Die ander aand toe knussel ek en ons jongste voor die vermaak-kassie. Dít terwyl Leon Schuster se fliek van jare gelede weereens draai, so geniet ons tweetjies die soveelste poging tot Suid-Afrikaanse komedie.
Dit is seker die vierhonderdste keer dat die betaalkanaal dieselfde flieke laat draai en seker die vierhonderdste keer dat daar oomblikke is wat werklik snaaks is. Dit is tog eienaardig hoe sekere tonele net snaaks bly en ten spyte van die vaste uitkoms, ons tog stil en heimlik hoop dat ander tonele weer anders sal uitdraai!
Of, miskien is dit net ek.
Met die verloop van tyd en die soveelste herhaling van ’n kykding, begin mens egter later goeters opmerk wat die vervaardiger en regisseur moontlik nie eens in gedagte gehad het nie.
Goeters soos die sekuriteitswagte...
In hierdie mikroskopiese ekonomiese sfeer waarbinne ek bedags die spreekwoordelike sweet, in ’n poging om die brood, botter, groente en tjops op die tafel te sit, oor my voorgesig laat drup, het bykans elkeen van ons geboue wagte op perseel. Mense in blou of swart uitrusting wat die indruk van uniforms moet skep; mense wat kyk wie inkom en wie uitgaan. Die hele dorp is vol wagte.
Hulle staan die winkelsentrums en oppas, hulle staan by die deure van goewerment-geboue, hulle hang teen die deurrame van selfs die luukse mediese instellings rond. Binne of buite die bank se deur sal mens hulle ook kan kry. Hulle pas ons en die ander mense op. (Behalwe ons Poskantoor. Dié het nie ’n sigbare wag nie; moet wees omdat die plek dalk nie iets waardevol het om te steel nie.)
Uiteraard is daar baie standpunte en kenners wat van my mag verskil en weereens gaan ek beslis nou oor die growwe grondpadbulte van veralgemening struikel, maar die byltjie wat ek wil slyp, is ’n skop in die rigting van die sogenaamde sekuriteitswagtebedryf en nie die persone wat by die deur of die hek staan of sit of lê nie.
Terwyl ek gistermiddag vir ’n werknemer by ’n plaaslike hospitaal se ongevalle-afdeling gewag het, kon ek nie anders as om na die doen en late, of dan die skynbare gebrek daaraan, van hul deurwag op te let nie. Met die inkomslag is ons hier neffens hom verby sonder dat die man dit agtergekom het. Waar hy hang-sit-lê op ’n stoel met sy rug na die ingangsdeur, is daar min wat hom skynbaar skeel. Soos die besoekers en siekes inkom of uitgaan, strek hy sy arm, sonder om na die deur se kant toe te loer en druk die ding met sy vinger toe. Dit alles gebeur terwyl hy sy oë op die plat skerm teen die muur in die ontvangskamer gevestig hou! (Uit die glimlag om sy mondhoeke sou iemand maklik die afleiding kan maak dat dit moontlik sy gunsteling sepie kan wees; wie weet?)
’n Skurk of rower sal eers die TV moet afskakel, of ten minste die kanaal verander, voordat hy hierdie wagtende man se aandag sal trek.
Terwyl ek aan al die verkeerde gedagtes en afleiding uit die beelde in hierdie rolprent voor my dink, gryp die komiese waarde daarin my sommer ook vas. Ek dink toe weer aan Leon se flieke van ouds, daardie tonele waarin hy die grap met niksvermoedende omstanders skeer. Die arme manne van die vlakte duskant Kaapstad, wat onder die rooi baard en geraasbeheergas van onse Schuster-sekuriteitswag moes deurloop. In die werklikheidsdrama van vandag, sal die wag ten minste ’n C-gradering moet hê, met ’n radio, ’n intekenboek, ’n reëndigte waghokkie en middagete. Hy sal die hele Nuweland episode moes misloop, want dit is Saterdag en die treine was laat...
Teen die middel van elke maand, buig my rekenaar onder die gewig van klagtes wat ons huurders oor wagte instuur.
“Die wag was nie vanoggend op diens nie”; of “die wag was aan die slaap”; of “die hek staan die hele tyd oop”, of “die wag laat besoekers nie inteken nie” of my persoonlike gunsteling, gewoonlik meegedeel en ingestuur deur een van ons meer vroulike huurders, “die wag groet nie behoorlik nie”.
My dierbare werkende mense, die sekuriteitswagte wat ons geboue se hekke oppas is ook maar net mense. Die feilbaarheid van elke protestant, katoliek, calvinis of hindu is direk aan sy liggaamlike vermoëns gekoppel. Baie van hierdie wagte werk op die heel onderste van die voorgeskrewe vergoedingslyn. Teen die 15de van die maand is dit net stysel wat hulle aan die gang hou. Meeste van hulle moet elke dag vier ure op ’n pad tussen hul woonplek en werkplek bestee.
Die toenemende aantal wagte wat as invoerprodukte uit ander Afrikalande die stofpad hiernatoe gevind het, is bereid om meer as een skof per dag te werk. Hulle wil werk, want hulle het die geld nodig.
Ek weet van ’n geval waar die ou sy huis saam met sy vrou verloor het en toe vir ’n paar weke “aanmekaar” gewerk het; net omdat hy nêrens gehad het om heen te gaan nie!
Probeer daai een en dan laat weet ons mekaar hoe vriendelikheid die mas voor die druk van moegheid opgekom het...
Een van my gunsteling sekuriteitswag tonele uit ’n Schuster-vang-die-mense-fliek, was sekerlik destyds by die einste Nuweland gedurende die opwarming vir die 2010-se-aarbol-sokkerbol-eindrondte. Die jonges en andersdenkendes het raas-raas met hulle vuvuzelas, by die balspeelbaan aangekom, net om deur hierdie vermomde wag eenkant-toe getrek te word. Die vuvu-pyp se geraas vlak moes kwansuis gemeet word en as die ding té veel geraas maak, dan sny hy dit kamtig korter. Hier kon ons weereens sien, dat ongeag van die gevolge, onse jan- en sanpubliek gereed was om die draer van die boodskap en die toepasser van die reëls, goed te laat les opsê.
Ai, ou Schuster was darem maar ‘n lekker wag-nar. Ons het meer sulke wagte nodig.

