Mense in die strate

  • 0

Ek sit vanoggend onder 'n boom in my karretjie en wag. In die huis langs my is 'n vriend besig om 'n ou oom te help was en aantrek en as hy klaar is met die oom, neem ek hom huis toe.

Dis een van die ou dele van Port Elizabeth, waar van die huise sommer direk op die sypaadjie uitgaan. Voor my, op die hoek oorkant die straat is 'n restourant in een van die ou huise. Mense sit op die hoë stoep by rowwe ou houttafeltjies, die stoep gaan om die hoek en op in die straat.

Enkele motors ry verby, ander kom parkeer of trek weg. Twee karwagte, 'n lang maer een met 'n woeste wit baard en 'n kort maere, probeer geld verdien deur parkeerplekke aan te wys of mense met handgebare te help uitry uit moeilike parkeersituasies. Van die motors is luukse viertrekwaens, daar is Mercedesse, BMW's en selfs 'n Porsche. Ander is maar gewone motortjies soos my Uno.

Mense loop hier rond. Party klim uit hul motors en stap restourant toe, ander loop sommer verby, dalk na die kafeetjie op die ander hoek agter my, en aan die ander kant van die straat. Daar is mooi jong mense, jong vrouens met stywe broeke en oulike boude, gesinne met opgeskote kinders, middeljariges en bejaardes. Een gesette vrou stap met die straat op met vier honde aan leibande, twee ou groot honde en twee Jack Russels.

Ek wonder wat in al die mense se gedagtes aangaan. Mens kan nie in 'n ander se hart en siel sien nie, maar ek vermoed ons, die mensdom, is maar baie eenders en dink aan dieselfde dinge. Party van die meisies sal dalk loop en wonder of hul kêrels hul nog lief het, of hulle die mans kan vertrou. Party dink aan gisteraand se seks, 'n jong man mag met begeerte na sy meisie kyk en dink hoe gaan hy haar weer gou in die bed kry.

Ander het dalk bekommernisse. Sal hulle finansieel die mas opkom? Sal die kinders darem goed vaar met die skooleksamens? Een middeljarige vrou sal dalk wonder oor die knaende pyn oor haar maag wat telkens terugkom - is dit dalk kanker?

Die meeste lyk egter heel vrolik en sien seker uit na die ete by die restourant. Die kinders geniet die uitstappie met hul ouers.

So is dit 'n bonte mengelmoes van mense in 'n verskeidenheid vrolike en somber gekleurde kleredrag. Elkeen met sy eie gedagtes, elkeen met sy eie missie, en so het elkeen van ons 'n bestemming ook - waar gaan jy wees oor tien, twintig jaar van nou af?

Maar die oggendlug is aangenaam koel met net 'n ligte windjie wat die blare roer. Laat ons nou maar vir eers vrolik en rustig wees.

Groete,

Tiens Pretorius

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top