My lewe, my skrewe

  • 2

Ek het onlangs ’n boek gelees wat gehandel het oor hierdie spesifieke vraag. “Wat staan in jou lewensboek?” Dit het my diep denkend gelaat en die vraag laat ontstaan oor hoe kwesbaar die lewe eintlik is en waarheen die paadjie eintlik lei of wanneer dit sy einde gaan bereik. Dit het dan ook my  denke gestimuleer en die vraag verder laat ontstaan van wat is beter, om te weet of nie te weet nie? 

Eerstens dan om te weet, sal derglike dinge tot gevolg hê  soos “ hoeveel tyd?” en  “wat moet ek in daardie tyd doen?” Veronderstel dus dat daar een maand oor is. Wat moet  in daardie maand gedoen word? Die voorbereidingswerk wat getref moet word voordat die lewenstryd verby is.

 Sodoende vergelyk ek dit met ’n reuse biblioteek waarvan die rakke volgepak is van boeke. Jou boeke. Elke boek met n tema wat ’n insident in jou lewe verteenwoordig. Jy staan tussen al daardie lewensboeke en jy moet hulle almal deurgaan om jouself te vergewis dat  die einde van elke boek reg geskrywe is en volledig afgesluit is.

 Daar is boeke wat jy die inhoud liewer nie wil lees nie want jy weet intuïtief dat die slotparagraaf nie klaar geskryf is nie en dat daar nog skryfwerk nodig is. Dan is daar ook die besef dat as daardie paragraaf nie geskryf word nie, sal die boek nooit toegemaak kan word nie; bly dit onafgehandel, en so dan begin jy lees en kom tot die slotsom dat hierdie boek eenkant toe moet gaan en gefinaliseer moet word.

 So pak jy dan twee hopies, die afgehandelde boeke met titels soos “Liefde”, “Toegewydheid”, “Uitreiking” al die mooi dinge wat aangename leesstof uitmaak teenoor die onafgehandelde minder aangename boeke. My geestesoog vertel my dat die minder aangename boeke, heel bo op die rak, agter die ander verskuil is en dus vol spinnerakke en stof is omdat dit liewer vergete moet bly. Hierdie boeke het  titels soos “onvergewensgesindheid”, “bitterheid”, “onverwerkte pyn” en  “vrees”

Hierdie is rillers en nie volledig afgehandel deur die skrywer nie. Nou word jy skielik die outeur van jou eie publikasie. Jy kom te staan teenoor onafgehandelde slot paragrawe en dit neig jou tot n naarstiglike gesoek na die oplossing sodat jy die boek kan toemaak! Jy vind dat die een hopie boeke nogal groter is as die ander en vind uit dat die “onafgehandelde” boeke die meerderheid verteenwoordig. Hoe nou gemaak? Die tyd is min en die skryfwerk baie. Waar om te begin is die vraag wat jy jouself af vra.

 Jou hand strek onwillekeurig uit na die boek “Onvergewensgesindheid” en jy begin weer te lees. Skielik weet jy dat daar werk is om te doen aan hierdie boek wat al die ander oorskry. Een vir een blaai jy deur die boek en dan begin jy deur vry te spreek, die een persoon na die ander.  Nogal heelwat, dink jy, maar soos jy deur dit werk, word dit al hoe makliker en as jy by die laaste bladsy kom, kyk jy verstommend om jou rond. Toe die slotparagraaf geskryf is, en jy jou handtekening onderaan gemaak het, het die ander boeke verdwyn. Dit bestaan nie meer nie! Die vergewensgesindheid/bitterheid wat jy dan geopenbaar het teenoor ander en dinge wat met jou gebeur het, het tot gevolg gehad dat “vrees” verdwyn het, so ook dan “pyn” en “haat” en al daardie hope boeke wat direk verband gehou het met jou onvermoë om te vergewe en vry te spreek!

 Nou staan jy op en die biblioteek is netjies gepak en vol  aangename leesstof geliasseer onder jou naam, geteken en afgesluit. Jy het dan spreekwoordelik die “las” wat jy soveel jare met jou saamgedra het, van jou rug afgehaal en ervaar dan die gevoel van vryheid. ’n Wonderlik gevoel om jou voor te berei vir die oorgang van hier na daar.

Dit is die “genade” tydperk wat “om te weet wanneer” en voorbereiding behels. In teenstelling dan vergelyk ek dit met die “nie weet” aspek van die dood en besef dat dit ons nie beskore is om te weet nie en daarom is dit so belangrik om elke dag te leef, vol uit maar om jou boeke aangename leesstof te maak. Boeke wat elke keer afgehandel is en pryk op n boekrak waar ander dit kan lees en daaruit die lewensvreugde kan put wat jy geniet het. Die afsluiting van elke hoofstuk op die lewenspad met jou handtekening aan die einde. Boeke wat ruik na lewe, wat n aangename geur versprei in die biblioteek en versier is met die prag van kleur en grasie, uitgestal op die voorste rakke en n fees vir die oog. Dan as die tyd aanbreek wat plotseling kan geskied, weet jy verseker dat jou lewensboeke in orde is, eerlik geskryf en volledig beëindig .

 Dit was vir my nogal ontstellend om sulke gedagtes te koester want ek het geweet dat daar baie seer is in hierdie biblioteek van my en daarteenoor was daar boeke wat ek toegesluit het met yster slotte en nou kan ek nie onthou waar die sleutels is nie! 

Dit neig mens om na die sleutels te gaan soek wat diep verband hou met die oorsprong van die titel van die boek en sodoende te begin grawe totdat jy by die wortels uitkom wat ook baie diep begrawe is. Die wortels wat jou dan wys waar dit alles begin het en hoe jy dit toegelaat het om te groei deur dit te koester, water te gee en sodoende die wortel of te wel die ondier begin voed het. Daardeur het die “ondier” wat jy gedurig gevoed het, die sentrale senuwee stelsel van jou liggaam vergiftig, jou denke vertroebel en selfbeeld geskaad en dan ook het dit nooit versadig geraak nie. Want hoe groter die “ondier” hoe meer voedsel het hy nodig! En so groei dit soos n kanker en veroorsaak alle soorte van vertakkings wat dan ook weer voedsel nodig het, soos onvergewensgesindheid, n groot ondier, met sy sytakke van bitterheid, vrees”, “haat”, “slegte selfbeeld”, depressie en dan ook “selfmoord” en hulle moet daagliks gevoed word en watse kos gee ons hulle? Negatiewe gedagtes is nogal 'n belangrike kossoort en dan ook “vervloeking” van ander tesame met “leuens”, “wantroue”, “oordeel”, “losbandigheid”, “nyd”, ”valsheid” en so baie meer, maar elkeen vorm sy eie klein vertakking en die wag weer op sy beurt om gevoed te word.

So ter afsluiting weereens is ek dit eens dat in stede van om jou kosbare, kwesbare lewenswandel te ontsier en te verkort met die “vertroeteling” van jou self ontwerpte “ondier” se eetlus, hoekom nie  liewer begin om jou biblioteek uit te sorteer en dan te gaan soek na jou sleutels en sodoende die stank van die doodsbeendere te vervang met die “geur” van die lewe, jou boeke netjies te gaan organiseer en jou biblioteek reg te kry sodat ander jou aangenaam sal vind en jou sal onthou as ’n lewensskrywer van formaat met boeke wat getuig van ’n volwaardige lewenswandel.

  • 2

Kommentaar

  • Mmmm Nikki - gesonde gees huisves gesonde liggaam. Ek stem. "Healing begins with sanctification of the heart" 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top