My eerste keer

  • 1

Verbrand my geheue
en skeur my klere
want flussies kuier hier,
die verlede se eerste kere ...

Oom CP van der Merwe roep luidkeels “kom roer jou stêrre” en die lot van ons skaapdruk die saaltjie op Jonkershoek binne. Dis tyd vir die Vrydagaand saamsing en kenmekaar. So sit ons toe – skoolgroepie by skoolgroepie. Die DF Malanners se seuns saam en dogters eenkant – die Milnertonse skoonhede ( ‘skuus dogters ) en die seuns eenkant saam – so was dit. Oom CP laat ons die eerste lied sing terwyl hier skuins voor in die saal, ’n juffrou sukkel om die klavier te laat byhou; ons juffrou het kitaar gespeel.

“Nee, stop!”, gil Oom CP so halfpad deur ’n lied. “Dit kan nie so werk nie. Julle seuns in die tweede ry, skuif hier tussen die dogters in die voorste ry in. Julle daar in die rye agtertoe ...” ek kan nie veel meer onthou nie. Ons vyf vriende het tussen die Milnerton-meisies skamerig ingeskuif en aan my regterkant het sy verskyn – die mooiste mens wat ek in 16-jaar ontmoet het en selfs nog effens mooier, net omdat sy met mý wou praat. Ek weet die volgende lied was “Catch a falling star” en toe “Bachelor Boy” en toe ... toe is hierdie afrikanerseun verlief. Vir die eerste keer.

Elke Februarie vandat ek aan die Landsdiens behoort het, was daar ’n interskole kamp by Jonkershoek buite Stellenbosch. En elke jaar het die meeste van ons vriende saamgegaan. Soos dit maar in ons groepie was, het net een ou gewoonlik ’n meisie hier ontmoet en vir ’n paar weke na die kampnaweek was hy ernstig “gekys”. Beginnende natuurlik, wanneer sy haar telefoonnommer vir hom gegee het en dit was gewoonlik net voor die trein uit Bellville stasie vertrek het. Laat op die Sondagmiddag het hulle ons Bellvilliete dan starend op die stasie gelos.

Net ingeval daar enige onsekerheid is – in die aanloopjare was die meisie-maatjie-makery my egter nooit beskore nie. Moontlik omdat ek minder op die meisies en muisneste en meer op speel ingestel was. Tot hier in Februarie 1984, toe was hierdie 16-jarige mater heel eerste met die “kys”.

Na die aand se baie lekker singery en ontmoetery is ons storte en tente toe. Hier het ek blykbaar soos ’n kat wat pas ’n kas Parmalat geskenk gekry het, gesit en staar. Die ander manne het op hul beddens gaan spring en begin grappe maak en lekkers en biltong uithaal. Ek wou nie eet nie. Ek wou nie grappe maak nie. Ek wou net lê en verlang. Verlang na môre-oggend ... wanneer sy daar oor die groot groen grasperk aangeswewe sal kom.

“Sakkie, wat’s fout met jou?” het Ivan gevra, en al wat ek kon doen was om op te sit, die manne in die oë te kyk met die wasigste van glimlagte en van die papiertjie in my hand voor te lees: “Renate S....... (ons hou maar die res stil, veral aangesien ek nog tot onlangs hul huistelefoonnommer kon onthou! )

Die res van die naweek was lekkerder as enige lekker wat ek as seun vir my binneste kon gedroom het. Ek het gelukkig geen detail herinnering nie. Al wat bybly is die lag en gesels en handvashou en lag en gesels en ... en Sondag. Hier teen die begin van die erediens Sondagmôre, toe hang daar ’n swaarmoedigheid soos mis die hele vallei vol. ’n Klomp van die jonger mede-kampers wat nog nie geslaap het nie, sit rooi-oog doof soos ’n laatnag-uil vir die dominee en staar. Die ander eerste of soveelste liefdevinders, wel, ons het net gesit en gedink aan die afskeid. “Ag vader, kan die dag dan nie bietjie langer wees nie; sal die bus- en treinbestuurders nie almal verslaap nie? Gaan ons mekaar ooit weer sien?” Hoe, waar – ai, dit was net te veel emosie en vrae om oor te dink.

Toe daai betydse trein Bellville-stasie binne hol, klim daar ’n klomp bewerige kinders van die trein af. Sommige se bene en die res van ons se onderlip. My hart se punt het al met die stawe langs tot by haar hand in die treinwa gerek. Tevergeefs. By die huis moes Moeder kom troos, want die eersteliefdetrane het stil maar vryelik gevloei. Skielik was die jongman weer ’n seuntjie voor die toeklapdeur van die liefde.

Hierdie eerste hartseer wou ek nie weer ervaar nie en met die uitsondering van ’n omgekeerde eerste keer later jare, was dit genadiglik die enigste keer.

Hennie Fritz

Naskrif:
Net vir dié wat sou wou weet: Haar pa het blykbaar geen sin in seuns met 50cc-motorfietse gehad nie – dus, hoe anders sou ek in Bloubergstrand kon gaan kuier? Liefde doodgebore !

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top