Lizzy en die melktert

  • 0

Baie mense het al vir Lizzy gesien en bitter min mense het haar al ooit gesien. Want Lizzy is net 'n paar bakstene hoog. Dun armpies en bene. Stap soggens as ek en jy nog lê en poep snuif reeds ver op pad werk toe. Vir jare al. Stille klein mensie wat nog nooit in haar ganse lewe 'n vlieg skade aangedoen het nie. Stil is relatief, want Saterdag gaan jy beslis stil bly as sy praat, nè?

Werk Dinsdag en Donderdag om 'n lui afgetrede predikant se luukse aftreehuis skoon te hou. Stap soggens en elke dag, tensy afgetrede predikant genoeg brandstof in sy luukse Mercedes Benz het die kilometers na die luukse plekkie by die see toe. Sy het my al dikwels beduie dat sy verkies om te stap want dan kan sy darem 'n draai by die kantien maak om 'n otter (dis 'n tweeman kannetjie Oom Tas) te koop. Ons het dus 'n reëling dat ek maar vir haar 'n otter byderhand hou vir ingeval die predikant die dag kans sien om aan te dring om haar huis toe te vat. Dan moet sy vir die eyeblind maar hier gestop word vir 'n pakkie suiker of meel.

Lizzy het 'n gewoonte om met elke groetslag haar kaal gums te kou en as sy beduie het hier by die deur: "Is julle nog almal hier?" Dan herkou sy haar woorde. Lizzy het mos (en ek het jare terug beduie van haar huwelik) toe maar vir Mannetjie (ek wonder steeds oor die naam want hy het arms soos boomstompe van harde plaaswerk vir min lone) gevat en mekaar in die huwelik begewe. Ek wonder dikwels wie nou eintlik die vrawerk gedoen het want die ene is nog jonk en ek vermoed jeukerig en die ander ene herkou maar so aan die gums as jy haar beginne uitvra. Kyk jou so met 'n ver opkyk want die brilglase is so dik soos die outydse vergrootglase waarmee ons destyds prentjies op hout gebrand het. Regte John Lennon brille goedgunstiglik geskenk deur ander mense as die besorgde predikant wie se huis sy moet skoonhou twee, soms driemaal per week.

Nietemin: Lizzy is deel van my familie en ek het haar hartseer en glimlagte gedeel en sy het my die een dag gevra dat ek vir haar van daardie melkterte waarvoor ons al berug begin word het, te hou. Regte outydse melktert met skilferdeeg en geen kaneel en ander goeters wat nou ewe skielik die mode is nie.

"Jy kom hom Saterdag haal of die hel haal vir jou! Ek gaan nie weer melktert uithou om dit vir die honne te voer nie hoor jy my?"
"Man, ek sal hier omkom. Jy weet ek moet eers die otter loop haal voor ek hier omkom."

Ek hou haar melktert want ek ken vir Lizzy en ek weet sy is nie soos die res van die mense wat belowe en nooit opdaag nie. Ek was nie die Saterdag hier nie want ek moet mark doen maar ek het gehoor Lizzy was nie kapabel genoeg nie en Mannetjie het maar namens haar die ding kom haal. Want haar woord is haar woord al lê sy iewers op pad huis toe salig.

So raak die week twee weke en Mannetjie sukkel dikarms hier in. Ek vra hom hoe daai melktert geproe het en hy beduie my hy weet geen sout of water van enige melktert nie. Hy het vir Lizzy uiteindelik by die huis besorg en haar melktert het hy neergesit en baie bekyk maar: "Djy ken haar mos, as ek 'n hap gevat het sou ek nou met blou oë hier ingekom het." En ek knik saam. Dis waar ja, jy sou.

Mannetjie beduie dat hy die volgende oggend net die melktert gesien het en vir Lizzy gesien het waar sy haar op die drumpel tuisgemaak het...

"Sy het so op haar sigselwers daardie hele melktert gesit en opeet. Ek wou nog 'n stukkie vra toe is die hele ding weg en toe beduie sy my dat ek van die vla kan kry wat sy aangemaak het."

Lizzy kom vanmiddag hier in en beduie dat ek tog weer 'n melktert vir haar moet uithou. Ek hou my dom en vra of ek nie maar vir haar twee kan uithou nie (want Mannetjie kyk lankoog as sy begin wegval), net ingeval. Sy kyk my aan asof ek seniel is:

"Sien djy plek in hierdie kleine liggaam vir twee van daai goed?"

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top