Mens hou nooit op hiermee nie

  • 0

Weereens besig met die dooies ... Vandag 'n graf moes oopmaak vir nog iemand wat vir die eerste keer doodgaan. Die ou man kom eergister hier in en beduie die munisipaliteit het hom aanbeveel dat hy moet kom vra hierlangs. Want sy vrou is dood en hy wil haar nie sommer net in die los grond bêre nie. Hulle het hom beduie dat ons outjies weet hoe om mense op die regte manier weg te bêre. Snaaks genoeg is die graf 'n ou graf wat ons juis vir iemand anders gemaak het 'n jaar of sewe terug. Klaar uitgebou en gepleister met betonblaaie vir die eerste ene wat moet in. Nege voet dubbelgraf. Want daar moet nog iemand bo-op lê.

Die ou man het loop kyk en hy beduie dat hy tevrede is met waar sy vrou gaan lê. Die mense was nie verkeerd nie beduie hy en ek aanvaar die kompliment en beduie hom dat ons mooi sal kyk dat daar nie kluite op haar kis sal val nie, want ons doen nie die kluite op die kis ding nie. Ons praat oor ruikers en dergelike goete en ek beduie hom dat ek maar die beton slabs solank sal maak vir ingeval hy ook wegstap van ons lewendes. Hy lag en beduie dat daar nog baie spring in sy stap is. Ek beduie hom dat ek nie dink of hoop dat hy binne die volgende twee jaar sal gaan nie maar mens moet reg wees vir die dood. As hy wel binne twee jaar gaan moet ons vir hom 'n ander graf uitbou want jy maak nie vars grafte oop nie. Mens moet wag vir die stof om tot stof terug te gaan en die miere hulle wegdra-werk te laat doen. Hy lag en sê hy het nooit so daaraan gedink nie.

Omdat hy 'n cool dude en 'n waardige man is beduie ek hom dat die graf op my is. Hy kan maar betaal oor so 'n maand wat hy dink ons arbeid werd was. Hy vind dit vreemd dat ons so operate. Ek beduie hom dat mens nie veronderstel is om geld te maak uit ander se hartseer of leed nie. Hy het dit so verstaan.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top