Hierdie week was weer een van daai baklei-weke. Die mense wil nie betaal nie en die mense wil nie gehoor gee nie. Die mense raak moeilik en die mense raak kwaad. Die mense gil en sê lelike dinge en die mense wil hulself laat geld, ensovoort en so aan. Die dag se dinge storm met die gemoed diekanttoe en spring dan weer daaikanttoe.
Toe onthou ek die waar woorde wat ’n slimmer-as-ek-ou eendag gesê het: stop, wag, dink ... en toe weet ek; hierdie week gaan afgesluit word in die kalmte van gees, die koelte van ’n industriële kantoor en die deel van ’n stukkie waarheid.
Een dag, lank-lank gelede was daar ’n hoofman wat van die een dorp na 'n ander dorp saam met 'n paar van sy stamlede gestap het. Dit was voor die tyd van fietse, karre, minibus-taxi’s en treine. Aangesien ek die storie vertel en alle hoofmanne nie altyd ryk hoef te wees nie, was donkies, perde en waens ongelukkig buite hierdie stammetjie se geldelike vermoëns.
Terwyl hulle op reis was, deur vlaktes, vleie, heuwels, bosse en oor riviere, het hulle een middag by ’n meer aangekom. ’n Pragtige plek met skadubome en lieflike kort lekker-om-op-te-lê-gras. Die spulletjie besluit op die plek, om die draers af te saal en die middag daar te rus. Die hoofman, alhoewel arm, is hy steeds nie verlig nie, vra toe vir een van sy onderdane om vir hom 'n bietjie water by die dam te gaan skep.
Die gedienstige en gehoorsame stamlid loop toe tot by die meer. Daar aangekom, merk hy dat daar mense besig was om klere te was en op ’n deel van die meer, ’n entjie weg, is kinders wat modderkluite gooi. Net toe hy omdraai om ’n beter waterskepplek te soek, kom daar op daardie oomblik ’n man met sy perdewa aan die oorkant van die meer aan. Die wa-ryer stoot eenvoudig die perd se neus die meer in, en ry deur en oor.
As gevolg hiervan, borrel en bruis dit soos die hoewe die bodem tref en het die water baie modderig geword. Die ou dink toe, "Hoe kan ek hierdie modderige water vir my hoofman neem om te drink?"
Swaarmoedig en afgehaal, het hy toe maar teruggegaan en vir die hoofman gesê “Die water in die dam is baie modderig. Ek dink nie dit is geskik vir u om te drink nie.”
Na 'n ruk, het die hoofman dieselfde onderdaan weer gevra om terug te gaan na die meer en vir hom 'n bietjie water te gaan kry. Die gehoorsame ou het terug gestap na die meer toe. Hierdie keer het hy, tot sy verbasing, die water stil en helder gevind. Die wassers was weg, die kinders huis toe en die wa-en-perde het al by hul stal uitgespan. Die modderigheid het amper heeltemal verdwyn en die water was skoon. Rustig, het hy toe die houer met water gevul en vir sy hoofman geneem.
Die hoofman het stip na die helder skone water in sy hand gekyk; opgekyk, op na die waterdraer en gesê: “Wat het jy gedoen om die water so skoon te kry?”
Die ou was effens aangedaan en antwoord toe maar: “Niks, u agbare hoofman. Ek was vroeër daar en die water was vuil en troebel en alhoewel ek probeer het om slukkies skoonwater tussen die modderigheid op te vang en die modderstukke uit te skep, was dit steeds ondrinkbaar. Nou, met die teruggaan; toe is dit skoon”.
Vroeër in die week was daar ’n gestoei in die gemoed en die rekenaar se klawerbord moes die onheil daarvan weer dra. My geestespen wou vuur en nyd op die skerm uitspuug. Soms is dit nodig, maar meestal is dit oorbodig. Net soos die modderigheid in die water – hoe meer jy probeer om die modder uit te skep, hoe meer krap jy die water om; en storm al hoe meer modder na die oppervlakte. So is dit dan ook met ’n ou se gees / gedagtes / binneste - wanneer dit versteur word, is dit amper altyd die beste om dit net so ’n bietjie te laat staan.
Gee dit 'n lekseltjie tyd en die modder in die gemoed sal op sy eie afsak, gaan sit en helderheid na die oppervlakte terugbring.
Hennie Fritz


Kommentaar
Dit is die waarheid. Wyse gedagtes.