Ons seun en sy nuwe vrou koop 'n woonplek. Alles goed en wel. Die huis is amper volledig. Al wat kort is 'n hond. Die kat is reeds huismak. Hulle kom een aand met die nuwe toevoeging tot die familie kuier. Die Spanjoelteef is glad nie opgetrek met die nuwe gas in die huis nie. Die toevoegsel is 'n drie maand oue Rottweiler.
Hulle vra of die nuwe lid by ons kan bly terwyl hulle met verlof is. Die Spanjoel is erg moerig oor die storie en karnuffel die Rottweiler 'n paar keer.
So vier maande later kom hulle een dag 'n draai by ons maak. Die Rottweiler kom saam. Ek skrik my as af toe ek die gedierte uit die kar sien klim. Die Spanjoel is summier onder die bed in. Die Rottweiler is 'n rustelose erg besige en aandagvergende gedierte. Los niks en niemand met vrede nie. Tot my groot pret en plesier bekruip die Rottweiler jou van agter af, druk sy kop tussen jou bene en probeer jou dan optel. Hy kan my nie optel nie maar die vroumense wat kuier dop hy tot my vermaak gemaklik om. Ek en die Rottweiler wat toe as Inja gedoop is, raak tot die blonde Spanjoelteef se ontsteltenis, groot vrinne. Inja kom gereeld kuier en slaap dan partykeer ook oor. Die hele buurt weet wanneer hy by ons is, want net een hond blaf so in die nagtelike ure. Op 'n dag kry ons slegte nuus. Die kinders trek. Ken ek nie iemand wat die hond wil erf nie. Ek bel rond en een van my vrinne se vrinne se vrou soek 'n hond. Hy werk in Irak en sy soek 'n hond. Ons gaan laai Inja toe daar af. Hy snuffel rond en maak dadelik vriende met die kinders. Ek kry deurlopende terugvoer oor sy welstand en wat hy aanvang.
Ons trek ook en op 'n dag kry ek 'n oproep van die vriend van my se vrou. Sy wil my net oor Inja opdateer. Een dag kom daar 'n vriend van die mense waar die hond is en die ou oortuig die vrou dat hy Inja sal ruil vir 'n ander hond. Hy woon op 'n plaas en hy soek 'n groot hond. Inja word toe plaashond. Hy was nie lank op die plaas nie kom een van die boer se vriende wat 'n polisieman daar aan. Hy sien Inja en rokkel die hond van die boer af. Volgens die boer kon hy ook nie huishou met die hond nie. Sy vertel my toe dat Inja nou in die Polisiediens is. Hy is een van die hoofhonde wat gebruik word om lyke en dwelms uit te snuffel. Inja is blykbaar 'n sersant of so iets.
Ons almal is toe heel verheug dat die Rottweiler toe nou rigting in die lewe gekry het. Hy was net te erg. Ek is nie 'n kenner van Rottweilers nie, maar die gedierte het lyk vir my gene van 'n Jack Russel, Foksterriër en skaaphond ingehad. Soos genoem het hy niks en niemand ontsien en met rus en vrede gelaat nie.
Reusedwerg

