klaarkom?

  • Avatar
    George Bekker

    Carié Maas maak 'n belangrike punt oor die By. Nie so lank gelede nie was hierdie bylaag besig om Afrikaners positief te stimuleer tot denke en die stukkie wat oorgebly het stem tot pessimisme.

    Herman, as bydraer tot Media24-publikasies probeer sake ook in die regte rigting stuur, maar om af te sluit met: "Prepare yourself for the end of the Afrikaans printed press, it is nigh." laat my wonder oor alles in Afrikaans. Hy kan dit net so duidelik gestel het met: "Berei julleself voor op die einde van Afrikaanse gedrukte publikasies, want ons is amper by daardie punt."

    Met Marie se kommentaar kan ek net onderskryf. Die onderskatting van lesers se intelligensie en smaak is 'n (belangrike) faktor.

  • Avatar
    André Coetzee

    Dis hartseersake, die (moontlike) sluiting van Beeld se kunsbladsy(e).  Die Burger het kunssake reeds tot een bladsy verminder. En hul ombudsman wat darem sake op die brieweblad kosher gehou het en van tyd tot tyd deurdagte kommentaar oor sake van die dag gelewer het, moes ook totsiens sê - sonder 'n verklaring! 

     

  • Avatar
    Breyten Breytenbach

    Baie van ons, om watter rede dan ook, kry Afrikaanse koerante slegs in elektroniese vorm te lees. (En daarmee saam, of mens wil of nie, die walglike spuwing van haatspraak en onnoselheid in die 'kommentare' wat die papieruitgawe leser gespaar word.) 'n Eerste punt wat gemaak moet word is watter plesier dit is om darem Herman Lategan se bydraes te kan lees. Bravo en dankie, Herman!

     
    Punt twee, wat herhaaldelik hierbo duidelik gemaak word is daar al hoe meer 'n 'vergrowwing' in die koerante se beriggewing en aanbieding kom, en 'n selfvervullende 'verdomming'. Dit spreek waarskynlik van die base se sinisme en opportunisme, en die feit dat hulle - soos dit maar altyd hulle gebruik was - hulle besluite op outoritêre manier maak (en aanvaar dat Mammon die enigste god is wat deur almal in Bekkersdal aanbid word), en hulle stewige en welgevoede agterwêrelde afvee aan die 'normale' gemiddelde leser se versugting. 
     
    Punt drie: Dit komende van instansies (die Afrikaanse media) wat hulle bestaansdoel gekry het van die verwagting dat hulle as voogde van 'n geskiedenis van veg om 'n eie taal die stryd om onafhanklike denke en die verryking van diversiteit sou nastreef, en nie net aanvaar dat hulle eens en vir altyd die Afrikaners se kapitaal (ook die kulturele kapitaal) gegee is om daarmee te maak wat hulle wil nie! (En daardie "maak wat hulle wil" het Naspers se aandeelhouders stinkryk gemaak, en dalk 'n paar Chinese of ander Latyns-Amerikaanse geldvrate hêppie ook.)
     
    Punt vier: Dit gaan niks help om te bly hoop dat hulle van streep gaan verander nie. Die bietjie 'kuns' of selfs 'literatuur' wat oorbly in hulle blaaie lewe op geleende genade. Dis tyd om sélf alternatiewe aan die gang te kry en hulle speelgoed weg te vat.
     
    Breyten Breytenbach
        
  • Avatar
    Dominique Botha

    Ek beaam Carié Maas se kommentaar. 'n Koerant is nie 'n steenkoolmyn nie, daar behoort ander oorwegings en ideale te wees bo en behalwe wins. Die hart van die koerant word uitgepluk, maar hierdie is helaas 'n wêreldwye verskynsel. Koerante is aan uitsterf, en hulle base ook. Die vyand is die digitale barbare en die al-hoe-onnoseler zeitgeist. Om die woorde van Harold Bloom aan te haal, ons jaag soos lemmings om massa intellektuele selfmoord te pleeg in die groot grys oseaan van die internet. Net oppervlak en geen diepte. Om te dink dat Eugène Marais vir die Huisgenoot geskryf het.  Nou word waarde deur Kim Kardashian se sitvlak bepaal (bygesê, ek self is 'n gretige leser van al hierdie twak). Veral nou dat Afrikaans terug kombuis toe gejaag word moet ons Carié se woorde onthou, "Dit in die eerste plek kultuurgoed en kuns wat die Afrikaanse leser geskep het."   Herman, I suspect the end is nigh for all printed press, maar dit beteken nie dat mens nie 'n vurige ondersteuner van 'n verlore saak moet wees nie. Alles van waarde is weerloos, dit was nog altyd so en sal altyd so wees.

  • Ek verstaan nie hoekom almal kwaad is nie. As die mense nie meer soveel geld maak soos tevore nie wat op aarde gemaak? Soveel mense koop nie meer koerante nie en ek is vir hulle bitter jammer as hulle maandeliks moet sien hoe hulle getalle daal. Dit kos hulle seker 'n fortuin aan drukkersink en arbeid om die bylae gedruk te kry. Dit is ook nie almal wat op die kunste ingestel is nie. Mens kan eintlik sien hoe joernaliste begin neerslagtig word. Al hoe meer foute sluip in - definitief nie net in die Afrikaanse pers nie. Ek sou sê die Engelse koerante maak nog meer foute. Dis die verloop van ons tyd. TV se tyd gaan self vinnig nou verby. Elkeen sit maar met sy elektroniese speelding van sy smaak in sy hand. Ondergang is 'n verskriklike toestand en ek vermoed as hierdie mense nie iewers sny nie, maak hulle dit dalk nie. Ek het simpatie met die papierkoerantwese.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top