... was (is? Ek sien hom nie meer op die rakke nie) ’n uitstekende satiriese tydskrif, vir hulle is daar geen groter plesier as om heilige koeie te slag nie. Een van hulle gereelde plasings was onder die opskrif “Scenes we’d like to see” en dit was dan tipies ’n ander (meer logiese) weergawe van bekende toneeltjies, gebeurtenisse, ens.
Wat sou hulle nie gemaak het met die verkiesinkoeitjies op RSG nie.
Heilige-koei-toneeltjie 1: Die omroepster, in ’n gewyde stem (jy sien eintlik ’n stralekrans om jou radio) vra die inbeller wat 20 jaar van demokrasie vir hom beteken het. Die inbeller, in ’n ewe gewyde stem, raak liries en praat ’n klomp twak.
Hier is MM se raker weergawe (name is om verstaanbare redes verander):
Omroepster: En wat beteken 20 jaar van demokrasie van jou?
Inbeller 1: Amorrei, net mooi four call. Eers is bevordering van my weerhou weens regstellende aksie en nie lank daarna nie is ek skoon uit my werk uit weens einste regstellende aksie. My dogter is saam met haar man Australië toe en my seun en sy vrou sit in Amerika oor die werkskaarste hier. Ek sien net my kleinkinders op foto’s en as hulle vir hulle oupa skryf is dit Engels. Dis verskriklik.
Inbeller 2: Amorrei, net mooi four call. Om die waarheid te sê minder as niks. Ek is op universiteit en, alhoewel ’n Afrikaanse universiteit, is al my klasse in Engels. Ook is die koshuis nie meer wat dit was nie; al ons huisvergaderings moet nou in Engels wees en die van ons wat van sepies hou kan dit nie meer kyk nie want die TV-kamer is oorgeneem deur Engelse studente wat inskakel op swart stasies. Dis verskriklik.
Inbeller 3: Amorrei net mooi four call. Ek is ’n boer en kan net nie verder boer weens die grondeise nie. Hoe kan ek geld spandeer as ek nie weet of ek oor 6 maande nog die plaas gaan hê nie? My buurman is vermoor op sy plaas en as gevolg hiervan leef my gesin in angs. Dis verskriklik.
Heilige-koei-toneeltjie 2: Die omroepster, in ’n gewyde stem (jy sien eintlik ’n stralekrans om jou radio) vra die oorsese inbeller (wat reeds gestem het) hoe hy gevoel het toe hy sy kruisie getrek het. Die inbeller, in ’n ewe gewyde stem, raak liries en praat ’n klomp twak.
Hier is MM se raker weergawe (name is om verstaanbare redes verander):
Omroepster: En hoe het jy gevoel toe jy jou kruisie trek?
Inbeller 1: Amorrei, baie hartseer want dit is juis hierdie nuutverworfde stem wat tot gevolg gehad het dat ek nou moet geld verdien in ’n ander land.
Inbeller 2: Amorrei baie hartseer want al waarvoor my stem eintlik goed is, is om die regerende party ’n teken te gee. Tot sover het dit nog net mooi niks gehelp nie; slaggate en misdaad neem toe en dienslewering neem af. Van ’94 tot nou het die toestand van sleg verander na haglik en ondraaglik.
Daar is nog baie voorbeelde maar dis genoeg vir eers.
Jan Rap

