My vriend Piet (L P )

  • 0

Ek het hom via 'n vriend van 'n vriend van 'n vriend se familiekennis geleer ken. Via die selfoon. Want iemand het vir hom my nommer gegee en dat hier werk is om gedoen te word en te min hanne. Ek antwoord die Appel en jy weet mos hoe dit gaan as die stem klink soos destyds se Camel-advertensie, of was dit nou Winston? Nietemin, sigarette en hul advertensies is nou uit die bose en almal is dood aan een of ander vorm van kanker of ander siekte wat nog 'n naam moet kry.

As jy Piet se stem hoor sal jy, as jy van nature vroulik is, dadelik verlief raak en as jy nie is nie sal jy hou van wat jy hoor. Soos ek beduie het: jy hoor sommer die Camel-man in lewende lywe. So beduie Piet vir my dat hy my gaan kry daar waar ons die goeters uit die see probeer verkwansel. By die mark. Ek kyk oor hom want Piet issie groot nie. Dis nie dat mens verby die kleiner mense kyk nie, dis net bloot: jy kyk mos maar eers vir die groter ou of, wel, vrou. Bloot omdat hulle meer geraas kan maak op die oog af.

Nietemin: Toe Piet sy bek oopmaak toe luister ek, en wou net hê hy moenie ophou praat nie. Stem so mooi soos, mmmmm, nie noodwendig Pavarotti nie maar wel soos die dude op die Camel-advertensie. Of was dit nou die ou Mainstay-advertensie? Ek wetie meer nie.

Piet beduie vir my dat hy gatvol is van waiter wees want hy is keelvol vir ryk vroutjies en hul geite. "En jy weet hoe is hierdie ryk Knysna crowd...." Vir hul mans is hy nie so gatvol nie want hulle beursies is ten minste dik en hoe later na die maal hoe groter is die tip. Beduie Piet my. En so begin ons werk en Piet is net klein van postuur want Piet is eintlik 'n groot man van aansien en Piet ken almal. Letterlik.

Tot die dag, jare later, wat Piet vir my beduie hy het ""the love of my life" herontmoet. Ek vra nie uit nie en Piet volunteer sommer self: Hy het haar uit agt rehabs uitgehaal en elke keer versorg tot sy aan die samelewing se norme kon voldoen en tot sy by die kantien verbygestap het en net nie die versoeking kon weerstaan nie. Ek vra hom in hoeveel rehabs hy was en hy beduie vir my dat ek moet dop gooi want hy is nog op pad na sy eie genesing. En ek gooi, want soms moet mens die duiwel wees. Iemand moet.

Ek maak die klop in die nanag oop en dis Piet se liefde van sy lewe. Sy beduie sy moet praat want sy het iets wat swaar op haar hart weeg. Sy kyk my bottel Napoleon aan asof sy 'n verhouding met hom beplan en ek beduie vir haar dat daai Napoleon my en Napoleon se saak is en ek gooi vir haar 'n goedkoop ek-en-djy (black and white). Sy sluk hom af soos Oros en toe sien ek die dametjie is nie hier vir geselskap soek nie. My gedagte is nog nie eens verder as die ys in die glas nie toe beduie sy vir my oor Piet. Sy vra of ek al saam met Piet gepiepie het en ek beduie haar dat ek laas toe PW en kie nog oor my geheers het saam met manne gepiepie het en ek’s nog nie dronk genoeg om regtig sinvol op haar vraag te reageer nie, toe beduie sy vir my dat ek moet.

Want Piet issie 'n man nie beduie sy my. Geslagsverandering ondergaan baie jare terug, blykbaar. Ek beduie haar na my deur toe want in my huis word daar nie sleg gepraat van my vriende nie en sy sluk die whiskey af asof dit water is en sy slinger na haar afgeleefde Japannese stuk gedrog toe en ek hoor later iemand het haar halfnaak huis toe vergesel.

Piet kom dae later en verskoning aanbied vir die liefde van sy lewe se gedrag en ek beduie vir Piet dat sy baie lelik gepraat het van hom en dat, as sy nie 'n vrou was nie, ek haar heel waarskynlik goed sou gemoer het en sommer self die polisie sou gebel het om my en haar te kom arresteer.

Piet beduie vir my dat dit goed was ek het nie die goeie Skotse waters oor die spreekwoordelike godsakker laat loop het nie. Sy was verkeerd, maar sy was nie verkeerd nie ... En toe, vir die eerste keer in baie jare bekyk ek toe werklik die man. En dit maak toe in elk geval nie saak nie, want Piet is steeds Piet, ongeag wie wat gedoen het met hom.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top